Sinani: Wanneer die kerk weer leer om langs mense te staan

👤 Kaapkerk Kommunikasie

Sommige woorde arriveer nie net as ‘n versameling van letters nie, maar as uitnodigings. Sinani is só ’n woord. Dit beteken: “Ons is met julle.” In ’n wêreld waar afstand en haastige oplossings dikwels oorheers, kies hierdie inisiatief van Diensgroep Diaconia vir teenwoordigheid.

Ons het met Sean Esterhuizen van Diaconia gesels oor hierdie nuwe beweging wat eintlik ’n ou roeping van die kerk herontdek. Want lank voor programme en strukture was die kerk ’n gemeenskap wat saamgeleef het. Sorg was nie net gedoen nie, maar gedeel. Sinani probeer nie die wiel herontwerp nie; dit herinner die kerk aan wie sy nog altyd was en dalk weer kan wees.

Hierdie inisiatief groei uit die grond van Suider-Afrika self. Uit stories van oorlewing, geloof en volgehoue diensbaarheid. Met die wysheid van Ubuntu as kompas en die inkarnasionele voorbeeld van Christus as rigtingwyser, nooi Sinani gemeentes om ’n skuif te maak: weg van doen vir, na leef saam. Dit gaan minder oor projekte en meer oor mense.

Wat beteken dit woord, Sinani?

As jy die naam Sinani die eerste keer teëkom, vra jy dalk: Waar kom hierdie naam vandaan? Dit is ‘n goeie vraag en dit verdien ‘n eerlike antwoord.

Sinani is ‘n Nguni-woord wat beteken: Ons is met julle. Dit is ‘n woord van teenwoordigheid en solidariteit. Nie ‘n belofte wat van ver af gemaak word nie, maar ‘n verbintenis wat in nabyheid geleef word.

Hoe sluit Sinani aan by die begrip van diakonia?

In die Nuwe Testament beteken die Griekse woord diakonia ondermeer diens, barmhartigheid, versorging en verteenwoordiger. Die wortel van ons woord diaken. Maar Christus self word in die Nuwe Testament die Diakonos genoem, die Groot Dienskneg. Sy diensbaarheid was nie ‘n program nie. Dit was inkarnasie: Hy het langs mense inbeweeg, nie van bo af nie.

Hierdie inkarnasionele beweging is die teologiese hart van Sinani. Die Ubuntu-wysheid “Umntu ngumntu ngabantu” – Ek is omdat ons is – beskryf hoe God ons geskep het om te lewe: in gemeenskap, in wederkerigheid, in mekaar se arms.

Hoe het hierdie inisiatief begin?

Die idee het binne Diaconia, die gesamentlike bediening van die NG Kerk Wes-Kaapland en die VG Kerk Kaapland, uit ‘n eerlike vraag gegroei: Watter diakonale werk vind reeds plaas in ons gemeentes wat niemand ooit behoorlik raakgesien of gevier het nie?

Die Sinani-inisiatief is gebore uit die oortuiging dat die kerk in Suidelike Afrika oor jare van diakonale wysheid beskik. Wysheid wat gegroei het uit diensbaarheid , uit trauma, uit oorlewing, uit geloof en dat hierdie stories gedokumenteer en gevier moet word. Die projek strek van 2025 tot 2030 en beweeg op pad na die Diakonia-konferensie 2028, ‘n samekoms van NGK- en VGKSA-gemeentes, stad en platteland, verskillende tale en kulture, met een roeping.

‘Wat is die groot skuif wat Sinani wil maak?

Sinani wil ‘n fundamentele skuif teweeg bring in hoe gemeentes diakonaat verstaan. Die tradisionele liefdadigheidsmodel posisioneer mense (begunstigdes) onbedoeld as ontvangers eerder as agente van hul eie transformasie. Sinani nooi ons na ‘n ander plek: waar ons saam met mense staan. Waar die grens tussen helper en ontvanger vervaag, en waar ons ook van gemeenskappe leer.

Wat hoop julle sal anders wees?

Diaconia hoop vir ‘n kerk wat meer as net diens lewer, maar saam leef. ‘n Kerk wat leef waartoe sy geroep is en dit doen met vreugde, met mense, van langsaan hul af.

En miskien die mees opwindende hoop: dat ‘n nuwe geslag gemeentelede sal ontdek dat diakonaat nie ‘n las is wat op diakens rus nie, maar ‘n uitnodiging aan die hele gemeente: Om geseën te wees, sodat ons kan seën.

Deel jou gemeente se storie

Ons soek nie perfekte projekte nie, ons soek outentieke verhale. Volhoubare plaaslike inisiatiewe. Stories waar mense se lewens verander het. Benaderings wat wederkerigheid en Ubuntu-waardes beliggaam.

Die versamelingsfase loop tot Desember 2026. Stuur ‘n kort beskrywing (300–500 woorde), foto’s of ‘n stemboodskap na:

📧 diaconia@kaapkerk.co.za

📱 076 236 0524

“Umntu ngumntu ngabantu.” Ek is omdat ons is. | Sinani — Ons is met julle.

Sinani
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: