Ben Marais: Geroep van die kansel na die sokkerveld

👤 Wilmi Wheeler

“Here, besef U met wie U praat?”

Dis wat Ben Marais vir God gesê het toe sy roeping hom uit die veiligheid van ‘n kansel neem en tussen die stof en sokkerballe van Afrika laat beland.

Toe Ben Marais een oggend die stem van God hoor, het hy nie verwag dat dit sy lewe onherroepelik sou verander nie. Hy het jare lank as dominee in die NG Kerk gewerk. Hy was lief vir sport. Hy het grootgeword met rugby en krieket, soos baie ander Afrikaanse mans van sy generasie. Hy het geweet hoe geloof werk en hy het gedink hy weet hoe roeping klink. Tot daardie dag.

Ben vertel: “Die Here het in my lewe diep verandering gebring deur my hart te laat breek vir die toestand van ons nasie.”

Hy vertel dat dit uit hierdie hartgebrokenheid vir ons land, waarvoor hy baie lief is, dat hy die Here se stem in sy binneste gehoor het wat vir hom sê: Maar Ben, jy moet iets hieraan doen. “Ek het half uitgebars van die lag en gesê: Here, besef U met wie U praat? Ek is ‘n wit Afrikaanse dominee van die NG Kerk… Wie gaan nou na my luister in die nuwe Suid-Afrika?”

En toe begin die ongemaklike deel van gehoorsaamheid. Want die antwoord wat God vir hom gegee het, is ongemaklik eenvoudig: “Ben, jy sal moet verander.” Nie die mense nie. Nie die wêreld nie. Jy sal moet verander. “Jy wil hê mense moet na jou wêreld toe kom met dit wat jy ken, maar jy gaan na húlle toe moet gaan. Jy gaan moet leer van sokker. Jy gaan hulle taal moet leer praat.”

Hy skud sy kop. Hy’t nog nooit sokker gespeel nie. Hy’t nie daarmee grootgeword nie. “Ek het gedink: dis weird. Ek ken niks van sokker nie. Maar ek het toe gesê: goed, Here, ek sal.”

En só begin Ben se pad saam met Ambassadors Football, ’n organisasie wat sokker gebruik om gemeenskappe te verander, leiers op te lei en jongmense hoop en rigting in die lewe te gee. Wat begin het as iets buite sy gemaksone, word later iets wat sy hele hart en identiteit hervorm.

Ben Marais, Ambassadors Football

Ben Marais vertel meer oor sokker en die spel van die lewe

Ben se passie is nie bloot om sokkerspelers te ontwikkel nie. Dis om afrigters op te lei wat beide die spel én die lewe kan leer. “Ons sê altyd: coach both – the game of soccer and the game of life.” Dis nie net ’n slagspreuk nie, maar ’n lewensfilosofie.

Tydens ’n opleidingsessie in Kenia beleef hy iets wat hom onkant vang. Die groep afrigters, waarvan hy sommige al vir jare mentor, vra hom om voor te sit. “Ek het gedink: wat nou? Maar toe kom ’n vrou na vore en sê: ‘In ons kultuur eer ons ’n vader deur vir hom ’n staf te gee.’ En toe oorhandig hulle dit aan my. Die trane het net begin loop.”

’n Ander vrou, wat hom al vir jare “daddy” noem, gee ook simbolies ’n kledingstuk aan ’n ander vrou namens hom. “Dis wat hul dogters doen as hulle hul pa eer. En daar staan ek, wit en Afrikaans, NG dominee, met ’n staf en ’n kledingstuk in my hand. En ek dink: ‘Hoe op aarde het ek hier beland?’”

Die antwoord? “Al wat ek gehad het, was my gehoorsaamheid en my liefde vir sport.”

Die pad van gehoorsaamheid

Ben sê openlik dat hy nie perfek is nie. “Ek is op hierdie pad van groei en ek word konstant herinner aan hoe gebroke my eie hart is. Ek misgis myself baie keer. Maar dis nie perfektheid wat God vra nie, dis gehoorsaamheid.”

En dit is juis wat hierdie storie so menslik en hoopvol maak. Hier is nie ’n man met supervermoëns of spesiale status nie. Hier is iemand wat net ja gesê het toe dit onlogies geklink het. En wat vandag op plekke staan wat hy nooit self sou kon uitdink nie.

“Die intreepunt tot dissipelskap,” sê hy, “is nie: wat weet jy, of hoeveel opleiding het jy nie. Die vraag is: sal jy doen wat God vra, al lyk dit weird?”

Dis die soort eerlike geloof wat aanspreek. Wat jou nie wegstoot met godsdienstige cliché’s nie, maar wat jou innooi, twyfel en al, vrese en al, onsekerheid en al.

Want aan die einde van die dag, sê Ben, het God net een ding nodig: dat jy opdaag met wat jy wel het in jou hand. “Dis wat Hy altyd doen. Met Moses. Met elke persoon in die Bybel. Jy bring jou stokkie, jou staf, jou klein bietjie. En Hy doen die res.”

Ben Marais, Ambassadors Football
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: