Van Niekerks groet Welgemoed
👤 Ronelda Visser

Welgemoed-gemeente het die afgelope naweek afskeid geneem van Heerden van Niekerk en sy vrou Hannelie.
Heerden was vir 28 jaar by die gemeente en het ook twee termyne op die moderatuur van die Wes-Kaapse Sinode en het op die Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake gedien. Heerden het spesiale dank uitgespreek teenoor die sinodale personeel en predikante in sinodale diens (PSD). “Lidmate besef nie altyd wat agter die skerms gebeur nie. Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om my waardering en dank uit te spreek vir die bekwame en kwaliteitdiens wat deur hulle gelewer word.
28 jaar is bykans ’n leeftyd. Die bedieningwerk strek oor ’n breë spektrum van doop, belydenisaflegging, pastorale werk, eredienste fondsinsameling tot huwelike en begrafnisse. So, oor 28 jaar maak jy goeie vriende en kom daar ’n diepe vertrouensverhouding met lidmate. Wat vir my opvallend was, dat baie van die mense pertinent sekere gebeure en interaksies uitgelig het, wat ek al vergeet het. Dit wat verband hou met pastorale werk in situasies wat ek gedink het dis die normale gang van die bediening byvoorbeeld hospitaal- of tuisbesoek. Dit was opvallend hoe dit vir daardie mense op daardie stadium ontsettend baie beteken het. Dinge wat jy gedink het, dis maar wat ek moet doen. Daai gewone is vir mense buitengewoon, die regte belewenis op die regte tyd. In ’n sin word dit ‘n troosvolle ontmoeting met God op daardie oomblik.
Dit was wonderlik dat voormalige kollegas wat vir my na aan die hart lê van so ver as Albertinia en Hermanus gekom het om deel van my afskeidsdiens te wees, so ook my huidige kollega se woorde. Riaan Steyn se komposisie vir my en Hannelie was baie spesiaal. Die inkleur van die hele erediens en musiekbediening en die geselligheid in die tent is net so netjies en keurig gedoen. Die gemeente het soveel moeite met al die voorbereidings gedoen.
Ek en Hannelie het ‘n vreugdevolle tyd in Welgemoed gehad. Dit was ‘n goeie en heilsame afsluiting vir ons. Ons kyk met dankbaarheid terug. Ons gaan na mooi omgewing in De Rust toe. Ek onthou hoe ek as skoolkind op pad na Mosselbaai/Hartenbos verstom was deur Meiringspoort se rotsformasies en dan die pragtige dorpie van De Rust wat skielik voor jou opdoem. Ek het grootgeword in plattelandse omgewing in Groblershoop in die Noord-Kaap en hier word die sirkel voltooi in ’n ander kleiner, plattelandse gemeenskap. Ons is gewaarsku dat die mense van die Klein Karoo in ons harte gaan inkruip. En ons het dit reeds beleef tydens ’n onlangse gemeente-ete. Dit is hartlike, hardwerkende mense wat in afhanklikheid van die Here leef. Ons sien uit daarna om by al die bedieninge van die gemeente in te skakel, mense te leer ken en vriendskappe te smee. Dis vir ons ’n nuwe landskap, ‘n nuwe uitdaging en ’n volgende fase, waaroor ons opgewonde is.”


