Palmvriende: Omgee begin by teenwoordigheid

Mariëtte Odendaal

“Ja, jong, nou sal jy sien hoe jou kinders jou vergeet!” So is my ma die eerste dag in die huis vir bejaardes in haar tuisdorp deur ’n ou kennis begroet. Gelukkig het sy gou vriende gemaak en het haar vier kinders haar beslis nie vergeet nie. Inteendeel.

Ons weet hoe daar in elke gemeente seniors is wat nie meer maklik by eredienste of byeenkomste kan uitkom nie, maar steeds die behoefte aan menslike warmte, luister en gesels het.

As ’n gemeente proaktief optree, kan vereensaamde seniors betyds raakgesien word — lank voordat stilte en isolasie wortel skiet. Die NG Kerk Langebaan is ’n gemeente wat hierdie behoefte raakgesien het en iets daaraan begin doen het.

Palmvriend Kuiers skiet wortel in Langebaan

Die Palmvriend Kuiers het in 2024 ontstaan danksy gesprekke tussen ds. Johan Groenewald, afgetrede leraar, en ds. Santie Nel. Die inisiatief het ten doel om Christus se liefde nie net te verkondig nie, maar ook prakties uit te leef.

In Augustus 2024 het Estelle Prinsloo by die gemeente se Senior Bediening Aksie (SBA) betrokke geraak. “Dit was in hierdie tyd dat die besoeke aan seniors begin het, en ek as sekretaresse onder andere die kuierlyste saamgestel het,” verduidelik sy. “Intussen het ds Johan Smit in Maart 2025 by ons as leraar aangesluit en fokus op die seniors in ons gemeente. Hy is aktief betrokke by die SBA.”

Estelle vertel dat hulle gewoonlik begin deur eers senior lidmate te identifiseer wat so ’n kuier sal waardeer. “Ons begin by seniors wat geïsoleerd is of minder beweeglik geword het. Hulle word telefonies gekontak en gevra of hulle graag besoek wil ontvang. ’n Lys word daarvolgens saamgestel en deurlopend opgedateer om seker te maak dat niemand oorgeslaan word nie.

“Hierdie seniors word dan met ’n Palmvriend verbind,” sê sy. “Daarna reël hulle self die dag en tyd. Die fokus van elke kuier is eenvoudig: Kuier, luister, toon belangstelling en wees daar. Hierdie eenvoudige benadering maak dit maklik vir verhoudings om op ’n natuurlike manier te groei.

“Dit is beslis geen formele of pastorale besoeke nie, maar net ’n informele gesellige koffie- of teedrink-kuier by iemand wat nie meer by die kerk kan uitkom nie of ver is van familie en vriende. Dit is die primêre doel van Palmvriende en hou dus geen administratiewe las in nie.

“Palmvriende laat weet wanneer ’n kuier plaasgevind het. Die sekretaresse hou drie lyste op datum, naamlik seniors wat besoek wil word, die Palmvriende en wie by wie kuier. Sodoende kan hulle vinnig sien waar daar opvolgbesoeke nodig is — sonder om die spontane vloei van verhoudings te versteur.”

Hulle gee ook nuwe mense kans om Palmvriende te word. Elke nuwe Palmvriend ontvang ’n kort gesprek waarin die doel van die kuier verduidelik word — wat hul rol is, en wat dit nie is nie.

Palmvriende hoef egter nie probleme op te los nie. As ’n senior ’n behoefte of bekommernis deel, word dit na die geskikte persoon verwys vir verdere aandag.

Palmvriende ontvang ook ondersteuning wanneer hulle onseker voel of vrae het.

Hierdie Palmvriende-inisiatief bind onbekendes aan mekaar wat later groot vriende kan word. Dit omarm ’n groep mense wat andersins nooit so prakties deel van die gemeente sou kon wees nie.

Hierdie kuierkultuur bring geselligheid en menslikheid terug in huise waar stilte dikwels die enigste geselskap is.

Die waarde van Palmvriende kuiers

Een van die besoekers aan senior lidmate vertel: “Die kuiers by die tannie is een van die hoogtepunte in my maand. Sy verryk my lewe ek dink sy beteken dalk meer vir my as ek vir haar. Ons deel ons lewenstories, hartseer en vreugde. Wat ’n wonderlike mens.”

“Ons waardeer en verwelkom die maandlikse besoeke baie,” sê een van die seniors wat gereeld besoek word.

“Elke besoek is vir my heerlik,” sê ’n ander senior. “Ons is geesgenote en daarom kan ons praat oor ons behoeftes; iets wat vir my baie lekker is. Sy luister met baie deernis na al my stories. Sy is ook baie gewillig om my te help waar nodig. Sy het my al dokter toe geneem en sy bring ook vir my lekker klaargekookte kos. Dis vir my heerlik dat sy in my lewe gekom het.”

Nog ’n senior vertel: “Die besoeke verryk ook my lewe aangesien daar ’n opregte en waardevolle vriendskap ontstaan het. Ons geniet mekaar se geselskap werklik en kan oor amper enige onderwerp openlik gedagtes wissel.”

’n Mens kan nie help om te wonder hoe Palmvriende dit entoesiasties kan volhou nie. Volgens Estelle lê die geheim in die eenvoud en deurlopende aanpassing daarvan. “Beide die seniors en Palmvriende neem verantwoordelikheid vir die kuier,” verduidelik sy. “Nuwe seniors word voortdurend geïdentifiseer en nuwe Palmvriende word verwelkom. Ons luister, leer en pas aan soos die program groei.”

Vandag bestaan Langebaan-gemeente al uit 39 Palmvriende wat 80 besoekpunte bedien. “Die getalle bly stabiel,” sê Estelle, “maar die ware groei lê in die verhoudings: meer mense wat wil help, meer seniors wat besoek word, en ’n gemeente wat die waarde van omgee herontdek.

“Ons kuier. Ons luister. Ons sien raak.”

Palmvriende Kuiers is nie ’n projek nie — dit is ’n kultuur van teenwoordigheid. ’n Stil, eenvoudige manier waarop Christus se liefde sigbaar word in gewone gesprekke, koppies tee, lag, trane en menswees.

Het jy dalk ’n uur per maand waartydens jý iemand se wêreld ligter kan maak — ’n eenvoudige kuier wat vir iemand anders ’n lewenslyn kan wees?

Vir meer inligting kan Estelle Prinsloo by estelleprinsloo31@gmail.com gekontak word.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: