5 tendense wat wys hoe mense ná COVID anders oor kerk dink
Kaapkerk Kommunikasie
Baie gemeentes sit deesdae met dieselfde vraag: Waarom is dit skielik soveel moeiliker om mense bymekaar te kry?
Kleingroepe trek minder mense. Bybel-kursusse word swakker bygewoon. Vergaderings is moeiliker om te reël. Selfs wanneer daar goeie toerusting en bedieningsgeleenthede aangebied word, is dit nie vanselfsprekend dat mense gaan opdaag nie.
By NG Gemeente Vredenburg het ds. Petri Coetzee en die kerkraad dieselfde begin beleef.
“Ons sukkel om mense te kry om in die tradisionele kleingroep- of selgroepmodel betrokke te raak,” vertel Petri. “Ons kry ook al minder mense wat ander kursusse bywoon en ons sukkel om mense bymekaar te kry vir vergaderings.”
Die kerkraad het ook ’n doelwit gehad dat die leraars bedieningsleiers oplei en toerus om met die spanne onder hulle te werk. Maar ook daar was dit moeilik om almal opgewonde en betrokke te kry. Petri het lank reeds vermoed dat mense se denke ná die COVID-19-pandemie verander het.
“Dit wat voor COVID in gemeentes hier gewerk het, werk nie meer so nie. Kollegas in ander gemeentes het dit ook bevestig.”
Hy het daarom begin kyk na navorsing en tendense, dit saamgelees met artikels en boeke wat hy reeds geken het en die belangrikste bevindinge vir die kerkraad saamgestel.
Hy beklemtoon dat dit nie ’n diepgaande of formele navorsingsprojek was nie. Dit was eerder ’n poging om beter te verstaan wat hulle in die praktyk begin raaksien het. Een ding het veral duidelik geword: Mense se behoefte aan gemeenskap het nie verdwyn nie. Maar die manier waarop hulle bereid is om daaraan deel te neem, het verander.
Vyf tendense het veral begin uitstaan.
1. Mense soek verbondenheid, nie net ‘n instelling om aan te behoort nie
Een van die duidelikste patrone is dat die behoefte aan gemeenskap nie ná COVID verdwyn het nie.
Mense soek steeds betekenis, geestelike diepte en egte verbondenheid, moontlik selfs meer ná ’n tydperk van uitgerekte isolasie. Wat wel verander het, is die manier waarop hulle daardie verbondenheid wil beleef.
Vertroue in groot instellings, ook kerke, het afgeneem. Terselfdertyd is daar ’n groeiende ongeduld met oppervlakkige of “show”-agtige kerkkultuur. Mense verlang na eerlikheid oor swaarkry en gebrokenheid, nie net oorwinningstaal of prosperity preaching nie.
Dit help ook om te verstaan waarom ’n behoefte aan gemeenskap nie noodwendig lei tot groter deelname aan tradisionele kleingroepe nie.
Joseph Myers skryf in The Search to Belong dat in die oorgrote meerderheid gemeentes nie meer as ongeveer 35% van lidmate aan ’n huis-kleingroep deelneem nie.
Die probleem is dus nie noodwendig dat mense nie “ware gemeenskap” of lewensverandering soek nie. Hulle soek dit dalk net nie in daardie spesifieke verpakking nie.
Die vraag vir gemeentes raak daarom minder: Hoe kry ons mense om by ons groepstruktuur aan te sluit? En eerder: Waar en hoe ontstaan egte verbondenheid reeds tussen mense?

2. Mense is versigtiger vir nog vaste verpligtinge
Tradisionele kleingroepe of kerkbywoning vra gewoonlik ’n herhalende, geskeduleerde verbintenis. Dieselfde aand, dieselfde tyd en dikwels dieselfde mense.
Dit bots toenemend met die werklikheid waarin baie lidmate leef.
Werksdruk, kinders se sport en aktiwiteite, finansiële spanning en oorvol kalenders beteken dat selfs mense wat na gemeenskap verlang, nie noodwendig nóg ’n weeklikse verpligting wil aanvaar nie.
Daarby speel ’n kultuur van individualisme ook ’n rol. Ons kom dikwels as ’n versameling individue bymekaar, met ons eie behoeftes, voorkeure en prioriteite, eerder as ’n gemeenskap waarin die individu hom- of haarself maklik aan ’n groep se ritme onderwerp.
Die begeerte na gemeenskap bly dus bestaan, maar die bereidwilligheid om daarvoor elke week op dieselfde plek en tyd op te daag, neem af.
LifeWay Research se data wys byvoorbeeld dat deelname aan kleingroepe en Sondagskool onder erediensgangers in die gemeentes wat hulle ondersoek het, van 50% in 2008 tot 44% in 2022 afgeneem het.
Dit beteken nie noodwendig dat kleingroepe afgeskryf moet word nie. Dit beteken wel dat die vorm daarvan herbedink moet word.
’n Ses- tot agtweekreeks rondom Advent, ’n spesifieke Bybelboek of ’n bepaalde tema het byvoorbeeld ’n duidelike begin- en einddatum. Vir baie mense is dit makliker om vir “ses weke” ja te sê as vir “elke Dinsdagaand vir die afsienbare toekoms.”
Meer informele bymekaarkomplekke kan ook ’n rol speel. ’n Maandelikse braai, koffie-oggend, wandelgroep of ander informele geleentheid waar verhoudings oor tyd natuurlik kan groei.
3. Die tradisionele kleingroepformaat is nie vir almal die beste plek vir diep gemeenskap nie
Een van die moeiliker vrae is of gemeentes soms die kleingroep self as die doel begin sien het.
Wanneer ’n gemeente reeds met talle ander programme en aktiwiteite om mense se tyd meeding, is ’n weeklikse selgroep selde die maklikste opsie.
Daar is ook die gevaar dat ’n kleingroep ’n klein, bekende en veilige kring word wat eerder ’n toevlugsoord van die groter geloofsgemeenskap bied as ’n deurgang na dieper betrokkenheid.
Sommige mense dra boonop vorige wonde uit kleingroepe saam.
Kleingroepe kan soms oppervlakkige verhoudings skep wat soos ernstige intimiteit voel. Mense deel week ná week persoonlike dinge en hulle geestelike reis met mekaar totdat die groep ophou bestaan en die verhoudings daarmee saam verdwyn. Wie hierdie soort “vals nabyheid” ervaar het, kan later weerstand teen die formaat ontwikkel.
Vir ander is selfs ’n groep van vyf tot 15 mense eenvoudig nie die natuurlikste ruimte vir geestelike gesprek nie. Sommige mense (veral introverte) skrik terug van ’n groot groep mense bymekaar, maar reageer goed op ’n mentor- of maatjiestelsel (een ander lidmaat, of ’n drietal) gereeld vir koffie of ’n stap in die natuur.
Die gevolgtrekking is dus nie dat gemeentes minder ruimte vir diep gemeenskap moet skep nie. Inteendeel. Die uitdaging is om meer as een vorm daarvan moontlik te maak.

4. Mense verwag buigsaamheid en ’n kombinasie van aanlyn en persoonlike bediening
COVID het digitale bediening binne ’n baie kort tyd van ’n bykomstigheid na ’n noodsaaklikheid verander. Maar toe kerkgeboue weer oopgaan, het mense nie eenvoudig al die nuwe gewoontes agtergelaat nie. Gemak en buigsaamheid het deel geword van hoe mense werk, leer, vergader en ook aan geloofsgemeenskappe deelneem.
Hibriede-bediening behoort daarom nie bloot as ’n tydelike pleister gesien te word nie, maar as ’n permanente deel van bediening. Dit vra ook ’n belangrike ingesteldheidsverandering. Mense wat ’n erediens of ander gemeente-inhoud aanlyn volg, behoort nie as “tweede-klas” lidmate of deelnemers gesien te word nie.
NG Kerk Vredenburg het reeds verskeie praktiese aanpassings in dié verband gemaak. Vergaderings word aanlyn gehou. Die Bybelskool is aanlyn beskikbaar. YouTube word gebruik om materiaal toeganklik te maak. Daar word doelbewus gedink aan lidmate én mense buite die gemeente wat die eredienste digitaal volg. Die gemeente het ook ’n kommunikasiespan saamgestel wat hulle media en aanlynbediening hanteer.
