As God paaie laat kruis: Handewerk word hartswerk

👤 Wilmi Wheeler

Wanneer paaie kruis, kan iets besonders gebeur. Hierdie waarheid is opnuut bevestig toe Little Seeds Eenheid vir Vroeë Kinderontwikkeling (VKO) verlede week die voorreg gehad het om deel te wees van Diaconia se streeksbesoek in George. Iets spesiaals het hier gebeur. Iets wat die mag van liefde, sorg en samewerking in ons geloofsgemeenskap bevestig het. Wat aanvanklik net ‘n toevallige ontmoeting tussen twee organisasies was, het ontwikkel in ‘n diep verbintenis van wedersydse inspirasie en ondersteuning.

Little Seeds Eenheid wat daarop fokus om vir alle kinders toegang te skep tot vroeë kindontwikkelingsdienste, is ‘n bron van hoop en krag vir talle gemeenskappe en gemeentes. Hulle missie is eenvoudig, maar kragtig – om die eerste vyf jaar van ‘n kind se lewe te koester, die fondament vir ‘n beter toekoms te lê en gemeentes en gemeenskappe te bemagtig om dieselfde te doen. Hierdie toewyding aan kinders se welstand en ontwikkeling, raak die harte van almal wat hulle ontmoet – en so was dit ook by Diaconia se streeksbesoek in die Suid-Kaap.

By die streeksbesoek het Melanie Thirion, Vroeëkindontwikkelingsbeampte van Little Seeds, die kans gekry om die hart van Little Seeds se werk met ander te deel. Sy het verduidelik hoe belangrik VKO is, hoe dit lewens verander en hoe dit ‘n impak het op die breër gemeenskap. Hierdie boodskap het diep weerklank gevind by diegene teenwoordig, in besonder verteenwoordigers van Eljada Nasorg.

Eljada Nasorg, ‘n Badisa-program in Oudtshoorn, is ‘n veilige hawe vir volwassenes met intellektuele gestremdhede. Eljada bied nie net ‘n plek van versorging nie, maar ook van ontwikkeling en liefde, waar elke individu aangemoedig word om hul volle potensiaal te bereik. Hulle gee daagliks om vir 99 permanente inwoners en streef daarna om hulle te bemagtig om volwaardige lede van die gemeenskap te wees.

‘n Week na die streeksbesoek het Little Seeds onverwags ‘n pakkie van Eljada ontvang – vol handgemaakte produkte wat met soveel liefde en sorg deur die inwoners van Eljada geskep is. In die pakkie was daar ’n briefie wat hul waardering uitgespreek het vir die werk wat Little Seeds doen. Eljada het vertel van die inwoners wat hulle versorg en hoe sommige van die dames geniet om naaldwerk te doen, te brei en te hekel – aktiwiteite wat hulle vreugde bring en hul handvaardighede bevorder.

Dit is duidelik dat Eljada nie net geïnspireer is deur Little Seeds se werksaamhede nie, maar dat hulle ook hul eie manier gevind het om ‘n verskil te maak en terug te gee. Hulle het besluit om hierdie pragtige handwerkprodukte aan Little Seeds te skenk, as ’n teken van ondersteuning en gemeenskapsliefde.

Die ontvangs van hierdie geskenk het Melanie en haar span diep geraak. Dit het ‘n sterk boodskap gestuur oor die krag van verbondenheid en die manier waarop God ons paaie met ‘n doel laat kruis.

Little Seeds handewerk

Little Seeds oorweeg nou hoe om hierdie geskenke op die beste manier te gebruik om kinders te bereik wat dit die meeste nodig het. Of dit nou deur een van hul VKO-sentrums, leesgroepe of ander inisiatiewe is, hulle is vasberade om hierdie geskenke te versprei op ’n manier wat die liefde en sorg van Eljada weerspieël.

Hierdie ontmoeting tussen Eljada en Little Seeds herinner ons aan die belangrikheid van verhoudings en die wonderwerke wat gebeur wanneer ons ons stories met mekaar deel. God werk deur mense en soms kruis paaie onverwags om ons te herinner aan sy voorsiening en liefdevolle sorg vir almal, ongeag van ons omstandighede.

Mag ons voortgaan om, soos Eljada, met ‘n oop hart en hande uit te reik na ander en soos Little Seeds, die saad van geloof en hoop te plant in die lewens van diegene rondom ons.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: