Wêreldomgewingsdag: Ons moet God se tuin versorg

👤 Johan West

Elke jaar, op 5 Junie, word miljoene mense regoor die wêreld herinner aan iets wat ons maklik vergeet wanneer die lewe besig raak: die aarde is nie bloot die plek waar ons woon nie, dit is die fondament waarop elke aspek van ons bestaan rus. Hierdie dag staan bekend as Wêreldomgewingsdag (World Environment Day), die grootste internasionale omgewingsbewustheidsdag ter wêreld, onder leiding van die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (UNEP). Dit is reeds in 1972 tydens die historiese Stockholm-konferensie oor die menslike omgewing ingestel en word sedert 1973 jaarliks gevier.

Baie mense verwar Wêreldomgewingsdag met ander internasionale omgewingsdae soos Earth Day (22 April) of Earth Hour, wanneer mense vir een uur ligte afskakel. Al hierdie dae fokus op die aarde, maar Wêreld-Omgewingsdag is uniek omdat dit die amptelike wêreldwye omgewingsdag van die Verenigde Nasies is, met ’n spesifieke jaarlikse tema en ’n gasheerland wat die wêreld se aandag op dringende omgewingsuitdagings vestig.

In 2026 word die internasionale vieringe deur die Republiek van Azerbeidjan aangebied. Die fokus is klimaatverandering onder die tema: “Inspired by Nature. For Climate. For Our Future.” Die boodskap is eenvoudig maar kragtig: die natuur is nie ’n luukse nie. Dit is ons eerste verdedigingslinie teen klimaatsverandering.

Vir Suid-Afrikaners is hierdie tema nie ’n abstrakte internasionale gesprek nie. Dit is ons werklikheid.

Hoekom is Wêreldomgewingsdag belangrik?

Net die afgelope paar jaar het ons gesien hoe klimaatsverwante rampe gemeenskappe verwoes. Die verwoestende Durban-vloede van 2022 het meer as 400 lewens geëis. In 2025 het die Mthatha-vloede weer talle lewens geneem en skole en gesondheidsfasiliteite beskadig. Hierdie jaar het swaar reën en oorstromings dele van die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat, Mpumalanga en Lesotho getref, met duisende mense wat hul huise, inkomste en sekuriteit verloor het. Terwyl sommige gemeenskappe vinnig herstel, bly die armstes dikwels jare lank vasgevang in die gevolge van sulke rampe.

Daarom tref die woorde wat dikwels gebruik word wanneer klimaatsverandering bespreek word, die hart van die saak: “Ons is almal in dieselfde storm, maar nie in dieselfde boot nie.” Diegene met die minste hulpbronne dra dikwels die swaarste las. Vir gelowiges bring dit ’n belangrike geestelike vraag na vore: Wat beteken dit om rentmeesters van God se skepping te wees?

Die evangelielesing vir vanjaar se liturgie, Matteus 9:18-26, vertel van die vrou wat twaalf jaar lank gebloei het en van die jong meisie wat as dood beskou is. Albei verhale handel oor herstel, hoop en nuwe lewe. Die vrou, uitgestoot deur die samelewing, raak aan Jesus se kleed met ’n klein daad van geloof. Die jong meisie word deur Christus se teenwoordigheid weer opgewek.

Die simboliek is treffend. Ons aarde bloei vandag. Riviere word besoedel. Inheemse woude verdwyn. Vleilande droog op. Visvoorrade word uitgeput. Dierspesies verdwyn teen ’n tempo wat die wêreld lanklaas gesien het. Tog wys die evangelie dat herstel moontlik is.

Wanneer gemeentes bome plant, waterbronne beskerm, afval verminder, energie bespaar of omgewingsopvoeding ondersteun, word daardie klein geloofsdade deel van iets groter. Die Helderberg-gemeenskap verstaan dit goed. Ons leef tussen die berge, die fynbos, die see en opvangsgebiede wat miljoene mense van water voorsien. Die gesondheid van hierdie natuurlike stelsels bepaal uiteindelik die gesondheid van ons eie gemeenskappe.

