Boek bring stories van hoop, roeping en transformasie
👤 DJ Muller
Op Donderdag 8 Mei 2025 het Hugenote Kollege in Wellington die verhoog gebied vir die amptelike bekendstelling van Bakengemeentes: Nagedink oor Roeping en Getrouheid, ’n publikasie wat reeds as rigtinggewend beskou word vir die missionale toekoms van die NG Kerk. Die bekendstelling is aangebied deur Barnabas Academic, die akademiese been van CLF, in samewerking met die Algemene Taakspan Navorsing van die NG Kerk.
’n Program vol stories van hoop
Die agtergrond van die navorsingsprojek is deur Lourens Bosman gedeel. Hy is al dekades betrokke by breër kerklike werk en het verduidelik hoe scenariobeplanning by die Algemene Sinode van 2019 aanleiding gegee het tot die sogenaamde “2030-Droomscenario: ’n netwerk van inklusiewe gemeentes wat op voetsoolvlak, vanuit God se liefde, diensbaar is in hulle gemeenskappe”. Hierdie drome is deur ’n organiese proses begin uitleef in werklike gemeentes – stories wat nou opgeteken is in Bakengemeentes.

Die redakteur van CLF, Mias van Jaarsveld, het die “plot” van die boek uitgelig: vyf sleutelkategorieë wat die kerk se toekomsraamwerk kan help vorm. Met gebruik van ’n narratiewe en etnografiese benadering, is stories van vyf gemeentes – Parowvallei-Oos, Citrusdal, Riebeeckstad, Brixton en Witrivier – uitgelig aan die hand van die ABDCE-struktuur: Action, Background, Development, Climax, Ending.
Bakengemeentes bied oorspronklike insigte uit kwalitatiewe en kwantitatiewe data wat die NG Kerk se Algemene Taakspan Navorsing ingesamel het. Hierdie empiriese werk sluit 26 gemeentes se verhale in, asook refleksies uit die Kerkspieël- en Predikantepaneel-projekte. Die boek stel belangrike vrae oor die kerk se roeping, missionale leierskap, armoede en welwese, pastorale uitdagings en sosiale innovasie.
Volgens Hannes Knoetze, ’n akademikus aan die Universiteit van Pretoria en mede-bydraer tot die boek, is konteks nie bloot ’n agtergrondfaktor nie, maar vorm dit die kern van wie en wat ’n gemeente is. Hy het aangedui dat gemeentes vandag moet beweeg van ’n ABC-gedrewe kultuur (Attendance, Building, Cash) na MRI (Missional, Relational, Incarnational).
Rethie van Niekerk, predikant en boekeredakteur van Kerkbode, het in haar terugvoervideo opgemerk hoe Bakengemeentes haar verras het:
“Ek het dit begin lees uit plig, maar dit het my opgewonde gemaak, my hoop gegee en my laat droom oor nuwe moontlikhede vir my eie gemeente. Die boek is uniek omdat dit regtig probeer om ekklesiologie van onder af te wees -’n teologie van binne-in die gemeentes self.”
Die slotwoord is deur Frederick Marais gelewer, dekaan van die Skool vir Sosiale Innovasie by Hugenote Kollege. Hy het die boek as ’n beweging, eerder as net ’n publikasie beskryf:
“Wat opvallend is, is nie net die diepte van die teologiese refleksie nie, maar die praktiese wysheid wat uit die gemeentes self opborrel. Hierdie boek wys vir ons hoe God se Gees aan die werk is op onverwagte plekke en maniere.”
Frederick het ook sy indrukke oor dit wat die boek kommunikeer gedeel:
- Sosiale innovasie is noodsaaklik, nie ’n keuse nie: Gemeentes kan nie meer werk soos in die verlede nie – sosiale innovasie is ’n onontbeerlike manier om relevante uitdagings aan te spreek.
- Gebrek aan teoretiese raamwerk: Leiers neem wel aksie, maar sonder ’n diepgaande begrip van sosiale innovasie se konsepte. ’n Goeie teoretiese grondslag kan hul inisiatiewe meer doelgerig en effektief maak.
- Reaksie op konteks is noodsaaklik: Gemeentes kan nie hul omstandighede vermy nie en moet hul veranderende sosiale en demografiese omgewings verstaan en daarop reageer om te oorleef.
- Gemeentes tree op, eerder as om vas te steek: Ten spyte van struikelblokke is hierdie gemeentes bereid om veranderinge aan te pak en nie in ou patrone vas te val nie.
- Toekomsgerigte denke uit tradisie: Gemeentes gebruik nie net die verlede as anker nie, maar put aktief inspirasie uit die Bybel en tradisie om die toekoms met geloof en kreatiwiteit te vorm.
- Reaksionêr eerder as sistemies: Sommige veranderinge is ad hoc en nie goed deurdag nie. Sonder sistemiese beplanning kan sulke aksies onvolhoubaar wees.

Die vraag waarmee die program afgesluit het, was nie “wat leer ons?” nie, maar “wat doen ons hiermee?” Bakengemeentes wil gelowiges help om nuut te kyk na hulle eie konteks, te luister na God se stem daar, en opnuut hulle roeping te onderskei.
Vir meer inligting of om ’n kopie van die boek te bestel, kontak Laetitia by laetitia@clf.co.za. Laai video van boekbekendstelling hier af.


