Skeppingsorg: Spaar water by kerkgeboue en huise

👤 Wilmi Wheeler

Die reën van die afgelope paar dae het iets in die lug verander. Ná lang weke se kyk na droë grond, lae damvlakke en voorspellings wat nie altyd uitkom nie, was die geluid van water op dakke en plaveisel ’n klein stuk verligting. Mens kon dit amper in gesprekke hoor: dankbaarheid, versigtigheid, hoop.

Die damme het ook begin reageer. Stadig, maar tog. Hier en daar vul vlakke effens aan en dit is bemoedigend. Maar soos met soveel dinge in ’n droë land, vra goeie nuus steeds wysheid. Die reën was welkom, maar dit beteken nie die droogtegesprek is verby nie. “Ons is nog nie oor die bult nie,” sê Johan West van ons Groenspan. “Die gemiddelde damvlakke bly steeds laer as verlede jaar en daarom kan ons nie bekostig om nou weer onverskillig met water te raak nie.”

Juis in sulke tye het gemeentes ’n besondere rol om te speel. Kerke is nie net plekke waar mense op Sondae bymekaar kom nie; dit is ook sigbare ruimtes in dorpe, woonbuurte en gemeenskappe. Wat op kerkterreine gebeur, praat saam. ’n Lekkende kraan, ’n toilet wat aanhou loop, ’n tuin wat op die warmste tyd van die dag natgemaak word. Dit lyk klein, maar saam vertel dit iets van hoe ernstig ons rentmeesterskap opneem.

Waterbesparing begin dikwels nie by groot projekte nie, maar by eenvoudige gewoontes. Om weer deur die kerkgebou, saal, kombuis, badkamers, pastorie en tuin te stap met ’n nuwe oog. Om te vra: Waar mors ons sonder om dit agter te kom? Waar kan ons beter beplan? Waar kan ons die reën wat wel val, meer verantwoordelik benut?

Die afgelope reën herinner ons dat water ’n gawe is. Maar dit herinner ons ook dat ’n gawe versorg moet word. Daarom is dit nou ’n goeie tyd vir gemeentes om prakties te kyk na klein en groter maniere waarop hulle water kan spaar, lekke kan voorkom en as voorbeeld in hulle gemeenskappe kan leef. Die volgende voorstelle kan help om daardie gesprek konkreet te maak.

plastiek, water, klimaatsverandering, wêreldomgewingsdag

Johan West deel hierdie wenke vir waterbesparing

  • Kontroleer alle krane vir lekkasies – ’n druppel kan duisende liter per jaar mors
  • Moenie krane te styf toedraai nie – dit beskadig wasers en veroorsaak lekke
  • Vervang ou of verslete wasers en kleppe betyds
  • Gaan toilette na – lopende spoelbakke mors groot hoeveelhede water
  • Installeer waterbesparende stortkoppe en kraanbelugters (aerators)
  • Monitor waterrekeninge – skielike stygings dui dikwels op versteekte lekke
  • Soek vir ondergrondse lekke (nat kolle, onverklaarbare waterverlies)
  • Gebruik reënwatertenks waar moontlik (bo-grond of ondergronds)
  • Vermy ou asbes-tenks – gebruik moderne, veilige plastiek- of JoJo-tenks
  • Onthou: tenks help veral met korttermyn opvang ná reën
  • Plaas houers onder lugversorgers om kondenswater op te vang en te hergebruik
  • Gebruik gryswater (bv. van wasbakke) vir tuine waar prakties en veilig
  • Plant waterwys (inheemse) plante rondom kerkgeboue en pastorieë
  • Installeer tydskakelaars of sensors vir besproeiingstelsels
  • Oorweeg water-opwekking uit lug (atmosferiese watermasjiene) waar haalbaar
  • Let op spesiale aanbiedinge en afslag op waterbesparende toerusting
  • Bewusmaking begin by die kerk – lei deur voorbeeld in die gemeenskap
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • 40 Years of MES: When a milestone becomes worship

  • Wêreldomgewingsdag: Ons moet God se tuin versorg

  • Die bose oog in die Bybel: Wat Jesus leer oor die ‘Lamp van die Liggaam’