Wetenskaplikes waarsku reeds dat ’n moontlike sterk El Niño-siklus in die komende jare ernstige gevolge vir dele van Suider-Afrika kan hê. Hoër temperature, langer droogtes, verhoogde brandgevaar en druk op waterbronne kan gemeenskappe, landbou en voedselveiligheid verder onder druk plaas. Water is immers nie net ’n hulpbron nie. Dit is lewe self.

Wanneer ons dus oor die omgewing praat, praat ons eintlik oor mense.

Ons praat oor kos op tafels.

Ons praat oor boere se oeste.
Ons praat oor kinders se toekoms.
Ons praat oor die veiligheid van ons dorpe en stede.
Ons praat oor die wonder van God se skepping.

Wêreldomgewingsdag herinner ons daaraan dat omgewingsorg nie ’n politieke modewoord of ’n internasionale veldtog is nie. Dit is ’n geloofsdaad. Dit is liefde in praktyk. Dit is om God se tuin te versorg ter wille van die volgende geslag. Miskien is dit ook die boodskap vir ons tyd. Nie groot gebare alleen nie, maar miljoene klein, getroue dade van hoop, verantwoordelikheid en liefde vir die skepping kan help om genesing te bring aan ’n wêreld wat steeds wag vir herstel.

Want die aarde behoort nie aan ons nie. Ons behoort aan die aarde wat God aan ons toevertrou het.

plastiek, water, klimaatsverandering, wêreldomgewingsdag

Wenke en winskopies vir gemeentes en gelowiges

Vier Wêreldomgewingsdag deur een nuwe groen gewoonte aan te leer en dit vir die res van die jaar vol te hou:

  • Plant ’n vrugteboom of inheemse boom wat vir dekades skaduwee, koolstofopvang en habitat sal bied
  • Begin ’n klein groentetuin, selfs al is dit net kruie, spinasie of blaarslaai in potte
  • Oorweeg ’n paar agterplaas-hoenders vir vars eiers en natuurlike komposmateriaal
  • Maak jou eie kompos van kombuisafval en verminder sodoende afval wat na stortingsterreine gaan
  • Vang reënwater op in dromme of tenks vir tuin- en huishoudelike gebruik
  • Gebruik deklaag (mulch) in jou tuin om waterverbruik aansienlik te verminder
  • Plant inheemse plante wat minder water benodig en beter aangepas is vir plaaslike toestande
  • Verminder voedselvermorsing deur maaltye vooraf te beplan en oorskietkos kreatief te gebruik
  • Koop plaaslike produkte waar moontlik om vervoeruitstoot te verminder en plaaslike boere te ondersteun
  • Skakel ongebruikte ligte, geysers en toestelle af om elektrisiteitskoste te bespaar
  • Vervang ou gloeilampe met energiedoeltreffende LED-ligte
  • Gebruik sonkragtuinligte of klein sonkragstelsels waar moontlik
  • Herstel lekkende krane en toilette om honderde liters water per maand te bespaar
  • Stap, fietsry of deel vervoer vir kort ritte waar moontlik
  • Ondersteun plaaslike markte, gemeenskapstuine en volhoubare ondernemings
  • Neem deel aan ’n buurt-skoonmaakaksie of organiseer een in jou straat of woongebied
  • Beskerm natuurlike waterlope, vleilande en oop ruimtes in jou gemeenskap
  • Leer kinders dat elke klein aksie saak maak – die beste omgewingsoplossings begin dikwels by die huis
  • Oorweeg klein bykomende inkomstegeleenthede soos groenteproduksie, komposverkope, saailingkwekerye of herwinningsinisiatiewe
  • Gebruik Wêreldomgewingsdag as ’n geleentheid om jou gesin se water-, energie- en afvalvoetspoor te evalueer
  • Onthou: ’n Gesonde omgewing beteken gesonder mense, laer huishoudelike uitgawes en groter voedselsekerheid

Het jy hulp nodig met omgewingsbestuur, waterbesparing, herwinning, voedselproduksie, biodiversiteit of groen projekte? Kontak ons gerus by info@greenrepublic.co.com vir meer inligting en praktiese oplossings.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Volhoubare gastronomie: Meer as kos op die tafel

  • 40 Years of MES: When a milestone becomes worship

  • Aanpassing weens klimaatsverandering is nie meer ‘n keuse nie