“Waar’s jou skoene?” vra ons. Die antwoord wys na Jesus

👤 Wilmi Wheeler

Toe Jesus in Matteus 25:40 gesê het, “Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen,” het Hy nie bedoel dit is net van toepassing in n ideale wêreld nie. Hy’t bedoel hier. In ’n kerksaal. Op ’n koue Mei-oggend in Bellville. Tussen rakke vol tweedehandse klere en mense wat nie eintlik ooit die opsie het om self te kan kies nie.

Dis maklik om die Bybel aan te haal. Moeiliker om die Bybel aan te trek en te leef. Maar dan kruis jou paaie met mense wat die evangelie net snap op ’n vlak waar teoloë soms sukkel.

Soos Joa.
Joariëtte, maar almal noem haar net Joa, want, soos sy self sê, “my volle naam is gewoonlik te moeilik.” En dalk pas dit juis. Want niks aan hierdie storie gaan eintlik oor gemak nie.

Ons het vir Joa raakgeloop tydens die Street Store-geleentheid wat by NG Gemeente Bellville-Wes gehou is. Street Store se teikenmark is haweloses, maar dit is glad nie ’n plek van jammerkry nie, eerder van waardigheid. Hier word klere nie bloot weggegee in swartsakke, stilte en met minimale oogkontak nie. Hier kan mense self kies. Self deur die rakke snuffel. Self besluit.

Joa was nie een van die mense wat daardie dag iets kom kry het nie, maar een van dié wat gekom het om te gee.

Op pad na die uitgang, sien ons vir haar. Sonder skoene. Langs haar stap ’n vrou. Swanger, agt maande, met ’n paar gemaklike skoene aan haar voete. ’n Ou paar steek onder haar arm uit.

Ons vra vir Joa: “Waar is jou skoene?”

Sy lag: “Op ’n beter plek.”

Sy vertel van die swanger vrou wat saam met haar deur die rakke gestap het. Hoe hulle eers vir haar kind klere gekies het. Hoe daar teen die tyd wat hulle by die skoene kom, nie meer ’n gemaklike grootte 5-skoen oor was nie. Joa merk toe op hoe die vrou se oë net te lank op haar skoene rus. Maar sy vra nie daarvoor nie. Sy kyk net.

En Joa verstaan. Want sy’t self ’n baba by die huis. Sy onthou hoe swaar en seer voete voel aan die einde van ’n swangerskap.

“Sy het niks gesê nie, maar ek het geweet,” sê Joa. “En vanoggend toe ek bid, het ek geweet iets van my gaan vandag agterbly. Ek het vir God belowe: As iemand iets wat ek vandag aanhet komplimenteer, sal ek dit vir hulle gee. En toe sê hierdie vrou my skoene is vir haar baie mooi.”

En toe gebeur dit. Joa trek stilweg haar eie skoene uit.

Nie omdat iemand dit van haar vra nie. Nie omdat sy ‘n ekstra paar byderhand gehad het nie. Maar omdat sy gebid het om gelei te word.

Sy het die paar snoesige skoene afgestaan met voorbedagte liefde. Omdat sy voor die tyd vir die Here gesê het: “As iemand vandag iets van my nodig het, wys dit vir my.”

En toe Hy wys, gee sy. Sonder huiwering. Sonder voorwaarde.

Want dis hoe Jesus is.

Ek kyk weer na haar kaal voete en ek dink: Dis nie almal wat hul skoene sal uittrek vir iemand anders nie. Dis selfs minder wat daarvoor sal bid.

Maar is dit nie juis wat God van ons vra nie? Om ons geloof prakties uit te leef. Waar Jesus nie net gebid word nie, maar gestap word. Waar gebed nie in ’n vertrek agterbly nie, maar saamloop tot by die rak, tot by die seer en geswelde voete van ’n vrou in nood.

Toe Moses vir God ontmoet het, moes hy sy skoene uittrek, want die grond was heilig. Toe Joa Jesus volg daardie dag, het sy haar skoene uitgetrek… want die oomblik was heilig.

Nie omdat die vloer magies was nie. Maar omdat God daar was.

Joa se storie is nie net mooi nie. Dit is heilig. Dis ’n beeld van wat kan gebeur wanneer geloof nie net gedink word nie, maar geleef word. Wanneer ons luister na daardie sagte stem van die Gees wat sê: Gee. Vertrou. Wees die hande en voete van Christus.

Daardie oggend het een vrou huis toe gegaan met warm voete. En ’n ander een het kaalvoet teruggestap, maar met ’n warm hart.

Beide is aangeraak. Beide het iets ontvang.

Wat van jou? Wat het jy vandag aan wat dalk iemand anders nodig het? Want waar God se kinders bid om deel van sy plan te wees, daar gebeur dinge wat skoene te klein is om te dra.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: