Deel herinneringe op die veilige manier

👤 Adri de Bruyn

In ons vorige tema het ons die term “Sharenting” bekendgestel. Terwyl sommige dalk reeds bekend is daarmee, mag ander nie die volle omvang of die moontlike gevare besef nie.

Lees ook: “Sharenting” en kinders se reg tot privaatheid

As ouers geniet ons dit om ons kinders se mylpale met ons “vriende” aanlyn te deel. Dit voel onskuldig om ’n oulike of snaakse storie te plaas, maar dit is belangrik om bewus te wees van sharenting – die “oversharing” van ons kinders se lewens aanlyn.

Waarom dit belangrik Is

1. Beperkte beheer oor aanlyn inligting

• Sodra foto’s en inligting gedeel is, kan dit moeilik of selfs onmoontlik wees om beheer te behou. Persoonlike besonderhede kan onbewustelik liggings (location), roetines of private oomblikke verklap, wat kinders aan privaatheidsoortredings kan blootstel.

• Hierdie aanlyn plasings vorm deel van ons kinders se digitale identiteit, en namate hulle ouer word, mag hulle dit nie waardeer dat hul kinderherinneringe vir almal toeganklik is nie.

2. Toestemming by skole

Skole plaas dikwels foto’s waar kinders se gesigte voluit sigbaar is, wat ‘n beduidende privaatheidsrisiko is. Dit is elke ouer se keuse of hulle gemaklik is met hul kind se volle gesig wat gepubliseer word. Volgesigfoto’s is meer kwesbaar vir tegnologie soos deepfake, wat kinders se gelykenisse kan manipuleer en moontlike identiteitsdiefstal tot gevolg kan hê.

3. Beheer oor privaatheidsregte

Hoe meer ons deel, hoe minder beheer het ons oor ons privaatheidsregte. Bekendes soos Minki van der Westhuizen beheer haar kinders se privaatheid aanlyn deur nooit hul gesigte volledig in foto’s te wys nie. Hierdie benadering versterk haar gesin se privaatheidsregte. In teenstelling, kan bekendes wat elke detail deel, meer uitdagings ondervind om hul reg tot privaatheid te beskerm.

4. Onskuldige oomblikke – Gevolge vir die toekoms

Foto’s van onskuldige oomblikke, soos badtyd of “oulike” video’s, kan later vir kinders ‘n verleentheid veroorsaak of as materiaal vir kuberafknouery gebruik word.

5. Respek en toestemming

• Namate kinders ouer word, word dit belangrik om hulle toestemming te vra voordat ons enigiets oor hulle deel. Hierdie wedersydse respek bevorder ’n gesonde begrip van privaatheid.

6. Belangrike wenke vir veilige deel van inligting en foto’s

Om jou kinders se veiligheid aanlyn te beskerm, oorweeg die volgende wenke:

  • Beperk identifiserende inligting
  • Skakel liggingtags af
  • Kontroleer jou privaatheidinstellings
  • Dink aan hul toekoms
  • Gebruik “geslote” delingsopsies
  • Vermy volgesigfoto’s of -video’s
  • Vermy verleentheidsoomblikke

Gids vir Facebook-instellings vir beter sekuriteit en privaatheid

Volg hierdie stappe om jou Facebook-instellings aan te pas vir verhoogde sekuriteit, veral om kinders teen uitbuiting te beskerm:

1. Beperk identifiserende inligting

  • Hersien profielbesonderhede: Gaan na jou profiel, klik op “About,” en gaan afdelings soos “Contact and Basic Info,” “Family and Relationships,” en “Places Lived” na. Beperk die sigbaarheid van elke item tot “Friends” of “Only Me”.
  • Vermy deel van sensitiewe inligting: Moenie presiese liggings, telefoonnommers, of ander hoogs persoonlike inligting lys wat gebruik kan word om jou of jou kinders op te spoor nie.

2. Skakel liggingtags af

  • Skakel ligging by plasings af: Maak seker dat ligging nie outomaties by plasings gevoeg word nie. Gaan verwyder liggingtags by ou plasings.
  • Skakel liggingdienste op toestelle af: Gaan na jou toestel se ligginginstellings en stel Facebook op “Never” (vir iOS) of “Deny” (vir Android).

3. Kontroleer privaatheidinstellings

  • Gebruik privaatheidskontrole: Klik op jou profielfoto, kies Settings & Privacy > Privacy Checkup, en volg die gids.
  • Beperk toekoms en verlede plasings: Stel “Who can see your future posts?” op “Friends” of “Only Me” en beperk die gehoor vir vorige plasings.

4. Gebruik “geslote” delingsopsies

  • Gebruik “Friends Except…” of “Specific Friends” opsies: Wanneer jy ’n nuwe pos maak, kies hierdie opsies om sekere mense uit te sluit of net ’n geselekteerde groep te kies.
  • Skep privaat Facebook-groepe: Oorweeg om ’n private of geslote groep te skep vir deling met sekere mense.

Bykomende wenke vir verhoogde sekuriteit

  • Twee-faktor verifikasie: Voeg ’n ekstra stap vir aanmeldings by vir groter sekuriteit.
  • Hersien apps en webwerwe: Gaan jou Facebook-instellings na en verwyder toegang vir ou programme.

Deur hierdie stappe te volg, beskerm jy jou gesin se privaatheid en veiligheid aanlyn. Kom ons vier ons kinders se mylpale met deernis en oorweging vir hul toekomstige digitale identiteit.

Geskryf deur Adri de Bruyn van A de Bruyn Attorneys. Adri is ’n toegewyde prokureur en notarisklerk met meer as tien jaar ondervinding, sowel as ’n ma wat die uitdagings van gesinsverantwoordelikhede verstaan. Adri spesialiseer in skuldmediasie en geskilbeslegting, wat haar in staat stel om kliënte persoonlik en betroubaar by te staan. Sy streef daarna om hulle deur moeilike tye te help met oplossings wat regverdig en volhoubaar is.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: