Alta du Toit: Die Samaritaan het nie net stilgehou nie

Wilmi Wheeler

’n Versorger is besig om een van die inwoners by Alta du Toit-sentrum te bad. Die vrou voor haar is uitgeteer, haar liggaam byna net vel en been. Sy kreun, sy steun, sy huil. Dit is nie ’n maklike taak nie. Daar is niks aangenaams aan hierdie oomblik nie. Die versorger kan nie die werklikheid van die vrou se lyding verander nie, maar sy kan daar wees. En terwyl sy haar bad, bid sy. Sy bid terwyl sy die waslap oor die brose liggaam beweeg. Sy bid deur die kreune en die trane. Sy hou aan versorg en sy hou aan bid.

Met hierdie verhaal het Johan Jacobs, sentrumbestuurder van die Alta du Toit-sentrum in Bellville, sy openingsboodskap tydens die sentrum se waarderingsontbyt vir predikante en gemeentes ingelei.

Dit is ’n verhaal wat ons konfronteer met die onopgesmukte werklikheid van versorging. Ons praat graag oor omgee, naasteliefde en diensbaarheid. Maar hoe lyk dit wanneer hierdie mooi woorde gestalte moet kry in die intieme, ongemaklike oomblikke van iemand anders se weerloosheid? Wanneer daar nie ’n maklike oplossing is nie en jy môre weer moet terugkom om dieselfde werk te doen?

Alta du Toit

Vir die versorger in Johan se verhaal kan haar werk nie losgemaak word van haar roeping nie. Haar gebed is nie iets wat sy vóór of ná haar werk doen nie. Dit word deel van die versorging self. Iets van haar verhouding met die Here vind uitdrukking in die manier waarop sy daar is vir die mens wat aan haar sorg toevertrou is.

Dit is teen hierdie agtergrond dat Johan die bekende gelykenis van die barmhartige Samaritaan in Lukas 10:30-35 met ons gedeel het.

Die gelykenis ontstaan uit ’n gesprek tussen Jesus en ’n wetgeleerde. Wanneer die wetgeleerde vra wie sy naaste is, antwoord Jesus hom met ’n verhaal. ’n Man word op pad van Jerusalem na Jerigo beroof en halfdood langs die pad agtergelaat. ’n Priester en ’n Leviet sien hom, maar gaan verby. Dit is uiteindelik ’n Samaritaan wat hom innig jammer kry, nadergaan, sy wonde verbind en hom na ’n herberg neem.

Ons vertoef graag by hierdie gedeelte van die verhaal. By die Samaritaan se bereidwilligheid om sy eie reis te onderbreek. By die grense wat hy oorsteek en sy vermoë om in ’n vreemdeling ’n medemens raak te sien.

Maar die Samaritaan het nie net stilgehou nie.

Hy neem die man na ’n herberg, betaal die herbergier, vra hom om die man te versorg en onderneem om enige verdere uitgawes met sy terugkeer te vereffen.

Hierin lê iets kosbaars oor die aard van barmhartigheid. Dit strek verder as die aanvanklike oomblik van medelye. Dit vra ook dat daar gedink word aan wat môre gaan gebeur, en die dag daarna. Die Samaritaan betrek iemand anders by sy daad van barmhartigheid. Die herbergier word ’n vennoot in die versorging van die man.

Hoe dikwels dink ons aan hierdie karakter in die gelykenis? Aan die herbergier wat, nadat die Samaritaan vertrek het, steeds daar moes wees? Aan die wonde wat weer verbind moes word, die kos wat voorberei moes word en die mens na wie daar omgesien moes word?

Johan beskryf die Alta du Toit-sentrum as só ’n herberg. As ’n program van Badisa bied die sentrum ’n huislike omgewing waar volwassenes met intellektuele gestremdhede versorg, gekoester, bemagtig en ontwikkel word. Benewens residensiële sorg en dagsorgdienste bied die sentrum ook terapie, lewensvaardigheidsprogramme en betekenisvolle werksgeleenthede in ’n beskermde werkswinkel.

Dit is gespesialiseerde werk waarvoor die meeste van ons gemeentes nie die nodige kundigheid, fasiliteite of kapasiteit het nie. Tog is dit ten diepste ook die werk van die kerk.

Wanneer ons mense aan die sorg van Alta du Toit toevertrou, ontstaan daar ’n besondere verhouding. Ons vertrou die versorgingswerk aan die herbergier toe, maar ons bly, soos die Samaritaan, verantwoordelik vir die belofte wat ons gemaak het.

Die herbergier moet immers ook môre die middele hê om te kan versorg.

Hierin lê ’n betekenisvolle verstaan van die verhouding tussen gemeentes en die kerk se diensorganisasies. Die kerk se barmhartigheidsbediening is veel groter as dit wat binne die grense van ’n gemeente se eie werksaamhede gebeur. Ons betrokkenheid by hierdie organisasies is daarom nie bloot ’n welwillendheidsgebaar nie. Dit vloei voort uit ons verstaan van wie ons as kerk is.

Tydens die waarderingsontbyt is daar ook ’n belangrike gedagte gedeel: die gemeenskap van Alta du Toit is groter as die grense van die sentrum se terrein. Daar word eerder van ’n “ons” as van ’n “hulle” gepraat.

Wanneer ons oor barmhartigheid praat, bestaan die gevaar dat ons onbewustelik die wêreld verdeel tussen dié wat iets het om te gee en dié wat iets nodig het.

Ons geloof bely egter dat elke mens na die beeld van God geskape is. Menswaardigheid is daarom nie iets wat ons deur ons liefdadigheid aan iemand anders skenk nie. Dit is reeds daar. Dit is Godgegewe, ongeag iemand se vermoëns, onafhanklikheid of die mate waarin hulle op ander aangewese is.

Die inwoners van Alta du Toit het, soos ons almal, die behoefte om te behoort, om trots te wees op wie hulle is en om ’n betekenisvolle bydrae te lewer. Wanneer ons as gemeentes by die sentrum betrokke raak, behoort ons dit daarom ook te doen met die verwagting dat ons iets gaan ontvang.

Daar is soveel praktiese maniere waarop gemeentes deel van hierdie groter gemeenskap kan word.

Een van die kosbaarste dinge wat ons kan gee, is ons tyd. Om te gaan kuier, vir iemand te lees, saam ’n speletjie te speel of sommer net ’n geselsie te geniet. Om ’n vaardigheid of stokperdjie te deel, by aktiwiteite betrokke te raak of by die sentrum se liefdadigheidswinkel te help.

Hoe waardevol sou dit nie wees as ons ook ons gemeente se kinders en jongmense hierby betrek nie? Daar is iets aan menswaardigheid, gemeenskap en naasteliefde wat ons nie volledig deur ’n kategeseles kan oordra nie, maar wat ons in die ontmoeting met ander mense kan ontdek.

Gemeentes kan ook die Alta du Toit-koor na eredienste, kerkbasaars of ander byeenkomste nooi. Só word ruimte geskep waarin inwoners hulle gawes met die geloofsgemeenskap kan deel.

Dan is daar die konkrete, daaglikse behoeftes van die herberg: seep, tandepasta, tandeborsels, deodorant, lyfroom en ander toiletware. Skoon, gebruikte klere, boeke en huishoudelike items is welkom by die liefdadigheidswinkel. Selfs ’n maandelikse finansiële bydrae van R25 kan, saam met dié van ander, help om die stygende koste van versorging te dra.

Die Samaritaan se bereidwilligheid om vir die man se voortgesette sorg te betaal, is immers net soveel deel van sy daad van naasteliefde as die oomblik toe hy langs die pad stilgehou het.

 

Aan die einde van ons eredienste spreek ons dikwels die bekende seën uit Numeri 6 oor mekaar uit. Ons bid dat die Here ons sal seën en beskerm, ons genadig sal wees en aan ons vrede sal gee.

Sedert die waarderingsontbyt dink ek anders oor hierdie seën. Ek dink aan die versorger by Alta du Toit. Aan die vrou wat sy bad. Aan die gebede wat sy bid terwyl sy haar werk doen. Aan die manier waarop iets van God se liefde deur haar teenwoordigheid vir ’n ander mens tasbaar word.

En ek wonder ook hoe ons as geloofsgemeenskap vir daardie versorger tot seën kan wees. Hoe ons kan verseker dat sy die nodige middele, ondersteuning en aanmoediging het om haar werk te doen. Dat sy weet dat daar ’n geloofsgemeenskap is wat saam met haar hierdie roeping dra.

Die Samaritaan het nie net stilgehou nie. Hy het nadergegaan, versorg, ’n vennoot gevind, voorsiening gemaak en belowe om terug te keer.

Mag ons as gemeentes ook bekendstaan as mense wat terugkeer na die herberg.

Gemeentes en individue wat by die Alta du Toit-sentrum betrokke wil raak, kan die sentrum kontak by admin@altadutoit.org.za. Artikel 18A-belastingsertifikate is beskikbaar vir kwalifiserende skenkings.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: