Onder die kremetart: ’n kerk wat skaduwee gee

Daniël de Wet

In Mosambiek is die kremetartboom, of baobab, deel van die landskap. Dit is ’n boom wat nie maklik misgekyk word nie. Met sy dik stam en wyd uitgestrekte takke staan hy dikwels alleen in ’n droë wêreld. Hy groei stadig, kan eeue oud word en menige droogte en storm oorleef. Mense kom onder sy takke bymekaar. Daar word gerus, gesels en soms net ’n bietjie asem geskep.

Die kremetartboom is dalk ’n gepaste metafoor vir ons Gereformeerde susterkerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM), en haar verhaal van volharding, geloof en hoop.

Vir baie mense daar is die lewe allesbehalwe maklik. Natuurrampe vernietig gereeld huise en landerye. Konflik in die noorde van Mosambiek dwing mense om hul woonplekke te verlaat, terwyl ekonomiese en politieke onsekerheid die toekoms vir baie mense onseker maak. En tog kom mense weekliks bymekaar. Die evangelie word verkondig. Gelowiges bid saam en probeer mekaar se laste dra. Soms is dit juis in die moeilikste omstandighede waar geloof wortel skiet.

In Oktober vanjaar het die Algemene Sinode van die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) in Macia, noord van Maputo, vergader. Daar was natuurlik heelwat sake op die agenda. Maar agter die verslae en besluite lê ’n groter verhaal: dié van ’n kerk wat te midde van haar eie uitdagings probeer leef en getuig as volgelinge van Christus.

’n Verhaal van geloof en volharding

Die verhaal van die IRM begin in 1908, toe die NG Kerk met sendingwerk in die noordwestelike deel van Mosambiek begin het. In 1922 moes die sendingwerk egter weens vervolging en wetgewing ophou. Wat oorgebly het, was ’n klein groepie gelowiges, sonder leraars en sonder die ondersteuning van ’n georganiseerde kerk.

Dit sou maklik die einde van die verhaal kon wees. Maar soos saad wat ontkiem, het die geloof van hierdie klein groepie bly leef en gegroei. Sowat vyftig jaar later, toe die deure weer oopgegaan het, het hulle deel geword van ’n groeiende Gereformeerde kerkfamilie in Afrika met baie lidmate.

Vandag bestaan die IRM uit drie streeksinodes: Mphatso in die noordweste, Tumbine in die noordooste en Novo in die suide. Elke streek het sy eie konteks en uitdagings, maar hulle deel dieselfde roeping.

Nuwe leiers, dieselfde roeping

Tydens die Algemene Sinode in Oktober is nuwe leiers verkies. Gabriel Marata Chibota is as moderator verkies, met João Herbate Kachemwe as visemoderator. Marcelino Augusto Sande is die nuwe algemene sekretaris, Evaristo Afonso Waite die vise-algemene sekretaris en Leonardo Dausene die aktuarius.

Met nuwe leierskap kom nuwe verantwoordelikhede vir almal, maar die opdrag bly dieselfde: om getrou kerk te wees op elke plek waar God haar geroep het.

Daniël de Wet en Lenois Stander het die Sinode van Wes-Kaapland by die IRM se Algemene Sinode verteenwoordig. Nico Swart het die Oostelike Sinode verteenwoordig.

Die verhaal van die IRM is nie net ’n verhaal wat in Mosambiek afspeel nie. Dit is ook deel van ons eie verhaal. Dalk help die kremetartboom ons om iets van hierdie verbondenheid te verstaan. ’n Boom se krag lê immers nie net in sy stam en takke wat bo die grond sigbaar is nie, maar ook in die wortels wat diep onder die grond groei. Daar, onsigbaar vir die oog, lê die wortels verweef en help hulle om die boom staande te hou.

Iets hiervan geld ook vir ons geloofsverhoudings oor landsgrense heen. Dit gaan oor veel meer as geld, programme of projekte. Dit gaan oor mense en geloofsgemeenskappe wat ontdek dat hulle aan mekaar behoort, wat bereid is om by mekaar te leer, mekaar te ondersteun en saam te soek na maniere om Christus se liefde in hulle eie gemeenskappe sigbaar te maak.

Wat kan ons gemeentes doen?

Daar is minstens twee maniere waarop gemeentes nader aan ons susterkerk in Mosambiek kan beweeg:

  • Bid. Maak die IRM deel van julle gemeente se voorbiddingslys. Bid vir die nuwe leierskap, predikante en evangeliste, asook vir gemeentes wat onder moeilike omstandighede hulle bediening voortsit.
  • Bou verhoudings. Gemeentes kan deur Getuienisaksie kontak maak met plaaslike gemeentes en leiers in Mosambiek. Dit skep geleenthede om mekaar se leefwêrelde beter te leer ken, verhale te deel en moontlike samewerking te verken.

Ons hoef nie met groot planne te begin nie. Soms begin ’n verhouding met ’n brief, ’n gesprek, ’n gebed, ’n besoek aan Mosambiek of die bereidwilligheid om saam aan dieselfde tafel te sit.

Soos die kremetartboom groei betekenisvolle verhoudings stadig. Dit vra tyd, geduld en diep wortels. Maar dit is juis sulke verhoudings wat ons help om mekaar oor grense heen te dra. Die kerk se roeping is immers om ’n plek te wees waar mense skuiling, hoop in Christus en verbondenheid vind.

Miskien begin dit alles eenvoudig daar: om vir iemand, iewers, ’n bietjie skaduwee te wees.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: