Vyf predikante. Vyf woorde. Een SAAMkoms.

Kaapkerk Kommunikasie

Die nasionale Predikante SAAMkoms het van 24 tot 28 Augustus 2026 by Goudini in die Wes-Kaap plaasgevind en sowat 700 NG predikante van regoor Suid-Afrika bymekaargebring. Dit was die eerste geleentheid van sy soort in meer as twee dekades. Oor hierdie paar dae kon kollegas van die kerk aanbid, leer, luister, gesels, rus en weer saam oor hul roeping en die kerk droom.

Die program het ruimte gemaak vir groot byeenkomste én kleiner gesprekke; vir toerusting en nuwe idees, maar ook vir kuier, stilte en die herontdekking van ou vriendskappe. Tussen sessies, sang, gesprekke en toevallige ontmoetings het mense weer iets beleef van wat dit beteken om saam geroep te wees.

In die dae daarna het verskillende stemme iets probeer verwoord van wat by Goudini by hulle bly hang het.

Vir dié foto-rubriek bring ons vyf van daardie stemme bymekaar. Vyf predikante. Vyf perspektiewe. En by elkeen een woord wat iets van hul belewenis van SAAMkoms 2026 saamvat.

Hendrien van Vliet (NG Kerk Kempton-Hoogland) | ONTVANG

Ek is selde sonder woorde. Inteendeel, ek het dalk soms te veel van hulle. Soms ook op die verkeerde tye. Maar op hierdie oomblik, nou, is ek propvol heilige oomblikke en emosies wat ek sukkel om te verwoord.

Die Here was vir ons goed hierdie week. Hy was teenwoordig. In groot momente, maar veral ook in kleintjies. In iemand raakloop wat jy jare en jare laas gesien het en net weer optel asof mens hulle net eergister gesien het. In die stiltes met die absolute verruklike uitsigte wat Goudini gebied het. In die raaksien. In die sessies. In die openheid wat almal gehad het. In die sang. O mense, die sang. Ek is veral diep geraak daardeur. Om in die liturgiese ruimte te sit en net deel te wees as ‘n lid van Christus se kerk en te aanbid.

En ek dink die mooiste van hierdie week was in die ontvang. Om ‘n geskenk van hierdie “magnitude” te ontvang laat my bewoë. Wat hierdie week tussen die Here se kinders gebeur het daar op Goudini, is niks minder as ‘n wonderwerk nie.

Ons ontvang moeilik. Ek ontvang moeilik. En ek dink ek is nie alleen nie. Daar was dalk voor die tyd so bietjie van ‘n agterdog by van ons: Wat kan ons verwag? Agendas? Vergaderings? Sessie op sessie op sessie? Maar dit was nie dit nie. Glad nie. Daar was so ‘n wye spektrum van aktiwiteite wat jy net kon gaan geniet en by leer. En ook ruim geleentheid vir kuier en stil wees en opvang en afpak. Om net te wees.

Die trane het vrylik geloop hierdie week. Ek voel skoon gewas. Ek voel opnuut dankbaar dat ek deel is van die Here se kerk. Deel van sy koninkryk. Deel van sy werk.

Sarize Retief (NG Kerk Aggenys) | DROME

Daar is so baie om hieroor te sê maar waar kan ‘n mens begin? Dit was ‘n ontmoeting van klasmaats, kollegas, vriende en hartsmense. Ek is so bevoorreg om deel te kan wees van ‘n kerk wat omgee vir hul pastors/predikante. Om deel te wees van ‘n kerk vol mense wat liefhet, soek, luister en voel. Om deel te wees van aanbidding wat jou hoendervleis gee en om liedere te sien saam n span wat met u gawes dien.

Ek is dankbaar om deel van iets groter as myself te wees. Om met mekaar te kon in check, kuier en lag oor ‘n glasie wyn. Om weer verhale te hoor van roeping en die uitleef daarvan. Ek kon wegstap met ‘n hart wat vol is, met nuwe drome en ‘n hart wat sal bly profeteer.

Rudolph Scharneck (NG Kerk Goudini) | EGTHEID

‘n Spreker haal tydens die afgelope predikante SAAMkoms by ATKV Goudini Spa iemand aan wat gesê het: “The greatest sin of our time is people being fake.”

Ek het egter gewonder of die grootste sonde van ons tyd nie eerder is dat egtheid nie verdra word nie. Wanneer iemand nie aan ‘n rits oppervlakkige standaarde voldoen nie word hulle beskinder en sosiaal geïsoleer. En die mens het nou maar eenmaal ‘n ingebore verlange om aanvaar te word. Dus word enorme druk op mense geplaas om voor te gee om te wees wie hulle nie werklik is nie. Jongmense is onder reusedruk om bomenslike prestasies te behaal omdat hulle heeltyd moet hoor as hulle dit nie bereik nie sal hulle nie aanvaar word nie. Allerhande verwagtinge van voorkoms en rykdom word gestel vir volledige aanvaarding. Kan mense wat voorgee om iets te wees wat hulle nie is nie dan kwalik geneem word?

