Wees ’n termostaat-pa, nie ’n termometer-pa nie

👤 Christi Thirion

Ek probeer myself gedurig verbeter, en soms gaan soek ek raad op die internet. Die sosiale media-algoritmes bied dan dikwels vir my ’n prentjie van sukses wat gemeet word aan wat jy kry, wat jy ry en waar jy bly. Jou sukses word bepaal deur die getalle wat jy reflekteer. In my reis saam met Jesus – wat vir ons wys wie en hoe die Vader is – leer ek egter iets anders: “suksesvolle” pa’s is eerder mense wat, soos God ons Vader, ’n atmosfeer skep waarin hul kinders floreer.

Dink aan die prentjie van ’n termometer – dit gee net getalle weer, of jy nou die regte getalle het of nie – teenoor die prentjie van ’n termostaat – dit skep ’n atmosfeer, ’n klimaat, ’n ruimte waarin moontlikhede kan ontwikkel.

’n Termometer-pa meet en evalueer voortdurend hoe goed of sleg elkeen in die huis vaar. Hy stel ’n stel reëls op – gewoonlik alleen – en verwag dat almal daarvolgens moet leef. Hierdie pa se aanvaarding van sy kinders wissel volgens hul prestasies: of hulle nou die regte punte behaal, die regte gedrag toon of aan sy standaarde voldoen. Dit kan die huis ’n plek maak waar kinders voel hulle moet aanhou presteer om geliefd te wees – ’n eggo van die “wat jy kry, wat jy ry en waar jy bly”-maatstaf.

Maar ’n termostaat-pa werk anders. Soos ’n termostaat wat die temperatuur reg stel om ’n gemaklike en gesonde omgewing te skep, werk ’n termostaat-pa doelbewus daaraan om ’n atmosfeer van liefde en aanvaarding te vestig. Hy luister met opregte belangstelling na sy kinders se stories en drome – of dit nou gaan oor die bou van ’n Lego-kasteel, die opwinding van ’n sportwedstryd, of die fyn bewegings van ballet.

’n Termostaat-pa is nie net fisies teenwoordig nie, maar ook emosioneel en geestelik beskikbaar. Hy neem tyd om stories voor te lees, saam op die grasperk te speel, liedjies van Taylor Swift saam te sing, of die groot storielyne van Marvel-helde en Star Wars uit te luister. Hy sien die klein oomblikke raak en gebruik dit om vir sy kinders te wys dat hulle vir hom belangrik is – nie net vir wat hulle doen nie, maar vir wie hulle is. Sóos God die Vader vir sy mensekinders die opdrag gegee het om die aarde te bewoon en te bewerk, sodat hulle kan ontdek wie hulle is.

Hierdie Vadersdag – of enige ander dag – kan jy jouself afvra: “Is ek ’n termometer-pa of ’n termostaat-pa?” Keer die maatstaf van “sukses” om: skep, na die beeld van God, ’n omgewing van liefde, aanvaarding en aanmoediging. Maak jou huis ’n plek waar jou kinders veilig voel, groei en floreer.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: