5 Topgeheime om van jou basaar ‘n sukses te maak!
👤 Wilmi Wheeler
Die NG Kerk en basaars is ‘n ikoniese kombinasie – soos koffie en beskuit, pannekoek en kaneelsuiker of ‘n jaffel (knypkoek) met daai perfekte maalvleisvulsel. Van kleintyd af weet ons ‘n kerkbasaar is nie net ‘n fondsinsameling nie, dis ‘n fees. Dit begin met tannies wat beter bak as MasterChef-finaliste en ooms wat om die braaivleisvure woeker asof die land se ekonomie van ‘n perfekte gebraaide boerewors afhang. Dit is waar jy te veel geld betaal vir ‘n bottel ingelegde perskes, net omdat tannie Betsie jou stip aangekyk het en waar basaarpoeding nie ‘n nagereg is nie, maar ‘n geloofsoortuiging.
En as daar een gemeente is wat hierdie kuns bemeester het, is dit NG Kerk Drieankerbaai – hulle is vanjaar se wenner van Kaapkerk se Basaar van die jaar-kompetisie! “Ons is ongelooflik trots op ons kerkbasaar en het natuurlik nog altyd gedink dat ons basaar buitengewoon uniek is. Ons is so opgewonde dat julle dit ook kon sien en wil almal nooi om ‘n basaar by Drieankerbaai te beleef!” sê die gemeente met ‘n groot glimlag.
Maar hoe kry hulle dit reg? Hoe verander mens ‘n doodgewone fondswerwing in ‘n gebeurtenis wat mense nie kan misloop nie? Hulle deel hul top geheime, sodat jou gemeente se volgende basaar net so ‘n reusesukses kan wees.



1. Begin vroeg beplan en kies jou datum slim
“Ons beste basaardatums is wanneer ‘n openbare vakansiedag op ‘n Woensdag val. Dis net ver genoeg van die naweek af dat min mense ‘n langnaweek daarvan maak, so baie mense soek ‘iets’ om die dag op te kikker. Dit beteken gewoonlik vrywilligers om te werk en baie voete om te ondersteun.”
Die regte datum kan die verskil maak tussen ‘n deurmekaar basaar en een wat borrel van energie en mense. Kyk vooruit na die gemeenskap se kalender en kies ‘n datum wat nie bots met groot geleenthede nie.
2. Bemarking is goud werd
Wat help dit jy het ‘n perfekte basaar as niemand daarvan weet nie? Volgens Drieankerbaai is bemarking ‘n langtermynplan: “Begin vroeg en probeer elke jaar die nuus verder verkondig!” Hul bemarkingsplan sluit in:
- Direkte advertering by skole in die omgewing
- Hulle gebruik sosiale media-platforms soos Facebook en Instagram
- Probeer jou beste om jou basaar geplaas te kry in gemeenskapskoerante en plaaslike tydskrifte
- Lamppaaladvertensies
Hoe meer mense van die basaar weet, hoe groter is die opkoms – en hoe meer pannekoek word verkoop!
3. ‘n Sterk en lekker span
Geen basaar werk sonder ‘n toegewyde span nie. Drieankerbaai se geheim? ‘n Goeie balans tussen ervaring en vars entoesiasme: “Elke jaar het ons die ‘usual suspects’ wat al jare sekere stalletjies beman en probeer ons ook ‘n paar nuwe mense betrek om die kennis oor te dra.”
Nog ‘n wenk: Laat dit lekker lyk om agter die tafels te wees! Mense wat sien hoe lekker dit vir die helpers agter die stalletjies is, is geneig om self betrokke te raak vir die volgende jaar.
4. Gebruik konneksies slim
Basaarwins gaan nie net oor hoeveel jy verkoop nie, maar ook oor hoeveel jy spaar. “Die doel met ‘n basaar is tog om geld in te samel en hoe kleiner jou uitgawes, hoe groter jou wins.”
Hulle maak slim gebruik van gemeentelede se netwerke om afslag en skenkings te kry – van produkte tot dienste. Dit verminder uitgawes en verhoog die algehele wins vir die kerk se projekte.
5. Maak voorsiening vir oud én jonk
Basaars trek mense van alle ouderdomme en ‘n slim gemeenskap hou dit in gedagte. “As die hele familie, van ouma en oupa, die kleuters en die nannies die dag kan geniet, dan kuier almal heeldag en vergeet later hoeveel geld hulle al uitgegee het…”
Die geheim? Verskeie aktiwiteite vir verskillende ouderdomme – ‘n speelarea vir kinders, lekker kos vir die ouer garde en ‘n paar verrassings om almal besig en gelukkig te hou.

Drieankerbaai se volgende basaar
Drieankerbaai rus nie op hul louere nie – hulle beplan reeds hul volgende basaar op 22 Februarie en nooi almal om saam te kom vier! “Ons ‘vroegste’ basaar nog! Ons beplan ‘n Somerfees en nooi almal om die dag saam met ons te geniet.”
Nou ja, as daar ‘n gemeente is wat kan wys hoe om ‘n wenbasaar te hou, is dit Drieankerbaai. Skryf hierdie wenke neer, pas dit toe en dalk is dit jou gemeente wat volgende jaar die R5000 prysgeld huis toe vat!