5 redes waarom gebed voor ete méér is ‘n gewoonte

👤 Wilmi Wheeler

“Vir spys en drank, sê ons U dank. Amen.”

Jy ken hierdie woorde seker ook. Daardie kinderrympie wat so maklik oor die lippe rol voor ete. Snel en sonder stiltes, soos om by ’n rooi robot vinnig net jou veiligheidsgordel vas te klik: ’n plig gedoen, op na die volgende.

Vir baie van ons het ‘n gebed voor ete iets van ’n gewoonte geword. Nie noodwendig ’n slegte gewoonte nie, maar beslis ’n gewoonte wat krag verloor het. Iets wat jy doen omdat dit is wat goeie Christene doen.

Ek het dit self besef toe ek, sonder veel nadenke, weer daardie eenvoudige “Vir spys en drank, sê ons U dank” gemompel het… terwyl my hand alreeds na die eerste happie beweeg. ’n Refleks eerder as ’n ontmoeting. En tog, iewers in my binneste weet ek daar lê iets meer aan om dankie te sê vir kos. Iets heiligs. Iets wat ek iewers langs die pad vergeet het.

Toe kruis my paaie met Elna Mouton by vanjaar se Diaconia-konferensie waar sy oor saying grace gepraat het. Iets binne my skrik toe wakker. Nie skielik of dramaties nie. Dis meer soos wanneer iemand ’n venster oopmaak in ’n kamer waarin jy lankal gewoond geraak het aan mufheid. ’n Nuwe asem. ’n Ander lig. ’n Herinnering aan hoe dit kan wees.

bid voor ete, Elna Mouton

Vir Elna is om te bid voor ete nie ’n voorafgaande formaliteit nie. Dis ’n uitnodiging tot teenwoordigheid. Sy het vyf bewegings rondom die gebruik van gebed voor ete aangebied – vyf maniere waarop ’n tafelgebed meer is as bloot net ’n “dankie vir kos.” ‘n Tafelgebed is ’n lewenswyse, ’n sakrament van die alledaagse.

1) Om te bid voor ete is ’n viering van lewe

Elna begin haar aanbieding daar waar alles begin: met lewe self. Vir haar, het sy gesê, is bid voor ete nie net ’n godsdienstige handeling nie, dit is ’n viering van lewe. Dis om stil te staan. Om regtig te kyk. Te wéét dat daardie brood, daardie slaai, daardie stukkie hoender op jou bord, nie vanselfsprekend is nie.

Dis om te onthou van wie geplant het. Wie geoes het. Wie opgestaan het voor sonsopkoms met modder aan hulle stewels en eelte aan hul hande. Dis om eer te gee aan die kok – of dit nou ’n sjef in ’n restaurant se kombuis is of ’n ouma wat elke Sondagmiddag haar liefde in panne gooi.

Dis om die teenwoordigheid van Jesus aan die tafel raak te sien. Nie net as simboliese figuur nie, maar as lewende teenwoordigheid. Dit is, in Elna se woorde, die kuns om sakramenteel te leef.

Kos is nooit net kos nie. Dis gawe. Dis arbeid. Dis genade.

2) Om te bid voor ete is ’n bewussyn van verbondenheid

Om hierdie punt uit te beeld, het Elna die Keltiese triquetra (die simbool van die Drie-eenheid) gebruik. Hierdie simbool lyk soos drie lusse wat mekaar kruis en vashou. Vir haar is bid voor ete soos om in die middel van daardie figuur te sit: bewus van hoe alles met alles verbind is.

’n Eettafel is nooit net ’n eettafel nie. Dis die sentrum van ’n huishouding, ’n klein liturgiese ruimte waar die liggame en stories van mense mekaar ontmoet. In Afrika-denke, het sy gesê, is daar nie skeiding tussen kos en gemeenskap nie. Jy eet nie net vir jouself nie. Jy leef saam, jy deel, jy dra saam.

“Soos Afrika-Christene ons leer, gaan dit oor gemeenskapslewe as sentraal tot alle betekenis. Dit gaan oor omgee en deel en ook respek vir die integriteit van die skepping en Moeder Aarde wat ons voed en dra.”

Om te bid voor ons eet, moet ons dus bewus maak daarvan dat ons nie in afsondering leef nie. Ons is integeweef by ’n netwerk van sorg en gedeelde bestaan.

3) Om te bid voor ete is ’n erkenning van diversiteit

Tafels is selde homogeen. Daar is menings, agtergronde, gewoontes, allergieë, stories. En dis reg so. Want ‘n tafelgebed help jou om te sien wie saam met jou aan tafel is.

Dit is ’n oefening in erkenning. Van elke mens se uniekheid. Van hul stories, agtergrond, smaak en pyn. Dit roep jou om insluitend te wees. Nie net in jou taal nie, maar in jou praktyke. Om ruimte te skep vir ander. Selfs vir vreemdes. Selfs vir die wat pyn dra wat jy nie verstaan nie.

En dan sê Elna iets wat bly hamer: “Saying grace is ’n daad van weerstand.” Dis weerstand teen onreg, teen eksklusiwiteit, teen ’n wêreld wat stemme stilmaak. Ware gebed is nie stil en versigtig nie. Dis inklusief. Dis vreesloos. En dit is niks minder as ’n daad van genesing nie.

4) Om te bid voor ete is ’n erkenning van ons afhanklikheid van God

Hier nooi Elna jou om anders na jou etenstafel te kyk. Om te sien dat ons almal eregaste is aan ’n tafel wat nie aan ons behoort nie. Met God as die ewige Gasheer, die Een wat uitnooi, wat voorsien, wat voed. En hierin lê iets heiligs: die besef dat jy behoort. Dat jy geliefd is.

Om te bid voor ete is dan nie net ‘n formaliteit nie. Dis ‘n herinnering dat jy leef uit oorvloed wat jy nie self verdien nie. Dis ’n roep tot koinonia – diepe verbondenheid – en diakonia – sorg en diens. Dis die mini-nagmaal van elke dag.

En soos die Nagmaal, word gebed voor ete ’n plek waar jy jou identiteit in Christus herbesin: jy is deel van Christus se liggaam.

5) Om te bid voor jy eet is ’n sinvolle interpretasie van lewe

Elna het afgesluit deur te sê dat ons diepste behoefte is om sin te maak van alles om ons. Om ons plek te vind in ’n groter verhaal. En om te bid voor ete, het sy gesê, is so ’n plek. ’n Oomblik van stilte wat nie leeg is nie, maar vol betekenis.

Dit is ’n ruimte waar jy God se teenwoordigheid kan proe. Waar jy die verlede kan inasem, die hede kan ontvang en die toekoms kan hoop. Dis ’n keuse om te leef met oop ore, oop hande, ‘n oop hart.

Dis hier waar die tafel nie net ‘n meubelstuk is nie, maar ‘n altaar. Waar jy jou lewe opnuut kan interpreteer as gawe, genade en geleentheid.

Mag ons almal anders bid voor ons eet. Stadiger. Meer mindful. Mag ons nie net bid vir kos nie, maar dankie sê vir lewe. Mag ons die boere, die bakkerye, die hande onthou. Dink aan die aarde en seisoene. Mag ons kyk na wie langs ons sit. En mag ons voel ons neem ons plek in by God se groot tafel.

Soos Elna sê, om te bid voor ons eet is meer as ’n plig of deel van ’n roetine. Dis ’n lied. ’n Danksegging. ’n Gebed.
’n Lewe.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: