5 Maniere om jou dominee tydens Pinkster te ondersteun

👤 Marthe Rossouw (Dink Jeug)

Vyf; sewe; tien; twaalf. Dit is die aantal preke wat verskeie dominees tydens Pinkster behartig.

Die merkbare toename in werkslading kom dikwels in ’n reeks van oppe en affe – ’n warboel van kontrasterende emosies, aangevuur deur vreugde en vervulling, maar ook uitputting en intensiteit.

Juis hierom is dit belangrik om in die Pinksterseisoen ’n hand uit te steek na jou dominee – of dan nou jou hand op te steek – en vir ’n week sommige van sy of haar take op jou skouers te neem.

Dit laat my dink aan Aäron en Hur wat Moses se hande in die lug moes hou tydens die stryd teen die Amalekiete. Moses se werk was om vir die Israëliete in gebed in te staan, met sy hande in die lug, maar selfs dit was meer as wat hy op sy eie kon behartig. Hierdie treffende verhaal in Eksodus 17 herinner my aan ons elkeen se waarde en rol in die Liggaam van Christus. So ook herinner dit ons daaraan dat ’n dominee ook maar net ’n mens is.

Kom ons kyk na ’n paar maniere waarop jy jou dominee se hande in die lug kan hou tydens Pinkster.

1. Maak jou dominee se ure meer

Pinkster, en die voorafgaande week, is die oomblikke waarin dominees smag na stilte en genoegsame tyd om voor te berei vir die reeks preke wat voorlê. Hier is dit belangrik dat hulle so min moontlik onderbrekings ervaar en daardie kosbare tyd gegun word.

Nou, hoe kan jy hulle ure in hierdie twee weke “vermeerder”?

Wees geduldig met antwoorde, maar ook met jou vrae. Moenie tydens Pinkster afsprake maak of bel met navrae nie. Pen dit eerder neer in die dagboek en skakel ná Pinkster.

Die Kerkraad kan ook besluit om geen vergaderings gedurende die Pinkstertyd te skeduleer nie. En moet asseblief ook nie die basaar vir die daaropvolgende week beplan nie!

Indien jy ’n afgetrede predikant op die dorp is, kan jy ook aanbied om die dominee by te staan met pastorale bediening in hierdie tyd, of om alle navrae te ontvang en oordeelkundig te evalueer watter antwoorde tot ná Pinkster kan wag.

2. Kom neem deel

Een van die eenvoudigste maniere waarop jy jou dominee kan bystaan, is deur op te daag by die eredienste en aktief deel te neem. Beantwoord die dominee se vrae – ’n interaktiewe gemeente genereer energie en kan dominees help op die dae waarop hulle kragte laag is. Lees ook sommer die Bybelteks voor die diens en kom met jou opmerkings of vrae. Dominees geniet dit om sáám met medegelowiges oor die Woord te dink.

3. Kom met jou gawes!

Dominees moet dikwels baie balle in die lug hou tydens die erediens, en jy kan aanbied om, binne jou unieke vermoëns, een van die balle te hanteer. ’n Diensbare hart en ’n paar ekstra hande kan ’n enorme verskil maak tydens Pinkster.

Maar wat as die dominee dit gewoonlik self doen?

Soms is ons skepties om hulp aan te bied omdat die dominee dit geniet om kitaar te speel of om die dekor volgens tema in te rig. Die sleutelwoord is “gewoonlik” en ons moet besef dat verantwoordelikhede skuif. Tog is dit ook belangrik dat die dominee die beperkings op sy of haar eie vermoëns erken. Pinkster is die tyd waarin ons dominees in soveel moontlike aspekte van die erediens moet aflos. Ons ingesteldheid moet skuif vanaf ’n sprintloop na ’n marathon.

Gedurende Pinkster kan die dominee fokus op die preek, terwyl die gemeente, soos Aäron en Hur, mekaar se hande vat en hulle gawes aanbied – selfs al is dit net vir hierdie week.

Praktiese idees sluit in om jou hand op te steek vir musiek- of klankbediening, die dekor vir elke aand, of om die sop en brood ná die erediens te organiseer.

Hou die besige tydlyn in gedagte. Die dominee kan nie die middag voor die erediens help dink aan dekor-idees nie. Begin beteks beplan en bied jou gawes aan, sodat die ekstra stres oor daardie afdeling spoedig uitgeskakel word.

4. Kom in gebed

Pinkster is die tyd in die kerkjaar waarin ons die uitstorting van die Heilige Gees herdenk en nadink oor die kragtige werking van gebed. Deur die uitstorting van die Heilige Gees het ons die besondere voorreg ontvang om ’n “direkte lyn” van kommunikasie met ons Skepper te hê.

Ek wonder hoeveel van ons weet dat die tyd tussen Hemelvaart en Pinkstersondag aanvanklik gekenmerk was deur Pinksterbidure in die NG Kerk. In 1861 het gemeentelede begin om in hierdie tyd aktief saam te bid vir geestelike herlewing – en dit het ’n merkwaardige impak op Suid-Afrika gehad. Deesdae is ons aandag so by die erediensreeks dat ons dikwels vergeet om ook, tydens Pinkster, ’n doelgerigte fokus op gebedsbediening te hê.

Stig dus ’n gebedsgroep wat elke aand tydens die erediens saam bid. Indien die groep groot genoeg is, kan mense mekaar in die gebedsgroepie afwissel, sodat elkeen dalk net ’n enkele erediens hoef te mis.

Pinkster kan emosioneel en geestelik dreinerend wees vir dominees. Bid ook gereeld vir jou dominee in jou stiltetyd. Moenie wag vir ’n spesifieke gebedsversoek voordat jy begin nie. Bid vir wysheid, kennis en insig. Bid vir energie en krag. Hierdie dinge kan niemand uit eie krag bereik nie, maar slegs deur ons God wat deur ons en in ons werk.

En Hy hoor ook jou gebede.

5. Ondersteun die pastoriegesin

Soms is al wat ’n mens kort die wete dat jy nie alleen in jou marathon is nie. Laai ’n voorbereide maaltyd by die pastorie af, bring ’n beker koffie vroeg in die oggend, of bied aan om die kinders by die skool op te haal. Hierdie eenvoudige dade maak ’n geweldige verskil vir die predikantspaar.

Jou ondersteuning hoef ook nie iets groots te wees nie. Bemoedigende woorde, of die wete dat iemand vir jou bid, bied ook vertroosting in besige tye. Dikwels help dit reeds indien iemand jou net raaksien en jou harde werk of waarde erken. Só bied ons ’n hand wat die arm ophou.

Almal se lewens is besig en ons kry dikwels min tyd om stil te staan en te vra hoe ons ander kan versterk, bystaan en dien. Jesus het self sy dissipels gedien en het ons beveel om dieselfde vir ons medegelowiges te doen (Johannes 13:14). Aäron en Hur het dit vir Moses gedoen, en die Here het Moses beveel om die gebeure neer te skryf sodat ons dit altyd kan onthou (Eksodus 17:14). Mag hierdie paar gedagtes bydra tot ons elkeen se beskeie poging om Jesus se hande en voete te wees.

Marthe Rossouw is die administrasie koördineerder van Dink Jeug.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Hoekom predikante eintlik wol aan hulle togas het

  • Die argief: Waar stories kom om wéér gebore te word

  • Amptekonferensie: Wat ons herbevestig en waaroor ons moet verder verbeel