Blomweek: Die skepping word gevier in Piketberg

👤 Wilmi Wheeler

Dit was vroeg in 2021, die wêreld nog aan die herstel van die donker dae van die pandemie, toe NG Gemeente Piketberg en die gemeenskap hulle hande na mekaar uitgesteek het – nie uit nood nie, maar uit ‘n diepgewortelde behoefte om weer te leef, te deel en te groei. Bergrivier Toerisme het ’n versoek aan die dorp gerig: verwelkom die reisende siele wat nou, na maande van isolasie, weer die wêreld buite hulle huise ontdek. Piketberg se mense het geluister en so is die Blomweek gebore.

Sedertdien maak die kerk, ’n pragtige neo-gotiese gebou wat soos ’n kroon oor die dorp troon, sy deure wyd oop – nie net as ’n toeriste-aantrekking nie, maar as ’n heilige ruimte waar elke verbyganger genooi word om binne te kom, om vir ’n oomblik stil te staan, asem te haal en iets groter as hulself te ervaar – die Here se teenwoordigheid te midde van die wonder van die skepping.

‘n Kerk vol blomme – binne én buite!

Die Blomweek van NG Gemeente Piketberg het nou al vir die vierde jaar agtereenvolgend plaasgevind en elke jaar word die gemeente weer oorweldig deur die mense se goeie gesindheid, vrygewigheid en ruimhartigheid. Wat hulle veral opval, is hoe die gemeenskap saamstaan om hierdie week ‘n sukses te maak.

Die blomboere van Piket-Bo-Berg, wat nie altyd kan voorspel watter blomme hulle sal kan lewer nie, is steeds bereid om te gee wat hulle het, en tog, keer op keer, word die gemeente geseën met ‘n oorvloed van pragtige blomme – van proteas tot blushing brides.

Hierdie ruimhartigheid en onbaatsugtige bystand getuig van die diepgewortelde gemeenskapsgesinde gees wat in Piketberg heers. Die gemeente se blomversierings is dus nie net ’n estetiese wonder nie; dit is ’n uitdrukking van die gemeente se geloof en hul verbintenis tot mekaar en tot die skepping.

Elke blom word met sorg gerangskik, beide binne en buite die kerk, as ’n eerbetoning aan die Skepper se handewerk. Die lewendige orrelmusiek wat deur die dag in die kerk weerklink, dra boonop by tot die atmosfeer van heiligheid wat die ruimte vul, soos besoekers dit beskryf.

Die klank van die musiek saam met die visuele prag van die blomme en die argitektoniese grootsheid van die gebou skep ’n harmonie wat besoekers in verwondering laat. Hulle staan verstom oor die skoonheid wat hulle omring.

Blommeweek piketberg
Blommeweek piketberg

Die Blomweek gee die gemeente kans om te reflekteer

Die Blomweek is nie net ’n gebeurtenis wat die harte van besoekers raak nie; dit is ook ’n tyd van selfontdekking vir die gemeente. Die skoonheid wat hulle elke jaar met die wêreld deel, open ook hulle eie oë vir die wonderwerke rondom hulle – vir die rykdom van die skepping wat die Here aan hulle geskenk het, reg op hul drumpel! Dit is ’n tyd van diep dankbaarheid vir die natuur, vir hul omgewing en vir die pragtige kerkgebou wat hulle geërf het.

Hierdie besef bring ook ‘n gevoel van verantwoordelikheid mee. Die Blomweek is nie net ’n geleentheid om die skoonheid van die skepping te vier nie, maar om die nalatenskap van die vorige geslagte te eer en te bewaar en is ’n herinnering aan die handewerk en opofferings van diegene wat voor hulle gekom het.

Vir baie besoekers is die Blomweek van NG Gemeente Piketberg ’n onverwagse, maar welkome verrassing. Hulle mag dalk net verby die dorp ry op pad na ’n ander bestemming, maar die skoonheid van die kerk en die blomme dwing hulle om stil te hou en in te stap. Hierdie week is elke jaar ’n lewende getuienis van hoe geloof, natuur en gemeenskap saamwerk om iets werklik besonders te skep. En in die proses, word nie net die skepping gevier nie, maar ook die wonderwerk van God se hand wat alles tot stand gebring het.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: