In ‘n tyd waarin ons poog om die kerk te herstel as ‘n plek van eenheid en versoening, is dit bemoedigend om te sien dat daar al in sommige dorpe en gemeentes ‘n groeiende beweging van samewerking tussen die NG Kerk en die VGK is.
Die Sentrum vir Publieke Getuienis erken egter dat daar steeds ‘n groot aantal gemeenskappe is waar die verhoudinge nog nie volkome herstel het nie. Tog glo hulle dat genesing moontlik is en dat gemeentes deur geduld en doelgerigte optrede die skeiding kan oorbrug.
Hulle deel ‘n paar wenke wat gemeentes kan help om hierdie uitdagende maar noodsaaklike pad van versoening en eenheid te stap.
Wenke vir herstel en eenheid in ons kerke:
1. Erken die onverwerkte seer
Die moeilikheid lê dikwels onder die oppervlak. Daar is baie onverwerkte seer en emosies wat verhinder dat samewerking plaasvind. Vertroue is laag en wantroue is dikwels hoog. Dit is belangrik om hierdie gevoelens te erken voordat ware versoening kan plaasvind.
2. Neem die eerste stap
Iemand moet dapper genoeg wees om die eerste stap na herstel te neem. Dit kan ‘n moeilike besluit wees, maar dit is dikwels die katalisator vir ware verandering.
3. Verhoudings eerste, strukture later
Werk aan die bou van verhoudings voordat jy probeer om strukture te verander. Wanneer mense mekaar vertrou en respekteer, volg strukturele verandering makliker.
4. Geduld en volharding is bitter belangrik
Wees geduldig en volhard. Mense voel dikwels moedeloos wanneer hulle nie onmiddellik resultate sien nie, maar volharding is nodig vir langtermyn sukses.
5. Fokus op teologiese eenheid
Eenheid is nie ‘n politieke saak nie; dit is ‘n geloofsaak. Preek oor die teologiese vertrekpunte vir eenheid en herinner gemeentes dat die Woord van God ons roep om een te wees.
6. Gebruik ‘n mediator indien nodig
As die klowe te diep is en emosies te rou, kan ‘n mediator help. Moenie huiwer om ’n buitekenner in te roep nie – dit is dikwels die wyse pad vorentoe.
7. Skep ‘n gesamentlike droom
Vind ‘n gesamentlike doel vir die dorp wat groter is as enige individuele gemeente en werk saam om dit te bereik. Drome wat groter as ons eie belange is, bind mense saam.
8. Bou vriendskappe
Begin met ‘n klein gespreksgroep en raak vriende. Ware vriendskap is die grondslag van blywende eenheid.
9. Oorkom ongelyke betrokkenheid
Die verhouding sneuwel dikwels wanneer die VGK byeenkomste bywoon, maar die NG Kerk huiwer om dieselfde te doen en andersom. Werk hard daaraan om ‘n wedersydse betrokkenheid te skep.
10. Hanteer mekaar se nood
Identifiseer wedersydse nood en reik uit om te help. Wanneer ons mekaar ondersteun, begin ons om die mure van wantroue af te breek.
11. Soek gesamentlike projekte
Plant saam ’n groentetuin of werk aan ander gemeenskapsprojekte. Sulke praktiese inisiatiewe bring mense saam en bou verhoudings.
12. Bid saam
Maak die proses van eenwording ‘n saak van gebed. Dit is uiteindelik ‘n geestelike reis waarin ons nader aan Christus beweeg en so ook nader aan mekaar.
13. Praat reguit en eerlik
Wees eerlik en praat reguit oor die uitdagings en seer wat julle ervaar. Eerlikheid is die enigste manier waarop ware genesing kan plaasvind.
14. Vertrou Christus as middelpunt
Fokus op die sentraliteit van Christus en die kruis. Nader aan Christus beteken ook dat ons nader aan mekaar beweeg. Onthou, daar is net een kruis!
15. Werk saam met leierskap
Raak betrokke by die gemeenskaplike leierskap in die dorp. Gaan gesamentlik na die burgemeester of stadsraad en werk aan gemeenskaplike doelwitte vir die dorp.
16. Aanvaar opoffering
Verhoudingsherstel verg soms opoffering. Soos die koringkorrel moet sterf om vrug te dra, moet ons ook bereid wees om ons eie belange prys te gee vir die groter doel van eenheid in Christus.
‘n Terugblik op die Eenheidskonferensie tussen NG Kerk en VGK
`n Tyd gelede het daar ook ‘n eenheidskonferensie tussen die VGK en NG Kerk plaasgevind. Graag haal ons ook enkele belangrike paragrawe aan uit die verslag wat na die tyd verskyn het:
“Op die vlak van insig, oortuiging en kennis het ons gesien dat daar ‘n sterk gedeelde oortuiging is dat die Woord van God eenheid van ons verwag (“…een sodat die wêreld kan glo…”). In hierdie opsig is daar ook ‘n gedeelde verbintenis aan Belhar. Daar is ook breë instemming dat eenheid ‘n uitdrukking is dat nie ons eie of kulturele identiteit nie, maar ons identiteit in Christus bepalend is. Verder is deelnemers oortuig dat die reis na eenheid ‘n proses is na vertroue, selfs dat “stop & go” deel daarvan is. Die groep weet dat die deel van verhale met mekaar ‘n belangrike bousteen in die proses moet wees, ook al maak dit seer. Verhoudings is vir die groep die belangrikste bousteen, en om dit te bou glo hulle leiers is nodig wat veiliger ruimtes kan skep en gesprek kan fasiliteer.
Tweedens het ons gesien dat die deelnemers se houdings in die eenheidsprosesse verander het na groter vertroue op God (wat met ons sal aanhou) en vertroue in mekaar (wat wedersyds vertrou kan word en vriende wees). Mense het werklik lief geword vir mekaar. Empatie het gegroei, of die vermoë om myself in ander se skoene te plaas.
Vasberadenheid om in die prosesse te bly ook al is daar moeilike tye, het uitgestaan. Mense het bereid geword om aan te hou loop al is dit lank en al is dit ongemaklik. (“Ons dans met mekaar en al trap ons nou en dan op mekaar se tone, hou ons aan dans”.) ‘n Prominente houding is die een van “dit gaan nie oor my as die leier nie, hier is iets veel groter as ek”. Leerbaarheid en ontvanklikheid speel ook ‘n groot rol; daar is ‘n sterk skuif van “ek wil sê” na “ek wil hoor”.
Derdens het bepaalde vaardighede gegroei. Luistervaardighede troon hier uit. Om geduldig en eerlik te praat en te luister en sodoende tot beter begrip te kom en verhoudings van vertroue te bou. Hier en daar skemer die insig dat spesiale pioniers vaardighede nodig is, en so die vermoë om daadwerklik vennootskappe te vorm,
Dit is egter op die vlak van vaardighede waar ons in die analise die grootste leemte sien. Deelnemers is nie geartikuleerd oor die soort leierskapsvaardighede wat benodig word om gemeentes te betrek en saam te neem en sodoende die eenheid in die praktyk te implementeer nie. Dit laat die vraag ontstaan hoe die implementerings vaardighede lyk wat nodig is (meer as slegs die belangrike luister vaardigheid) en hoe goed hierdie implementerings vaardighede ontwikkel is.
Hiermee saam hang ook die vraag of leiers wat betref die formele- of organisasie-kant bemagtig is. Die tafelgesprekke oor die Tussen-orde moet nog fyn geanaliseer word, maar dit is duidelik dat deelnemers onseker is en uitdagings ondervind as dit kom by protokolle en die reglemente wat ondersteuning moet bied om te kan vorder.
Vierdens is dit bemoedigend om vele voorbeelde te hoor van klein praktyke en gewoontes wat wel ‘n verskil maak. Voorbeelde is: bid saam; hou aan gesels; vergader saam; hou saam ringsittings en eredienste wat plek wissel; ruil kansels; hou saam retraite; bevestiging waardes en Belhar herhaaldelik; Wandel twee-twee in die Woord; kuier as egpare twee-twee oor en weer om verhale te deel; leraars ondersteun mekaar maandeliks; kinders speel saam; deel bronne; evalueer en vier die eenheid elke jaar.
Oorhoofs sou onder andere gesê kon word die eenheidskonferensie het bevestig:
- Blootstelling aan mekaar verander ons.
- Ons eenheid in Christus is belangriker as eie oorlewing.
- Daar is meer stories van hoop as doodloopstrate.”
Die weg vorentoe vir die NG Kerk en VGK
Ons sien in die verslag van ‘n eenheidskonferensie tussen die NG Kerk en VGK hoe ware verandering kan plaasvind. Deelnemers het hul verbintenis tot eenheid in Christus bevestig, en klein praktyke soos gesamentlike bidure, ringsittings en gemeenskapsprojekte het ‘n diep impak gehad.
Eenheid is moontlik en die pad daarheen word geplavei met gebed, volharding en opregte verhoudings. Soos ons nader aan Christus beweeg, beweeg ons ook nader aan mekaar. Laat ons aanhou dans, al trap ons soms op mekaar se tone, want ons is almal deel van die een liggaam van Christus.
“Blootstelling aan mekaar verander ons. Ons eenheid in Christus is belangriker as ons eie oorlewing.”