Podcast: Ouerskap – Lééf in besig wees

👤 DJ Muller

Ouers is superhelde. Hulle kan nie net “multiTASK” nie, maar is sommer ook iets in die lyn van “multiBEINGS”. In die loop van ‘n dag moet ouers polisiekonstabel, dokter, prokureur, regter, pastoor, finansiële adviseur en onderwyser wees.

Realiteit: Ouers het konstant ‘n hoed op en is iets vir iemand. Hul rolle wissel van konflikoplosser tot trooster, van mentor tot versorger, van beplanner tot besluitnemer. Hierdie veelsydige verantwoordelikhede vereis dat hulle voortdurend aanpas en wissel tussen verskillende take en rolle, dikwels binne minute van mekaar.

So min het hulle geleentheid om sommer net hulself te wees. Hierdie konstante inspanning is uitputtend, en kan maklik lei tot emosionele en fisiese uitputting. Selfs wanneer die huis stil raak en die kinders slaap, is daar steeds die ongeskrewe lys van take en bekommernisse wat in hul gedagtes bly draai. Hierdie druk om “altyd aan te wees”, om altyd beskikbaar te wees, kan ‘n groot tol eis op ouers se gesondheid en welstand.

Ouerskap verg eindelose geduld en deursettingsvermoë, en dikwels moet hulle hul eie behoeftes opsy skuif ter wille van hul kinders. Hierdie onselfsugtige toewyding maak ouers inderdaad superhelde, maar dit is belangrik dat hulle op ‘n manier terugploeg in hulself en weer “die emmers vol tap” om te verseker dat hulle self nie uitbrand nie.

In dié podcast gesels DJ Muller met dr Siegfried Louw oor hoe mens hieroor moet dink, want dit is belangrik dat ons nie nóg druk op ouers plaas omdat selfsorg ook ‘n “nog-iets-wat-ek-moet-doen” verpligting raak nie. Siegfried help ons om te verstaan hoe ons miskien net anders moet omgaan met ons besig-wees van elke dag.

Intro music copyright info: Words by Anita Renfroe/2007 Bluebonnet Hills Music

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Danicke se lewe is veel meer as haar diagnose

  • “Boys will be boys?” – Nee. Seuns, wees soos Jesus!

  • “Andrew gee nuwe blik op geskiedenis van die kerk.”