Pieter van der Walt: ‘n Teoloog wat teologie leef
👤 DJ Muller
Na amper tien jaar as PSD vir Teologiese Navorsing en Opleiding het dr. Pieter van der Walt aan die einde van Julie 2025 afgetree – ‘n reis wat deur kollegas beskryf word as “intens, betekenisvol, met hoogte en laagtepunte, meestal baanbrekend van aard en nooit vervelig nie.”
Sy kollegas het op 24 Julie 2025 op Stellenbosch ‘n afskeidsgeleentheid vir Pieter gehou, waar daar hulde gebring is aan ‘n iemand wat nie net ‘n uitnemende teoloog is nie, maar iemand wat sy teologie ten volle beliggaam het en leef.

‘n Soort leierskap wat stilweg ‘n groot impak maak
Volgens Ankia du Plooy, wat saam met Pieter gewerk het, is hy “‘n anderste soort leier” wat nie nodig het om oor alles iets te sê en sy stempel op alles af te druk nie, maar een wat agter die skerms met groot insig probeer om die groter prentjie ten goede te help vorm.
Pieter se benadering tot leierskap word gekenmerk deur sy vermoë om konneksies te maak en mense en idees bymekaar uit te bring. Hy het die manier hoe sinodesittings gehou word vir altyd verander deur ‘n sisteem te ontwikkel waar sinodegangers in eie tyd kan deelneem en terugvoer kan kry.
Marnus Havenga het tydens sy toespraak beklemtoon dat Pieter nie net ‘n begaafde denker is wat belangrike teologiese werk in diens van die kerk kon lewer nie, maar iemand wat “teologies leef.”
“Lank voordat formele teologiese gesprekke sou plaasvind, of enige woorde op papier vasgelê sou word, het daar, wanneer dit by Pieter kom, reeds ‘teologie’ gebeur: sommer net deur sy teenwoordigheid, sy woorde en sy manier van doen,” het Marnus gesê.
Hierdie geleefde teologie kom tot uiting in hoe Pieter sy kollegas behandel, die deernis en omgee wat hy bewys, die bemagtigende leierskap wat hy bied, en hoe hy – te midde van ‘n byna “onmoontlike skedule” – altyd tyd maak vir koffie met mense, ongeag wie dit is.
Navorsing en publikasies wat die lig sien vanuit Clairvaux Skrywershuis
Onder Pieter se leiding het die Clairvaux Skrywershuis tot stand gekom – ‘n ruimte wat sedertdien as geboorteplek vir verskeie publikasies gedien het. Die afgelope paar jaar het waardevolle kerklike navorsing plaasgevind – projekte, mense en idees wat hy bemagtig, begelei en gevorm het.
As ‘n besondere erkenning van sy werk is ‘n boek getitel “Vrede kos meer as ‘n tuin” tydens die geleentheid bekendgestel. Dit was ‘n verrassing vir Pieter wat gereël was deur sy kollegas in Stellenbosch. Die boek, wat deur Clairvaux Skrywershuis uitgegee word, handel oor Pieter se werk onder bendelede in die Paarl – ‘n voorbeeld van sy geleefde teologie in aksie.

Trou in alle opsigte
Prof. Bram van de Beek, een van Pieter se mentors, het in ‘n nota oor hom geskryf dat hy, gegewe sy vaste geloof in God en God se getrouheid, self ‘trou’ is – “trou aan Heidi, trou aan sy kinders, trou aan die familie – en trou aan die kerk waarin hy in die bediening was.”
Bram het verder geskryf: “Dit getuig van moed en diep insig dat die NG Kerk hom aangestel het by die kuratorium van die teologiese opleiding, want dis die ding wat studente moet weet: die sekerheid van die vaste geloof in Christus en die trou aan die kerk met haar tradisie is die enigste wat oriëntasie gee in hierdie chaotiese wêreld.”
‘n Nuwe hoofstuk waarin teologie steeds geleef word
Pieter se nalatenskap lê nie net in die formele teologiese navorsing wat hy moontlik gemaak het nie, maar in die ruimtes wat hy geskep het waarin mense kon floreer, die konneksies wat hy gemaak het, en die manier waarop hy gewys het dat teologie nie net iets is wat geskryf en geleer word nie, maar iets wat geleef word in woord en daad.
Mag hierdie nuwe seisoen gevul wees met die soort betekenisvolle oomblikke wat hy altyd so hoog geag het – eenvoudige, eg menslike verbindings wat die hart voed en die gees versterk. Ons dank God vir die voorbeeld wat Pieter gestel het van hoe ‘n mens kan leef as teoloog wat sy geloof prakties uitleef, en ons bid dat sy invloed in die lewens wat hy geraak het, nog lank sal voortleef in die kerk wat hy so getrou gedien het.


