Stadion van verdeeldheid bring eenheid

👤 DJ Muller

In die donker waai meer as 2000 tieners met hul selfoonliggies in die lug. Dit is ‘n heilige oomblik en dit verlig amper die hele stadion. Dan vra een van die verhoog af dat elke tiener op daardie oomblik ‘n selfie neem. Skielik word dit pikdonker, want ‘n selfoon se flitslig skakel af wanneer jy ‘n selfie neem. “Ons kan nie in eenheid vir Christus lig wees as ons op onsself fokus nie.”

Dít was die boodskap tydens die Worship in die Valley geleentheid wat op 10 April by die Faurestraat Stadion in die Paarl plaasgevind het. Dit was gemik op tieners wat in Gr. 7 tot matriek is en kerke en skole regoor die hele Drakenstein gebied is uitgenooi. Hierdie geleentheid is deur die ring van die Paarl gereël nadat Francois de Villiers van die Auto Nantes groep iets vir die Here wou teruggee. Hy het ‘n moeilike pad met keelkanker gestap, maar is daarvan genees. Uit dankbaarheid wou hy in jongmense se lewens ‘n verskil maak. Hy het toe vir ds. Ryno Els van Toringkerk genader en dié het ‘n span vrywilligers bymekaar gekry wat dié groot aanbiddingsgeleentheid gereël het. Kort voor lank het talle ander mense soos Vicus Kruger (NG Kerk Suider-Paarl), ds. Tilana Meyer-Morkel (NG Kerk Paarl-Vallei) en Francois se vrou, Lize, ook aan boord gekom. Ryno vertel hoe wonderlik dit was dat organisies soos Auto Nantes, Orbit X, PostNet Paarl en ExecuSound ook hul gewig begin ingooi het. Dit versterk die tema van die gebeurtenis, naamlik “Collective”. Burre Burger het ook van dié gebeurtenis te hore gekom en die span genader en gevra of B Promotions dit mag borg.

Die Faurestraat Stadion is in essensie ‘n kompeterende plek. Ryno verduidelik dat dít die plek in die Paarl is waar die meeste interskole wedstryde plaasvind. Die kultuur rondom interskole is ongelukkig een van verdeeldheid en dit is deels waarom die organiseerders besluit het om die geleentheid juis hier te hou. Hierdie gronde wat verdeeldheid bring, het ‘n plek van eenheid geword.

Die organiseerders se bedoel was aanvanklik nie om dit ‘n jaarlikse instelling te maak nie. “Dit was ‘n ‘once-off’, maar daar is al baie skole en kerke wat vra dat ons dit elke jaar moet doen.” ‘n Hele paar onderwysers en tieners het getuig dat hierdie geleentheid sovêr vir seker die hoogtepunt van hul jaar was.

Terwyl die groot groep tieners herhaaldelik sing “Sing a little louder”, plaas Burre ‘n video op Facebook met dié beskrywing: “1000de tieners sing vanaand dat die Hemel hoor… Ek voel dit. Ek voel hoe verander ons land as ons jongmense nie skaam is vir God nie. Ek wens ons kan dit elke dag doen! Dankie Paarl!!! Dankie dat julle nie stilbly as dit by Jesus kom nie!!!

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: