Springboks en All Blacks: Op gelyke grond wanneer ons saam kniel
Wilmi Wheeler
Baltimore. Die Bokke is op die voorvoet. Die All Blacks probeer nog asem kry. Iemand storm ’n gaping binne, iemand anders word soos ’n sak mielies grond toe gestuur. Groen truie vlieg. Swart truie jaag. Die skare dreun. Die telbord loop. En iewers in Suid-Afrika skree ’n oom vir die skeidsregter hoe rugby eintlik werk.
Dit is Bok teen All Black. Groen en goud teen swart. Jy hoef eintlik niks meer te sê nie.
Een van rugby se grootste rivalries. Niemand het Baltimore toe gekom om tweede te eindig nie.
En toe blaas die eindfluitjie.
43–28.
Die Springbokke het gewen.
Daar is arms in die lug, spelers wat mekaar omhels, lywe wat uiteindelik kan ontspan. Daar ís ’n wenner en daar ís ’n verloorder.
Maar toe gebeur iets waarvoor daar nie ’n kolom op die telbord is nie.
Die twee spanne kom nader en hulle kniel saam in gebed.

Dis die beeld wat by my bly. Want hulle het nie voor die afskop in twee afsonderlike groepe gekniel en elkeen probeer om God vir hulle kant te werf nie. Die gebed was nie ’n laaste taktiese skuif nie. Nie ’n hemelse ekstra losvoorspeler wat jy probeer oortuig om jou span oor die doellyn te kry nie.
Die wedstryd was klaar. Die telling het gestaan. En tóé kniel hulle.
Daar is iets aan dié beeld wat my laat wonder oor die manier waarop ons geloof soms gebruik. Dit is maklik om God by ons kant te wil plaas. By óns argument. Ons plan. Ons gemeente. Ons besluit. Ons verstaan van hoe dinge behoort te werk. Ons bid maklik: Here, laat hierdie ding reg uitwerk en diep binne-in beteken “reg” soms bloot: soos ek hoop dit sal uitwerk.
Ons is darem besonder talentvol om vir God ’n trui aan te trek. Ons span s’n, natuurlik.
Maar gebed weier nogal hardnekkig om net ’n spantrui aan te trek. Want as jy regtig bid, gebeur daar hopelik mettertyd iets anders as dat God nader aan jou kant beweeg.
Jy beweeg.
Jy word herinner dat jy nie die middelpunt van die verhaal is nie. Dat die uitslag, hoe belangrik dit ook vandag voel, nie die hele werklikheid is nie. Dat jou vermoë, jou planne, jou oorwinning en selfs jou teleurstelling binne iets groter as jouself bestaan.
Gebed verander nie noodwendig die telbord nie. Dalk verander dit eerder die mens wat daarna kyk.
Ek weet natuurlik nie wat deur elke speler se kop gegaan het terwyl hulle daar gekniel het nie. ’n Mens moet versigtig wees om ’n hele teologie op ’n kort videogreep te bou. Siya Kolisi het volgens The South African oor die oomblik gesê hulle het bymekaargekom om mekaar vir die reeks te bedank en vir mekaar te bid.
Van die sterkste rugbyspelers op aarde, manne wie se werk dit letterlik was om vir 80 minute grond te wen, beheer te neem, die ander span terug te druk, kies aan die einde ’n houding wat feitlik die teenoorgestelde daarvan sê.
Hulle kniel.
Nie omdat die kompetisie skielik onbelangrik was nie. Hulle het beslis nie vier toetse gespeel net vir ’n deelname-sertifikaat nie. Maar omdat daar ná die strewe ook plek is vir iets anders soos dankbaarheid, stilte en gebed.
Dalk is dit ’n ritme wat ons buite ’n rugbystadion ook nodig het.
Ons dae is vol telborde. Teikens. Prestasie. Vergelyking. Wie kry die pos? Wie se voorstel wen? Hoeveel mense was by die geleentheid? Groei die gemeente? Het die projek gewerk? Was ek reg?
En daar is niks noodwendig verkeerd daarmee om dinge ernstig op te neem en goed te wil doen nie. Maar iewers moet die geraas gaan lê. Iewers moet ons weer onthou dat ons meer is as die uitslag.
Miskien is dit waarom daardie paar minute ná ’n groot rugbywedstryd so opvallend voel.
Die stadion sien twee van die wêreld se grootste rugbyspanne. Die telbord sien 43–28. Die geskiedenis sal ’n wenner en ’n verloorder aanteken.
Maar vir ’n paar oomblikke is daar nie ’n Bok wat bo ’n All Black staan nie. Nie ’n wenner wat moet bewys dat hy reg was of ’n verloorder wat minder geword het omdat hy verloor het nie. Daar is net mense op hulle knieë.
Dalk is dit een van die genades van gebed: Dit trek nie noodwendig vir God óns trui aan nie. Dit herinner ons eerder dat, wanneer ons saam kniel, die grond onder ons almal dieselfde is.
En dat God nog altyd groter as die telbord was.


