Sendelinge onthou God se getrouheid, guns en genade
👤 Getuienisaksie
By die jaarlikse Waarderingsonthaal van Getuienisaksie, wat op Donderdag 11 September, by die NGK Strand-Noord gehou is, het oud-sendelinge, belangstellendes en vriende saam teruggekyk op die ryk geskiedenis van die Murray Teologiese Kollege in Zimbabwe. Die oggend is gekenmerk deur herinneringe, gesellige saamwees en die dankbare erkenning van God se getrouheid.

“Soos elke vorige jaar het ek oudergewoonte baie uitgesien na die Waarderingsonthaal wat jaarliks deur Getuienisaksie aangebied word vir sending-belangstellendes, oud-sendelinge, en iemand soos ek wat gebore is en grootgeword het op Morgenster in Zimbabwe,” vertel Marianna de Jager (née Brand).
Vir Marianna is hierdie byeenkomste vol genade – ’n plek waar herinneringe en stories kruis, en waar oud-sendelinge weer hoor hóé die Here Sy werk in Afrikalande laat voortgaan.
“Toe ek gehoor het dat vanjaar se program hoofsaaklik oor die eeufeesvieringe van die Morgenster Teologiese Skool in Zimbabwe gaan handel, het ek net eenvoudig geweet dat ek dit moes bywoon,” vertel sy entoesiasties.
Tydens die onthaal het dr Isabelle Murray en mev Susan Murray die gaste vertel van die gedenkboek Until the Morning Star Arises. Saam met dr Simbarashe Munamati, Huibrecht McDonald en ander medewerkers het hulle dié indrukwekkende 280-bladsy boek saamgestel ter viering van dié Kollege se 100-jaar mylpaal later vanjaar.
Die boek is propvol stories en herinneringe: sowat 230 historiese foto’s, die lewensverhale van al 13 prinsipale tussen 1925 en 2025, die verhaal van die Shona-Bybelvertaling, die rol van vroue in die kerk, die Copotakoor, uitreikspanne en die ervarings van huidige studente.
Vir Marianna is dit egter méér as net geskiedenis op papier.
“My oupa, A.A. Louw was trouens die stigter van die Mashonalandse Sending, terwyl my broer en sy vrou, André en Bineke Brand wat die derde geslag sendelinge was, in die Bosoorlog in 1977 omgekom het. Ek en my man het hulle vyf kinders aangeneem en saam met ons eie drie grootgemaak,” vertel sy.
In November, tydens die Murray Teologiese Kollege se eeufeesvieringe, sal die gedenkboek amptelik bekendgestel word op Morgenster in Zimbabwe. Verteenwoordigers van Getuienisaksie, oud-sendelinge, familie en vriende sal daar wees om die mylpaal saam te vier.
Oor die Waarderingsonthaal vertel Marianna met ’n dankbare hart:
“Dit was weereens ‘n lekker gesellige geleentheid waar ons saam met ou vriende oor ‘n heerlike koppie tee en versnaperinge kon kuier terwyl ons oor God se absolute getrouheid, guns, en genade deur die jare heen kon besin.”





