Waarheid in die era van KI: ‘n Christelike perspektief

👤 DJ Muller

In die hedendaagse digitale era ontwikkel tegnologie teen ‘n ongekende tempo. Met die opkoms van kunsmatige intelligensie (KI) het dit makliker geword om inhoud te skep wat werklik lyk, maar heeltemal vervals is. Van KI-gegenereerde nuusberigte tot deepfake-video’s is die grense tussen waarheid en valsheid dikwels vaag. As Christene word ons geroep om draers van die waarheid te wees, sowel in die werklike as die digitale wêreld. Maar wat beteken dit om waarheid te handhaaf in so ‘n komplekse omgewing?

Die uitdaging van KI-gegenereerde inhoud

KI-tegnologie het so ver gevorder dat dit baie oortuigende inhoud kan genereer, van teks tot beelde en selfs video’s.

Dink byvoorbeeld aan die onlangse video van ‘n leeu wat homself trommeldik vreet by die vleisrak in ‘n supermark. Die video, getiteld “Wild Lion Enters Grocery Store in South Africa”, het binne dae meer as 22 miljoen kyke gehad. Dit is die samevloeiing van kuns, tegnologie en vermaak. Die skepper daarvan gebruik hierdie gereedskap om nuuskierigheid te wek, emosies aan te roer, of eenvoudig die grense van moderne digitale storievertelling te toets. Soms gaan dit oor bloot vermaak of om “wow”-reaksies te kry. Ander kere probeer mense viral gaan — soos met hierdie video. Maar al is dit nie altyd bedoel om te mislei nie, vervaag die grens tussen werklikheid en digitale fiksie al hoe meer.

Die feit dat hierdie tipe inhoud so moeiteloos geskep kan word, het gelei tot ‘n toename in misleidende inligting, wat dit moeilik maak vir die gemiddelde persoon om tussen feit en fiksie te onderskei. Dink so daaraan: die wêreld word dit wat ons daarin uitstuur en toelaat. Indien ons eerstens gedurig leuens skep (soos deepfake-video’s) of tweedens toelaat dat dit verder gedeel word, is ons agente van leuens. Hoe meer die wêreld gekenmerk word deur ‘n kultuur vol leuens, sal ons al hoe meer met verdagtheid moet leef. Is dit ‘n wêreld waarin jy wil leef?

Maar in hierdie nuwe landskap word ons, as Christene, gekonfronteer met die vraag: Hoe verseker ons dat die inligting wat ons deel, waar is? Hoe kan ons onderskei tussen wat werklik is en wat vervals is?

Bybelse grondslag vir waarheid

Die Bybel bied duidelike leiding oor die belangrikheid van waarheid. Jesus Self word beskryf as die beliggaming van waarheid in Johannes 14:6, waar Hy sê: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe.” As gevolg van ons navolging van Christus word ons geroep om Sy waarheid in ons daaglikse lewe te weerspieël, sowel aanlyn as “aflyn” — om agente van waarheid te word. Agente wat die wêreldwye landskap suiwer van leuens hou.

Ons verantwoordelikheid as christene

Om agente van waarheid in die digitale era te wees, gaan verder as net die verifikasie van inhoud voordat ons dit deel. Dit behels ‘n verbintenis tot integriteit en verantwoordelikheid. As gelowiges moet ons:

1. Verifieer voordat ons deel

Die gemak waarmee misleidende inligting gedeel kan word, vereis dat ons ekstra stappe neem om die akkuraatheid van die inhoud wat ons teëkom, te verifieer. Gebruik betroubare bronne en feitkontroleringsinstrumente om te verseker dat wat ons deel, waar is.

Gebruik hiervoor platforms soos:

2. Dink Koninkryksgerig

Gebruik digitale platforms as ‘n ruimte om God te eer. As burgers van God se Koninkryk behoort ons ook aanlyn Sy waardes te verteenwoordig. Dit beteken nie net om te vra of iets tegnies waar is nie, maar ook: Getuig dit van geregtigheid, barmhartigheid en liefde? Deel ek dit omdat dit die wêreld meer hoopvol, eerlik en regverdig maak — of net om sensasie aan te blaas?

3. Bestry die leuen met die waarheid

Om ‘n leuen te vertel of te skep is taboe vir ons, juis op grond van ons geloofsoortuiging. Maar wat daarvan om oor ‘n leuen stil te bly? Is dit nie net so taboe nie? Die realiteit is: leuens word nie beveg met stilswye nie, maar met waarheid wat die leuen teenstaan. Ons word opgeroep om leuens op ‘n liefdevolle en deernisvolle wyse te bestry deur die lig op die waarheid te werp.

Omdat digitale inhoud maklik gemanipuleer kan word, het Christene ‘n unieke rol om waarheid te handhaaf. Die Skrif herinner ons dat waarheid nie net ‘n konsep of teorie is nie. Dit is ‘n persoon — Jesus Christus. As Sy volgelinge word ons geroep om Sy waarheid in alles wat ons doen, insluitend ons digitale interaksies, te weerspieël. Deur gewortel te wees in die Woord van God, onderskeiding te beoefen en integriteit te bevorder, kan ons kragtige getuies van waarheid wees in die digitale era.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: