Vrouemaand: Dogters van God, jy word gesien en gehoor

👤 David Magerman

Ons begin alweer met Augustus maand. Augustus is bekend vir sy winde. Die maand is ook bekend as vrouemaand. Ek dink vanoggend aan ‘n vrou in die Bybel. “Sy dissipels het Hom geantwoord: U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: ‘Wie het aan My geraak?’ Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel.” (Markus 5: 31-33)

Jesus het vroue raakgesien

Ons ken almal die verhaal van die vrou met bloedvloeiing. Wat my tref in die verhaal, is dat sy vir Jesus haar hele geskiedenis vertel het. Jesus het presies geweet dat sy aan Hom geraak het. Maar Jesus gaan staan en vra nogsteeds, wie het aan my geraak? Dit wys vir my die genade en liefde van God. Juis daardeur gee Jesus vir hierdie vrou die geleentheid, om gesien te word. Vroue was mos nie werklik raak gesien in Jesus se tyd nie. Jesus gee haar die kans, om haar storie te vertel. Sodat sy kan voel en ervaar, sy word gesien en gehoor as mens. Sodat sy kan ervaar sy het waarde by God. Sodat sy kan ervaar sy is spesiaal en bemin in die oë van die Here…

Wat my tref, daar voor almal, nie in die geheim nie – vertel sy haar storie. Sy praat oor haar pyn, haar uitdagings, haar sonde. Sy bely net daar voor die skare. Juis daar voor almal, genees die Here haar. Sy het alreeds gesond geword, deur aan Jesus se kleed te raak, maar God genees haar gees en siel ook. Jesus doen mos ‘n volmaakte werk.

Vroue van Suid Afrika, neem hierdie vrou se voorbeeld. Gaan stort julle harte uit by Jesus. Vertel Hom alles. Julle pyn, julle uitdagings, julle sondes, julle hele geskiedenis. Sodat ook julle die woorde kan hoor: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

Geseënde vrouemaand…

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Skeppingsorg: Spaar water by kerkgeboue en huise

  • Bid vir Oekraïne: Hoop ten spyte van oorlog

  • Gebed vir Soedan: God sien die vergete raak