200 jaar van kerkwees – ons bely dat ons foute maak
👤 Marietjie Steyn
Ons kyk terug oor 200 jaar en vier die mooi, maar ons sien ook hoe dikwels en hoe aanhoudend ons foute gemaak het en steeds maak. So voor ons verder gaan, wil ons dit bely:
Genadige God
Ons bely dat waar mense is, ons sukkel om lief te hê
Ons bely dat ons sukkel om te vergewe – selfs net eenkeer, om nie eers van 70×7 te praat nie
Ons is obsessief oor die splinter in ons naaste se oog
en verkies om die balk hier reg by ons te ignoreer.
Ons hou van bymekaarmaak eerder as weggee.
Reg en verkeerd is vir ons vreeslik belangrik- as dit by ander kom
En ons lees uit u Woord, dikwels met ‘n behoefte om ons eie stem daarin te hoor,
eerder as U s’n, en verseker nie ander s’n nie.
Ons dink die kerk is daar om U te verdedig
Maar te dikwels verdedig ons net onsself daardeur.
En hoekom dink ons elk geval dat U verdedig moet word?
Ons praat wanneer ons moet stilbly en ons bly stil wanneer ons moet praat.
En oor die algemeen moet ons erken hou ons meer van praat as van doen
Ons kyk terug oor 200 jaar en nog meer
En ons bely dat ons mense is wat foute gemaak het
Sommige sonder nadenke, ander terwyl ons presies geweet het wat ons mee besig was.
Ons bely dat die geskiedenis nie bloot in die verlede is nie
Maar dat ons dit elke dag met ons saamdra
In elke ontmoeting,
elke verhouding,
elke gebroke familie,
elke stukkie verwydering van mekaar
en stukkie verdeeldheid wat ons steeds in die kerk en die land en in ons eie harte beleef.
Ons sonder steeds af, eerder as om te omhels
Ons vertel eerder ons eie storie as om na ander s’n te luister
Genadige God,
ons het teen U gesondig in denke, woorde en dade deur dit wat ons gedoen het en wat ons ongedaan gelaat het.
Ons het U nie met ons hele hart liefgehad nie.
Ons het nie ons naaste soos onsself liefgehad nie.
Ontferm U oor ons en vergewe ons,
vernuwe ons en lei ons,
sodat ons ons mag verbly in u wil en u weg kan volg tot die eer van u Naam.
Stuur u lig en u waarheid; laat dit ons lei,
ons bring na u heilige berg en na u woonplek,
sodat ons kan ingaan na die altaar van God,
na die God wat ons van blydskap laat jubel,
en sodat ons U, o God, ons God, kan prys met ‘n lier.
Amen