Anandie Greyling: “Waar is jou ore?”
Wilmi Wheeler
As kind het Anandie Greyling nie altyd geluister soos sy moes nie. Haar ouers het gereeld vir haar gevra: “Waar is jou ore?”
Haar pa, wat op daardie stadium van haar lewe ’n slaghuis gehad het, het later begin spot dat hy vir haar varkore gaan aanwerk as sy nie beter luister nie. Vir Anandie het dit aanvanklik glad nie soos ’n dreigement geklink nie. Sy het aan die blom gedink, daardie sagte, mooi “varkore” wat in die tuin groei, en het gedink dit klink eintlik nogal cool.
Tot haar pa eendag, tot haar ma se ontsteltenis, met regte varkore by die huis opgedaag het…
Dit was met dié storie dat Anandie, die nuwe PSD: Gemeentebegeleiding, die Moderamenvergadering geopen het. ’n Kostelike herinnering uit haar kinderdae, maar ook ’n storie wat iets oopmaak van die moeiliker kuns van luister.
Want “Waar is jou ore?” is eintlik nie ’n slegte vraag vir die kerk nie.

Anandie het van daar af oor verwagting gepraat. Ons almal leef immers met verwagtings van mense, van ons werk, van die kerk en van die toekoms. Soms laat dit ons uitsien na wat kom. Ander kere word verwagting juis die plek waar teleurstelling begin, omdat die werklikheid nie lyk soos die prentjie wat ons vooraf in ons gedagtes gevorm het nie.
Dit is waarskynlik waarom Johannes 1 se ontmoeting tussen Filippus en Natanael so goed by dié gesprek pas. Filippus ontmoet Jesus en gaan soek vir Natanael met groot nuus: “Ons het Hom gevind.” Jesus van Nasaret.
Natanael se reaksie is nie juis entoesiasties nie: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”
Hy het klaar verwagtings. Hy dink hy weet wat ’n mens van Nasaret kan verwag. Hy het reeds ’n oordeel gevorm voordat hy self gaan kyk het.
Filippus probeer hom nie met ’n lang argument oortuig nie. Hy sê net: “Kom kyk.”
Daar is iets bevrydends aan dié eenvoudige uitnodiging. Nie: Kom kyk hoe reg is ons nie. Nie: Kom kyk hoe suksesvol is ons gemeente nie. Nie: Kom kyk na al ons planne, strukture en programme nie.
Kom kyk.
En wanneer Natanael wel gaan kyk, gebeur iets onverwags. Hy ontdek dat voordat hy Jesus raakgesien het, Jesus hom reeds raakgesien het. Voordat hy nog geweet het waarna hy soek, was hy reeds geken.
Jesus sê uiteindelik vir hom dat hy nog groter dinge sal sien.
Dit laat ’n mens wonder of “kom kyk” nie ook ’n goeie uitnodiging vir die kerk in hierdie tyd is nie.
Ons kan maklik so besig raak met alles wat moeilik is dat dit al word wat ons sien. Minder mense. Minder geld. Veranderende gemeenskappe. Gemeentes wat onseker is oor hulle toekoms. Geboue, poste, programme en strukture waaroor moeilike besluite geneem moet word.
Dié dinge is werklik. Dit help nie om daarvan weg te kyk nie.
Maar Anandie stel voor dat daar ’n vraag is wat vóór al die ander vrae moet kom: Waar is God reeds aan die werk?
Waar ontstaan daar lewe wat ons nie beplan het nie? Waar vind mense mekaar oor grense heen? Waar word moeilike gesprekke moontlik? Waar begin nuwe vorme van gemeenskap groei? Waar is daar tekens van hoop wat maklik misgekyk kan word omdat ons oë op iets anders gevestig is?
En miskien bring dit ons terug by Anandie se kinderjare. By haar ouers wat vra, “Waar is jou ore?”
Want om raak te sien, vra ook dat ons leer luister.
Nie net na die mense wat die hardste praat nie. Nie net na die statistieke wat ons vrese bevestig nie. Maar na gemeentes, gemeenskappe en mense se stories. Na dit wat aan die skuif is. Na vrae waarvoor daar nog nie maklike antwoorde is nie.
Anandie het aan die einde van haar opening gepraat oor haar hoop dat Gemeentebegeleiding saam met gemeentes ruimtes kan help skep waar mense weer saam kan droom.
Droomtaal kan in moeilike tye maklik naïef klink. Maar om te droom beteken nie dat ’n mens die werklikheid ontken nie. Dit beteken dat jy weier om te aanvaar dat die huidige werklikheid al is wat moontlik is.
Gemeentes het sulke ruimtes nodig. Plekke waar ons saam kan luister, saam kan onderskei en weer kan vra waarvoor ons hoop. Waar ons nie net vra hoe ons moet oorleef nie, maar wat God dalk besig is om onder ons te laat ontstaan.
Natanael het gedink hy weet wat uit Nasaret kan kom. Filippus het net gesê: “Kom kyk.”
Dalk is dit waar ons as gemeentes weer moet begin. Met ore wat luister. En oë wat oop is vir dit wat ons nog nie verwag het nie.


