Tafels van Genade en Uitnodigings
👤 DJ Muller

Die “Taste and See that the Lord is Good” konferensie, wat op 2 en 3 Oktober 2024 aangebied is deur Voortgesette Bedieningsontwikkeling (VBO) by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington, het die simboliese en geestelike waarde van tafels as tema gehad. Met sprekers soos Gisela Kreglinger, teoloog en skrywer van The Spirituality of Wine, en Rudi Swanepoel, het die geleentheid gefokus op hoe die eenvoudige handeling van saam eet ‘n ruimte van diepe konneksie met God, die aarde, en mekaar kan skep.

Ons het met verskeie mense gesels oor dié konferensie. Almal stem saam dat die tema van “tafelskap” diep tot hulle gespreek het, maar dit was Eugene Malan se refleksies wat ‘n unieke, kritiese perspektief op die geleentheid gegee het.
Eugene, ‘n deelnemer met ‘n fyn aanvoeling vir die simboliek van tafels, het sy passie vir hierdie onderwerp duidelik uitgespreek. “Ek hou van tafels. Kombuistafels, eetkamertafels, stoeptafels – veral van soliede hout en ouer as ek!” het hy gesê. Sy entoesiasme is nie net beperk tot die estetiese waarde van tafels nie, maar ook tot die diep simboliese en mistieke betekenis daarvan. “Ek is gefassineerd deur tafels… selfs ‘n bietjie obsessief daaroor! Tafels dra verhale van gedeelde vreugde en hartseer; dis plekke van herinnering en ontmoeting.”
Die Tafel as ‘n Plek van Resonansie
Marnus Havenga, een van die organiseerders, het met sy openingswoorde die gejaagde aard van ons samelewing beskryf en hoe die belewenis van die hede verlore gaan in ons strewe na vinniger, beter, en meer. Hy het dit “social acceleration” genoem. Hierdie versnelling, het Marnus verduidelik, het ons vervreem van die dinge wat werklik saak maak: konneksie, gemeenskap, en die ervaring van God se teenwoordigheid. Eugene het besef dat hierdie beskrywing sy eie lewenservaring vasvang. “Tafels bied geleentheid vir resonansie – vir diep konneksie met die aarde, met mekaar, en met God,” het Eugene beklemtoon. Hierdie konsep het hom laat regop sit en sy ore gespit. “Dis vir my!”

Foto: Michal Venter
‘n Feesmaal vir die Siel
Melanie Thirion, ook een van die deelnemers, het aanvanklik gewonder of ‘n konferensie oor wyn en tafels werklik relevant kon wees. Sy het erken dat sy skepties was oor die waarde van so ‘n tema, maar sy was aangenaam verras. “Ek dink na COVID het ons almal ‘n dieper behoefte aan ware konneksie gehad. Hierdie geleentheid was soos ‘n feesmaal vir die siel – ‘n herinnering aan die mooi en goedheid van God,” het sy gesê.
Wyn en Brood as Simboliese Rituele
Neil Büchner het tydens die konferensie die leiding geneem met musikale lof en aanbidding. Die estetika en simboliek van die tafel as ‘n plek waar ons God se teenwoordigheid in die eenvoudige aksies van wyn en brood kan beleef, het hom aan die hart gegryp. Wat hom by bly is die feit dat wyn, brood, en die tafel as meer as net materiële elemente beskou kan word – dit is geskenke wat ons nader aan die diepste betekenisse van die evangelie bring. Neil het die gedagte uitgedruk dat hierdie simboliese rituele vir ons ‘n manier bied om God se teenwoordigheid in elke dag raak te sien.

Gisela Kreglinger
Die Geestelike Gewig van Tafels
Eugene se ervaring van die konferensie was een van oorvloed en verwondering. Gisela Kreglinger het haar stories oor tafels en wyn gedeel op ‘n wyse wat die Bybelse boodskap van oorvloed, skoonheid, en heerlikheid oorgedra het. “Haar stories het my diep onder die indruk gebring van die wonder van ‘n beliggaamde, multisensoriese belewenis van God se goedheid,” het Eugene gesê. “Ek is geïnspireer deur die uitnodiging om die sensuele geskenke van God, soos smaak en genotvolle samesyn om die tafel, met oorgawe te ontvang.”
Rudi Swanepoel het op sy beurt die betekenis van tafelskap op ‘n ander vlak verken. Hy het gepraat oor die paradokse van tafels: die skoonheid en vreugde wat rondom ‘n feestafel ontstaan, maar ook die spanning van die ongelykhede en verdeeldheid wat dikwels daar rondom bestaan. “Tafels is plekke van vreugde en koinonia, maar ook van verdeeldheid, diskriminasie, en onreg,” het Eugene opgemerk. “Dit is die altyd-teenwoordige gas aan elke tafel.”

Rudi Swanepoel
‘n Ruimte vir Inklusiwiteit en Geregtigheid?
Eugene se refleksie het nie net die positiewe aspekte van die konferensie uitgelig nie, maar ook die pynlike realiteit van eksklusiwiteit wat selfs by sulke beminde tafels kan insluip. “Ek was getref deur die tafels wat omring was deur mense wat min of meer dieselfde lyk en min of meer dieselfde sosio-ekonomiese en kulturele agtergrond het,” het hy gesê. Alhoewel die konferensie ‘n ruimte van rus en inspirasie geskep het, was stemme uit ander kulture en ekonomiese realiteite grootliks afwesig. Eugene se vraag, “Wanneer sal ons tafels werklik omring word deur almal wat die Here om sy tafel verwelkom?” het soos ‘n uitroep geklink wat in die harte van baie deelnemers weergalm het.
Hy het hierdie kritiese vrae nie net na die konferensie gebring nie, maar ook na sy eie lewe: “Wanneer sal ons feeste geken word aan die waardes van God se huishouding?” Het ons tafels nie dalk die potensiaal om soveel meer te wees nie? Eugene se besorgdheid het hom nie verhinder om die waarde van die geleentheid te waardeer nie, maar het sy belewenis verdiep. “Ek het weggegaan met baie inspirasie, maar ook ‘n diep hartseer.”

Eugene Malan
Tafels van Genade en Uitnodigings
Die “Taste and See that the Lord is Good” konferensie het deelnemers genooi om na te dink oor hoe tafels ruimtes van ontmoeting en hoop kan wees, selfs in ‘n verdeelde en gejaagde samelewing. Eugene se terugvoer het egter gewys dat die tafel se roeping verder strek: “Hoe kan ons tafels nie net plekke van vreugde en gasvryheid wees nie, maar ook van geregtigheid en ware inklusiwiteit?”
Uiteindelik het die konferensie herbevestig dat tafels meer is as net plekke waar ons eet. Dit is ruimtes waar ons die volle spektrum van menswees kan ontmoet – die skoonheid, maar ook die gebrokenheid – en waar ons genooi word om die huishouding van God te reflekteer, selfs in die eenvoudige handeling van brood breek en wyn drink.
