16 Dae van Aktivisme: Verweef en verantwoordelik

Kaapkerk Kommunikasie

Ons leef nie los van mekaar nie. Soos drade in ‘n groter tapisserie is ons stories, ons gemeenskappe en ons toekoms met mekaar verweef. Wanneer een mens se waardigheid aangetas word, wanneer een vrou in vrees leef of een kind nie veilig is nie, raak dit ons almal.

Van 25 November tot 10 Desember staan ons saam met mense wêreldwyd stil by die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders. Maar hierdie tydperk vra meer as bewusmaking. Dit vra dat ons eerlik sal nadink oor ons eie verantwoordelikheid, ons gemeenskappe se stilte sal deurbreek en ruimte sal skep vir gesprekke wat verandering moontlik maak.

As geloofsgemeenskap word ons geroep om nie bloot toeskouers te wees nie, maar draers van hoop, geregtigheid en menswaardigheid. Om raak te sien. Om te luister. Om op te staan. En om saam te bou aan ‘n wêreld waarin veiligheid en respek vir almal moontlik is.

Die Gendergeregtigheid Taakspan bied gedurende vanjaar se 16 Dae van Aktivisme die inisiatief *Verweef en verantwoordelik* aan.** Deur daaglikse oordenkings, bewusmaking, bemagtiging en geleenthede vir gesprek word ons genooi om saam te leer, saam te groei en saam verantwoordelikheid te neem.

Want 16 dae se bewusmaking behoort 365 dae se verantwoordelikheid te inspireer.

16 Dae van aktivisme

16 Dae van Aktivisme: Ons lywe. Ons land. Ons toekoms.

Soos drade wat saam ‘n groter geheel vorm, is ons lewens met mekaar verbind. Wat met een vrou, kind of mens gebeur, raak ons almal. Geweld is nie iemand anders se probleem, iemand anders se storie of iets wat agter geslote deure moet bly nie. Dit raak ons huise, ons strate, ons gemeenskappe en die toekoms wat ons saam bou.

Om verweef te wees, beteken dat ons nie kan wegkyk nie. Dit beteken dat ons mekaar se veiligheid beskerm, mekaar se stemme versterk en saam verantwoordelikheid neem om ‘n wêreld te skep waar elke mens veilig, gehoor en met waardigheid kan leef.

Die 16 Dae van Aktivisme is ‘n uitnodiging aan elkeen van ons om nie stil te bly nie. Om bewus te raak, om te luister, om op te staan vir dié wie se stemme nie gehoor word nie, en om deel te wees van die verandering wat ons graag in ons gemeenskappe wil sien.

Ons kan nie alleen alles verander nie, maar elke stem, elke gesprek en elke daad van omgee maak ‘n verskil.

So kan jy deel wees van hierdie 16 Dae van Aktivisme teen Vroue en Kinders-veldtog

Kom help ons om ‘n gemeenskap te bou waar veiligheid, waardigheid en respek nie ‘n voorreg is nie, maar ‘n werklikheid vir almal, want om geweld te beëindig, vra nie net 16 dae van bewusmaking nie… dit vra 365 dae van verantwoordelikheid.

Neem aan hierdie verltog deel deur die Gendergeregtigheid Taakspan te volg op Facebook vir daaglikse oordenkings, bewusmaking en bemagtigings.

Sluit ook gerus aan by die Gendergeregtigheid Leergemeenskap waar ons dieper oor hierdie sake dink en gesels deur die by die WhatsApp-groep aan te sluit:

Indien jy slegs wil saam reis tydens hierdie 16 Dae se veldtog en net die oordenkings en ander materiaal ontvang vir jouself of om aan te stuur, is jy welkom om aan te sluit by die eenrigting WhatsApp groep:

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: