Verantwoordelikheid strek verder as eie belang
👤 Braam Hanekom
Binne die Gereformeerde tradisie werk ons graag met die konsepte genade en vergifnis. Jou foute word vergewe en jy kan telkens nuut begin. Die genade van God is onuitputlik. Vir hulle wat opreg daarna soek en vra.
Tog word die tradisie dikwels daarvan beskuldig dat die genade in die proses goedkoop gemaak word (Dietrich Bonhoeffer). Ons kan maar maak soos ons wil, sonder om verantwoordelikheid vir ons dade te aanvaar.
Dalk moet ons eers die onderskeid tref tussen aanspreeklikheid en verantwoordelikheid. Aanspreeklikheid word gesien as daardie houding wat jou laat aanvaar dat jy verantwoording moet doen vir wat jy gedoen het of selfs nagelaat het om te doen, veral as jy uitgevang word. Verantwoordelikheid is daardie houding wat jou eienaarskap laat aanvaar vir dinge waarvoor jy verantwoordelik is (jou werk byvoorbeeld), maar ook vir dinge wat nie op jou toegedeelde “pligtestaat” verskyn nie.
ʼn Tyd gelede probeer ek na ’n uitputtende vlug my parkeerkaartjie op die lughawe betaal. Die masjien funksioneer egter nie behoorlik nie en gee nie vir my ʼn kwitansie nie. Ek loop gefrustreerd na die kantoor waar ek dit in die hande probeer kry. Toe ek die dame vra of sy al die fout gerapporteer het, kom die antwoord: “It is not my responsibility.”
ʼn Teologie van verantwoordelikheid vra ons om verantwoordelikheid te aanvaar vir dit waarvoor ons nie betaal word of om welke rede ook al nie verplig is om te doen nie. Dit laat ons die spreekwoordelike ekstra myl loop, omdat ons glo dat die ekstra myl reeds vir ons deur Jesus Christus geloop is.
ʼn Teologie van verantwoordelikheid is besorg oor ander se kinders, nood en leed. Dit is besorg oor ’n planeet wat seerkry en swaarkry op plekke wat jou nie onmiddellik raak nie. Dit laat jou die regte ding doen, al weet jy dat jy nooit uitgevang gaan word nie en dat niemand sien wat jy doen nie.
’n Teologie van verantwoordelikheid verplaas nie die skuld na ander nie. Dit help jou om die regte ding te doen (bv. om ekologiese sensitief te leef), al voel dit vir jou of jou daad geen positiewe verskil sal maak nie. Dit sal jou nooit toelaat om iets verkeerds te doen omdat iemand anders alreeds iets verkeerds gedoen het en jy “ook nou ’n kans moet kry nie”.
Dit laat jou soms sonder vergoeding na ure werk. Dit beteken nie dat jy uitbuiting goedkeur nie. Dit laat jou egter met ’n gesindheid van vrygewigheid lewe. Dit help jou om antisiperend te lewe. Dit laat jou moeilikheid sien voor ander dit sien en doen dan iets om die moeilikheid te voorkom.
Dit vra wysheid. Wysheid wat bekom word deur die liefdevolle, sensitiewe werking van die Gees in jou. Suid-Afrika het meer mense nodig wat ’n teologie van verantwoordelikheid verstaan en uitleef.