Van gebed tot bediening: Samuel se getuienis uit Nepal
Kaapkerk Kommunikasie
Toe ds. Chris Erasmus, ’n afgetrede leraar van die VGK wat deesdae in De Doorns woon, vir Samuel in Nepal leer ken, het ’n gesprek oor geloof en bediening vinnig iets baie prakties geword.
Samuel is ’n jong evangelis wat die evangelie in afgeleë dorpe en gemeenskappe in Nepal deel. Dikwels op plekke waar mense nog min of niks van Jesus gehoor het nie. Sy bediening vra egter dat hy groot afstande aflê en toegang tot basiese hulpmiddels het.
Chris werk daarom tans saam met ander om geld in te samel vir twee dinge wat Samuel se bediening aansienlik kan versterk, naamlik ’n motorfiets om makliker by afgeleë gemeenskappe uit te kom en ’n skootrekenaar om sy werk en bediening verder uit te bou.
Dit was in dié konteks dat Chris onlangs met Samuel oor sy lewe, geloof en roeping gesels het. “Dis nogal ‘n aangename ervaring om my selfoon op te tel en ‘n glimlaggende jong man uit Nepal sê: ‘Good evening respected Pastor,'” vertel Chris.
Hier vertel Samuel sy eie verhaal.

Ek groet almal hartlik. My naam is Samuel en ek kom uit die Bajura-distrik in Nepal, ’n baie afgeleë en landelike gebied. Vandag wil ek my lewensgetuienis met julle deel, sodat julle ook geseën kan word.
Ek is in ’n Christelike gesin gebore. Ons gesin was klein en eenvoudig, en ons het dit soms swaar gehad. My kinderjare was gelukkig en vol speletjies. Ek het die skool op die dorp bygewoon.
Alhoewel ek in ’n Christelike gesin gebore is, het ek nie geweet wie God werklik is nie. Ek het kerk toe gegaan, Christelike lofliedere saamgesing en gedoen wat ander gedoen het. Maar ek het nie geweet dat God werklik bestaan nie.
Toe gebed vir my werklik geword het
Een aand, omstreeks tienuur, het my ma skielik siek geword. Die linkerkant van haar liggaam het lam geword weens ’n beroerte en sy kon nie praat nie. Vir twee uur het sy soos dood gelê. Ek was omtrent elf jaar oud.
In daardie gebied was daar net een ander Christelike familie; al die ander was Hindoes. Ons huis was ook heel afgeleë, sonder bure naby. Dit was baie moeilik. Omdat ons Christene was, het die gemeenskap ons verwerp. Niemand wou ons help nie.
Ons drie kinders het toe die nabygeleë Christenfamilie geroep en saam het ons vir my ma gebid. Ure lank het ons gebid, al het ons nie regtig geweet hoe om te bid nie. Uiteindelik het my ma haar oë oopgemaak en gevra: “Wat het met my gebeur?” Sy kon nie loop of opstaan nie.
Stadig het sy begin herstel. Ons het haar na baie hospitale geneem, maar daar was geen genesing nie. Ons het amper hoop verloor, maar ons het aangehou bid. Ná ’n paar maande het haar toestand verbeter en kon sy weer met ’n kierie loop.
Ek was verstom dat sy, wat soos iemand wat dood was daar gelê het, weer gesond geword het. Dit het my laat vra: “Wie is hierdie groot God wat só kan genees?”
Ek het die Woord begin lees en baie dinge ontdek. Ek het op ’n teks afgekom wat my diep geraak het:
Jesaja 45:5–7: “Ek is die Here, daar is geen ander nie, buiten My is daar geen God nie. Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie. (6) Ek doen dit sodat elkeen van die ooste af tot in die weste kan weet dat daar buiten My geen God is nie; Ek is die Here, daar is geen ander nie. (7) Ek maak die lig en skep die donker; Ek gee voorspoed en skep rampspoed. Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge.”
Ná ’n paar maande het ek geglo dat Jesus die Verlosser is. Ek het erken dat ek ’n sondaar is en my lewe aan Hom gegee. Ek het hoop in Christus gevind en begin om ander te vertel dat daar ewige lewe in Jesus Christus is. Ek het my getuienis by die skool en in die dorp gedeel.

Om vas te staan wanneer geloof iets kos
Daarna het ek baie moeilike tye beleef. In die dorp en by die skool het mense my anders begin behandel omdat ek ’n vreemde godsdiens gevolg het.
Tog het ek vasgestaan in die Woord van die Here en troos gevind in Matteus 5:10: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
Ek het nie my geloof laat vaar nie, maar aangehou bid en die Here vertrou.
Vir ’n paar jaar het ek kinders bedien in die kerk waar my pa pastoor was. Later het ek aanlyn ’n vriend ontmoet wat ook in bediening was. Hy het my aan Magriet en Dietmar Frey van Petra Instituut voorgestel.
Deur Magriet het ek die geleentheid gekry om by Petra Instituut in Kinderbediening te studeer. Al was dit net vir ’n kort tyd, het ek baie geleer en is ek geestelik versterk. Ek is baie dankbaar teenoor Moeder Magriet.
Vandag bedien ek kinders
Nou is ek baie bly, want ek lei baie kinders op die pad van God. Daar is baie kinders wat nog nooit van die Here gehoor het nie. Daar is ook baie weeskinders wat geen huis of familie het nie en op straat woon. Ons wys vir hulle liefde, help hulle met klein bydraes en hou gemeenskapsgroepe.
Ek deel steeds die evangelie. In die toekoms wil ek, met julle gebede en ondersteuning, die koninkryk van God verder uitbrei.
Vandag is ek vol vreugde. Mag die Here verheerlik word!
Dankie,
Samuel.


