Ja, die pad van Jesus lei na glorie, maar eers deur die kruis
👤 Chris Wheeler
“Baie is lief vir Jesus, maar min is lief vir die kruis.”
Só het Thomas à Kempis dit gestel, en met reg. Wie wil nie die liefde, vrede en hoop hê wat Jesus bring nie? Maar wanneer daardie pad deur donkerte, deur pyn, deur lyding en selfverloëning loop – wanneer dit lei na Golgota – dan haak ons voete vas. Ons harte huiwer.
Dis makliker om by die opstanding te begin. Die lig, die vreugde, die leë graf. Ons hou van Opstandingsondag. Wie sou nie? Dis die hoop in volle blom. Maar as ons regtig wil verstaan wat Opstandingsondag beteken, moet ons eers Goeie Vrydag reg in die oë kyk.
Want dit is presies hier waar die hart van Paasfees lê. Hier, waar geloof werklik word. Hier, waar Jesus ons nie net red nie, maar ons vorm en ons innooi in die reis van gehoorsaamheid, selfs tot die dood toe.
Want die pad van Jesus lei na glorie, ja, maar eers deur die kruis.
Die pad wat Hy geloop het
Ons is in die laaste dae van Lydenstyd. ‘n Tyd waarin die kerk wêreldwyd stil raak om weer vars te kyk na die lewe en lyding van Jesus. Ons kyk na sy bediening wat kulmineer in een beslissende moment: die kruis. Maar ons mag nie net kyk en bewonder nie. Ons word genooi om te volg.
Op Goeie Vrydag kyk ons na die kruis. Nie as ‘n versiersel nie, nie as ‘n simboliese gebaar nie, maar as ‘n werklike martelwerktuig waarop ons Verlosser gehang het. Dit was pynlik, wreed, vernederend. Maar dit was ook nodig. Nodig omdat sonde ’n prys het. En ons kan daardie prys nie self betaal nie.
So, Jesus doen dit.
Hy dra die straf wat ons verdien het. Hy breek onder die las wat op ons moes lê. En toe Hy roep: “Dit is volbring,” toe bedoel Hy dit. Nie net dat sy lewe verby is nie, maar dat die werk klaar is. Die verlossingswerk is afgehandel. Die skuld is betaal. Die pad is oop.
Goeie Vrydag is goed… want dit is die dag waarop genade vir altyd geword het.

Die uitnodiging van Paasfees: Tel jou kruis op en kom saam
Jesus nooi jou en my om Hom te volg. Nie net tot in die tempel, waar mense juig nie. Maar tot op Golgota, waar daar stilte en pyn is. Want dis daar waar ons gevorm word. Daar waar ons ware identiteit in Christus begin wortelskiet.
Lukas 9:23 sê dit onomwonde: “As iemand agter My aan wil kom, laat hy homself verloën, sy kruis daagliks opneem en My volg.”
Ons volg Hom nie om verlossing te verdien nie – dít het Hy klaar bewerk. Ons volg Hom omdat ons wil wees soos Hy. Omdat ons gevorm wil word na sy beeld, soos ons gemeentevisie by Bellville-Vallei ook sê: “Ons wil gevorm word om aan die beeld van Christus gelyk te word.” Dan moet ons verstaan – daardie beeld is een van selfverloëning. Een van diens. Een van lyding.
En dit vra iets van ons: gehoorsaamheid, selfs as dit ongewild is. Liefde, selfs as dit nie teruggegee word nie. Getuienis, selfs as mense spot.
Dis maklik om Jesus met oorgawe te volg wanneer Hy brood vermeerder en storms stilmaak. Maar sal jy Hom volg wanneer Hy stil bly voor Pilatus? Sal jy Hom volg as die pad seer maak?
Die soort uitnodiging wat Petrus destyds op Palmsondag aanvaar het toe hy gesê het: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat lewe gee.”
So, wat nou?
Wat vra hierdie Paasfees van jou? Goeie Vrydag en die dae wat volg?
Dit vra dat jy sal stil raak. Dat jy sal kyk na Jesus se pad en nie net bewonder nie, maar besluit om dit ook te loop. Om ja te sê vir ‘n lewe van gehoorsaamheid, selfs al is dit moeilik. Want jy weet: daar is geen glorie sonder Golgota nie.
Jesus is nie net die Gekruisigde nie. Hy is die Opgestane. Die Koning van glorie. En dit is ons hoop. Want dieselfde belofte wat vir Hom waar geword het (dat God Hom sal verhef en vereer) is vir ons ook waar.
So ja, die pad van Jesus lei na glorie.
Maar nooit sonder die kruis nie.
Mag jy hierdie Paastyd stil raak by Goeie Vrydag…
en juig op Opstandingsondag.
Want die Lig het die duisternis oorwin.
Die kruis was nie die einde nie – dit was die deur.
En Jesus roep jou om agter Hom aan te kom, deur die kruis, tot die Lewe.
Amen.