Theo Swart kyk terug na sy bediening: Tussen agtertoe en vorentoe
👤 Theo Swart
Søren Kierkegaard het iewers geskryf: “Life can only be understood backwards; but it must be lived forwards”. Dié aanhaling help ook vir my om vandag te kom probeer staan tussen agtertoe en vorentoe …
Vir die agtertoe kyk kan ek nie anders as om teenoor die Here dankbaar te wees vir ’n bediening wat in 1982 begin het, oor 5 werkkringe en 43 jaar gestrek het en op 31 Julie 2025, in my geliefde Parowvallei-Oos, ten einde loop nie. My intreepreek in Fordsburg (later Goudstad) in Johannesburg, Alberton-Oos, Bellville-Uitsig en Parowvallei-Oos was telkens uit 1 Korintiërs 15:10 – Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie …
As ek vandag terugkyk, verstaan ek dat dit die enigste rede is waarom ek in die bediening kon aanhou en uithou vir so lank!

In die agtertoe kyk en verstaan is ek vandag veral dankbaar vir wonderlike dinge wat ek in die kerk kon beleef: Ek was net vir enkele jare nie deel van ’n ringskommissie nie en het as lid, skriba en voorsitter die geleentheid gehad om met gewaardeerde kollegas, dikwels met moeilike sake, te kon saamstap. Predikantebegeleiding was my passie – en ek kon dit uitleef op die vlak van sinodes en die Algemene Sinode. Ek het die voorreg gehad om twee keer deur die Algemene Sinode gestuur te word na Nederland vir mentorkursusse en kon daarna die mentorkursus vir die NG Kerk inisieer en aanbied.
Dat dit ook uitgebrei het na ons studente, was ’n droom wat bewaarheid is. Die A-Z beleid vir predikante se afhandeling was aan my toevertrou en ek is steeds trots om deel daarvan te kon wees. In Hoëveld Sinode (destyds Suid-Transvaal) is ek toegelaat om navorsing onder kollegas te kon doen en kon uiteindelik ’n Ph.D.-graad in Sielkunde behaal oor uitbranding by predikante – nadat ek self ook die slagoffer daarvan was. Ek glo dat daar vandag gelukkig baie meer hulp en ondersteuning is om vir dominees bedieningsvreugde te gee as 20 jaar gelede!
In die onderskeie gemeentes het besondere lidmate, situasies en mense oor my pad gekom – dit was waarskynlik die grootste van die genade wat ek beleef het. Om in 2004 na Bellville-Uitsig te kom en self deel te wees van ’n standplaasverwisseling, iets wat ek saam in die Algemene Sinode se Kommissie vir Predikantebegeleiding (AKPB) bedink en beplan het, was ’n uitsonderlike belewenis. Ons koms na Kaap het ons as gesin se lewe vir altyd, onherroeplik en positief, verander! Na 10 lekker jare in Bellville-Uitsig, waar die bediening nie altyd vir my maklik was nie, het die wonderwerk gebeur dat ek op 1 November 2014 in Parowvallei-Oos kon begin.
In Parowvallei-Oos het die laaste deel van Kierkegaard se aanhaling – “life must be lived forwards” – regtig waar geword. Die openheid vir verandering, sin vir humor, informaliteit en anderse manier van doen het my soos ’n handskoen gepas! Die grootste voorreg wat ek ooit sou hê, was om my bediening hier te kon afsluit.
Parowvallei-Oos kon ontwikkel as inklusiewe, tweetalige gemeente met ’n unieke karakter en lidmate. Dat ons gemeente(tjie) se verhaal opgeteken sou word in die boek Bakengemeentes: nagedink oor roeping en getrouheid (Bosman, Maritz & Van Jaarsveld, p. 61ev) spreek letterlik boekdele! Hier kon ek saam met mense werk wat regtig omgee vir mekaar en die gemeenskap.
Ons PERCUP Care Coffee Corners, waar koffie en beskuit op sommige oggende uitgedeel is, het wyd aanklank gevind en ondersteuning gekry. Nurses Sunday, Comrades-diens, Grandparent Sunday en Super Sondag het terme geword wat saggies in my lewe permanente lêplek gekry het. Hoe Moedersdag spesiaal gevier word en hoe ons op Opstandingsondag die blommekruis vol vars blomme gedruk het, sal altyd in my gedagtes bly!
Dit was ook spesiaal om Mareli Engelbrecht (nou Niehaus), een van ons gemeente se eie kinders, te kon mentor en as predikant te bevestig in Laingsburg. Om onlangs my eerste kleinseun, Ben, te kon doop met my laaste doop in die gemeente, was vir my en die gemeente ’n besonderse emosionele geleentheid. In Parowvallei-Oos het nog ’n aanhaling van Kierkegaard my voorreg geword van elke dag: “Life is not a problem to be solved, but a reality to be experienced!” Wat vir ander gemeentes en dominees ’n probleem was, het hier ’n realiteit van genade en vernuwing geword!
Vir die afgelope paar jaar kon ons as Bestuurspan werk aan ’n opvolgstrategie sodat die werk en die gemeente se toekoms verseker sou wees. Daarom is die foto wat aangeheg word so spesiaal! Op 20 Julie het ek die voorreg gehad om Tian Brand te bevestig as diensleraar, nadat hy reeds sedert 21 Oktober 2018 in Parowvallei-Oos betrokke is. By my is daar geen twyfel dat die gemeente vorentoe sal bly lewe nie en dat daar wonderlike nuwe inisiatiewe sal kom nie. Ek kan dus emeriteer met die rustigheid dat die werk sal aangaan.
Ek sal DV nog tot aan die einde van die jaar by Edelweiss ACVV Dienstak werk vir Stellenberg-gemeente (soos die afgelope 12 jaar) – by die “ander ou mense”, soos my vrou Estelle altyd sê – en dan finaal net oupa speel vir Ben! Ek is gelukkig geseënd met goeie gesondheid en draf nog, selfs na 27 Comrades-wedlope, so 4 dae per week – ek wil nou graag met my nuwe ouderdom in die kategorie van 70 jaar prysgeld verdien in die wedlope waaraan ek deelneem!
Ten slotte – ek was dikwels beskuldig van ’n skewe sin vir humor (selfs galgehumor) en gekritiseer oor die gebruik van gekruide taal – ek vra om verskoning daarvoor! Gelukkig was beide hiervan nie ’n probleem in Parow nie. Ek sluit af met iets waarvan min mense oor my weet … Die laaste 30 jaar al lees ek elke aand, na Die Bybel, die strokies van Calvin en Hobbes van Bill Watterson. Behalwe die Here se genade het die laaste hier aangeheg uit Calvin en Hobbes my altyd positief gehou! Soli Deo Gloria!