Dit gaan dus nie bloot daaroor om ’n erediens uit te saai nie. Dit gaan oor die erkenning dat digitale ruimtes ook bedieningsruimtes geword het.
5. Mense verlang na eenvoud, opregtheid en ’n gedeelde doel
Mense leef in ’n stresvolle wêreld wat reeds baie van hulle vra. Die lewe is ingewikkeld genoeg. Die kerk hoef nie dit verder te kompliseer met nog strukture, vergaderings en programme wat mense moet probeer inpas nie.
Een van die belangrikste gevolgtrekkings uit die literatuur en NG Kerk Vredenburg se eie ervaring is daarom die behoefte aan eenvoud.
Dit vra dat gemeentes weer eerlik moet vra waarmee hulle werklik besig is en of elke bestaande struktuur steeds die bediening dien waarvoor dit oorspronklik geskep is.
Hier kan Efesiërs 4:11–16 en die vyfvoudige bediening wat daar genoem word, volgens Petri, weer nuut bedink word, onder meer aan die hand van Alan Hirsch se werk in The Forgotten Ways.
Daarmee saam kom nog ’n verskuiwing. Gemeenskap kan eerder rondom ’n gedeelde doel as rondom gemeenskap ter wille van gemeenskap gebou word. Dus, in plaas van: “Kom ons stig ’n kleingroep om gereeld bymekaar te kom,” kan mense genooi word om saam iets te doen.
Soos:
- ’n Uitreikprojek.
- ’n Ekologie-uitstappie.
- ’n Kontemplatiewe uitstappie op die strand.
- ’n Projek om die dorp skoon te maak.
- Diens aan mense in die gemeenskap.
Die gesprekke en verhoudings ontstaan dan terwyl mense saam iets waardevol doen. NG Kerk Vredenburg begin daarom reeds anders na hulle bestaande groepe en projekte kyk.
“Ons is tans besig om al ons projekte se groepe as kleingroepe te sien waar geestelike bediening ook plaasvind en beweeg weg daarvan om kleingroepe te vestig ter wille van die kleingroep.”
Dieselfde beginsel beïnvloed hulle leierskapontwikkeling. In plaas daarvan om almal vir groot toerustingsgeleenthede bymekaar te probeer kry, vind leierskapstoerusting toenemend op ’n een-tot-een-basis plaas.
Wat beteken gemeentewees ná COVID?
Die vyf tendense wys uiteindelik in dieselfde rigting. Die behoefte aan diep gemeenskap is nie weg nie. Die manier waarop mense bereid is om daaraan deel te neem, het wel verander.
Dit beteken gemeentes hoef nie die ideaal van verbondenheid, geestelike groei of onderlinge bediening prys te gee wanneer die tradisionele kleingroep nie meer dieselfde reaksie ontlok nie. Dit vra eerder dat gemeentes bereid sal wees om die houer te verander sonder om die inhoud prys te gee.
Vir NG Kerk Vredenburg beteken dit reeds aanlynvergaderings en Bybelskool, digitale inhoud, nuwe uitreikprojekte, ekologie- en kontemplatiewe uitstappies, eenvoudiger strukture, persoonliker leierskaptoerusting en ’n breër verstaan van wat ’n kleingroep kan wees.
“Ons hele fokus het verskuif en dit werk tans redelik goed,” sê Petri. “Ons is nog baie ver van waar ons wil wees, maar ons is op pad.”
Miskien lê die belangrikste vraag vir ander gemeentes daarom nie daarin om te vra: Hoe kry ons mense terug by alles wat voor COVID gewerk het?Maar eerder: Hoe lyk geloofsgemeenskap wanneer ons ernstig luister na hoe mense vandag leef, behoort, glo en met mekaar verbind?
Bronne
- Barna Group. (2020). One in Three Practicing Christians Has Stopped Attending Church During COVID-19.
- Barna Group. (2020). What Churches Might Miss When Measuring Digital Attendance.
- Barna Group. (2021). COVID-19 Conversations: Digital and Social Ministry.
- Barna Group. (2022). A New Chapter in Millennial Church Attendance.
- Lifeway Research. (2023). Small Group Ministry Trends (opname gebaseer op 2022-data).
- Myers, Joseph R. (2003). The Search to Belong: Rethinking Intimacy, Community, and Small Groups. Zondervan.