Ek dink die grootste geskenk wat ons vandag vir mekaar kan gee, is om mekaar se menswees volledig te aanvaar en te vier en almal wat met ons in aanraking kom te laat beleef dis veilig om die maskers te laat sak.

En as ek moet sê wat vir my een van die kosbaarste dinge van die hele SAAMkoms was, was dat ek heel week kon beleef ek kan 100% myself wees tussen kollegas van oraloor die land. Vir niemand het dit gegaan oor prestasies of standpunte nie. Almal het bloot mekaar se menswees gevier as medegeroepenes.

Jana Dickason (NG Kerk La Rochelle) | PLEK

Ek was bevoorreg om my hart te deel. Dit was ‘n onbekende terrein. Die SAAMkoms se Idee Ateljee was ‘n ruimte waar predikante oor spesifieke onderwerpe hul perspektief, idees en praktyke wat werk of vrae ontlok kon deel in die die formaat van ‘n “ted talk.” Ek het gedeel wat die kriewel binne my genaamd, ADHD, is. Hoe hierdie kriewel van ’n neurodiverse brein onder soveel ander se vel klim. Hoekom? Want ek het te lank gevoel ek is stukkend. Ek is te veel. Ek is nie genoeg nie.

Tot ek begin leer en verstaan het dat ADHD, die kriewel in my, is my brein se bedrading.

Ek is nie ‘n kenner nie. Ek is net iemand wat die kriewel elke dag beleef en ervaar. Ek stap nie in Adidas of Puma sneakers nie, ek stap in die kriewelkind se skoene. Ek stap in die skoene van ‘n volwasse vrou wat op 34 uitgevind het sy het al die jare nie nét angs nie. Sy het ADHD. Ek was eerlik, braaf en ek was broos, want God se vingerafdruk is ook op die kriewelkinders.

Dankie vir die geleentheid en dankie vir elkeen se bevestigende woorde. Woorde wat gesê het: “Ek is ook ‘n kriewelkind.” Ons kriewelkinders pas nie oral in nie… Eintlik nêrens. Nie omdat ons nie kan nie of nie ‘n plek het nie, eerder omdat ons altyd probeer inpas in ‘n samelewing wat nie altyd ook vir ons ‘n plekkie gee om te pas nie.

Maar vandag kon ek klein van postuur, groot van hart, deel hoe ‘n dag in die lewe van ‘n neurodiverse persoon voel, hoe ek optree en funksioneer. As ek vandag een ding kon oordra, is dit dat die tafel, ons tafels, moet altyd ‘n stoel nader trek, ‘n plek maak, ‘n oor leen om te luister en ‘n tuiste skep waar almal welkom is. Nie nadat ons die kriewel beheer het wat onder jou vel klim wat neurotipies is nie, maar onophoudelik, onbeperk en sonder grense net soos ons is.

Joe Janse van Rensburg (NG Gemeente Jeffreysbaai) | NUUS

Na afloop van hierdie week het ek opgewonde op Netwerk24 gaan kyk. Ek wou sien wat die joernaliste gaan skryf oor hierdie week se Predikante SAAMkoms in Goudini. Hoe gaan hulle hierdie paar dae verwoord? Watter stories gaan hulle vertel?

Want daar was soveel mooi stories…

Verhoudings wat herstel is. Ou bande wat weer opgetel is. Vriendskappe wat nuwe lewe gekry het. Mense wat mekaar weer raakgeloop het. En dan was daar die uitnemendheid waarmee hierdie week aangebied is!

Soveel begaafde predikante. Predikante wat diep dink, goed kan lei, kreatief kan werk en met passie hulle roeping uitleef. Predikante wat nie net oor die toekoms van die kerk praat nie, maar dit met hulle lewens prakties help bou.

En tussen dit alles was daar iets wat my die meeste geraak het: Predikante wat lief is vir die Here.

Predikante wat, met hulle eie stories, verliese en uitdagings, steeds opstaan en hulle beste gee vir God, vir die kerk en vir mense.

Ek het toe besef: Hierdie is dalk nie die soort nuus wat altyd die meeste “clickbait” gaan kry nie.

“NG Kerk se predikante kom bymekaar, versoen, leer, aanbid, lag en droom weer saam” is waarskynlik nie heeltemal so aanloklik soos nog ’n storie oor wat alles verkeerd is nie.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: