Bybel: Sola Scriptura, ja, nie solo Scriptura nie

Wilmi Wheeler

Iewers op die internet is daar ’n beeld van die Bybel wat heeltemal anders lyk as die een op jou bedkassie.

Onderaan is elke hoofstuk van Genesis tot Openbaring as ’n klein vertikale strepie aangedui. Bo-oor hulle loop duisende gekleurde boë soos ’n reënboog wat oor die bladsy trek.

Elke boog verbind twee gedeeltes van die Bybel wat op een of ander manier met mekaar in gesprek tree.

Daar is 63 779 van hulle.

Dié bekende visualisering is in 2007 deur die data-ontwerper Chris Harrison en pastoor Christoph Römhild geskep uit ’n databasis van kruisverwysings in die King James Bible. Elke lyn wys waar een teks aan ’n ander raak. Met ander woorde verbindings deur ’n gedeelde persoon, plek, frase, beeld of gedagte.

As beeld is dit nogal asemrowend. Want van ver af lyk die Bybel so netjies.

Een boek. Twee omslae. Genesis voor. Openbaring agter. ’n Inhoudsopgawe om jou te help as jy Obadja weer verloor het.

Maar maak hom oop en jy ontdek vinnig hoeveel daar tussen daardie twee omslae leef.

Bybel, Sola Scriptura

Die Bybel bestaan uit 66 afsonderlike boeke. Tradisioneel word die menslike bydraers op ongeveer 40 gereken, oor ’n tydperk van rofweg 1 500 jaar. En selfs dié opsomming is eenvoudiger as die werklikheid, want sommige boeke is anoniem en ander bestaan uit materiaal wat oor tyd versamel en saamgestel is.

En dit is beslis nie 66 weergawes van dieselfde soort teks nie.

Hier is wette en familiestambome. Gebede en liedere. Liefdespoësie en spreuke. Profete en verhale van ballingskap. Vier Evangelies wat elkeen op sy eie manier van Jesus getuig. Briewe aan gemeentes wat baklei oor kos, seks, status en aanbidding. En uiteindelik Openbaring se beeldryke wêreld van drake, trompette en ’n nuwe Jerusalem.

Ons noem dit alles die Bybel. Een boek, maar eintlik hou ons ’n klein biblioteek in ons hande. En dalk is dit op Bybelsondag die moeite werd om ’n oomblik daarby vas te steek. Want die verskeidenheid van die Bybel vertel reeds iets belangriks oor die God van wie dié boeke getuig.

God het nie gekies om Homself deur ’n enkele teologiehandboek aan ons bekend te maak nie. Daar is nie ’n hoofstuk 1 met “Alles wat jy oor God moet weet”, gevolg deur hoofstuk 2, “Tien stappe om ’n goeie Christen te wees” nie.

God laat mense vertel en onthou. Hy laat hulle sing, argumenteer, vra en kla.

In die Psalms kry mense selfs ruimte om vir God te vra waar Hy is en waarom Hy so lank vat om iets aan hulle ellende te doen. Prediker kyk na die lewe en wonder hardop wat die punt van alles is. Job weier om tevrede te wees met maklike godsdienstige antwoorde op sy lyding. Paulus skryf briewe aan gemeentes waar dinge soms so deurmekaar was dat ’n mens besef die vroeë kerk was darem nie heeltemal die romantiese, probleemvrye geloofsgemeenskap wat ons soms daarvan maak nie.

En tog het die kerk deur die eeue gesê: Hier, tussen al hierdie verskillende stemme, hoor ons die Woord van God.

Die wonder van die Bybel is nie dat al die mense daarin skielik dieselfde stem gekry het nie. Paulus klink steeds soos Paulus. ’n Psalm klink nie soos Levitikus nie. Matteus vertel nie presies soos Johannes nie. Maar almal vertel dieselfde storie.

https://lovedbibleproject.com/understanding-literary-genre/

En dan kom daardie 63 779 gekleurde lyne weer by my op.

Want die vreemde ding van hierdie biblioteek is dat die boeke nie bloot langs mekaar op ’n rak staan nie. Hulle praat met mekaar.

Matteus skryf oor Jesus en hoor die taal van Israel se profete in die agtergrond. Paulus probeer aan die vroeë kerk verduidelik wat geloof beteken en reik terug na Abraham. Die skrywer van Hebreërs haal die Psalms aan. Openbaring klink soms nuut en vreemd, totdat ’n mens begin raaksien hoeveel van sy beelde reeds uit die Ou Testament kom.

Die latere tekste onthou die vroeëres. Hulle haal hulle aan, eggo hulle, interpreteer hulle en plaas ou woorde binne nuwe omstandighede. Die Bybel is dus ook ’n gesprek wat oor eeue strek.

En dit laat my wonder of ons die Reformatoriese beginsel Sola Scriptura (die Skrif alleen) soms armer geword het as wat dit bedoel was om te wees.

Sola Scriptura beteken tog nie solo Scriptura nie: ek alleen met my Bybel, los van konteks, die res van die Skrif en die geloofsgemeenskap wat dit deur eeue gelees het.

Dit beteken ook nie een vers alleen nie.

Jy kan nie ’n sin uit Paulus haal, dit op ’n mooi agtergrond sit en daarmee ’n hele teologie bou nie. Om die Bybel ernstig op te neem, beteken juis om ernstig te wees oor watter soort teks voor jou lê en hoe daardie teks binne die groter gesprek van die Skrif funksioneer.

Miskien is een van ons probleme dat ons baie goed geraak het om die Bybel in klein stukkies op te breek.

  • ’n Vers vir wanneer jy angstig is.
  • ’n Vers oor geld.
  • ’n Vers vir ’n verjaarsdagkaartjie.
  • ’n Vers om my argument op Facebook mee af te sluit.

Die kruisverwysings herinner ons egter dat geen teks heeltemal alleen leef nie. Daar loop lyne. Lyne van skepping na nuwe skepping. Van Abraham se belofte na Paulus se briewe. Van die uittog uit Egipte na die Evangelies. Van die profete se droom van herstel na Openbaring se visioen van God wat by mense woon.

Die kerk het in hierdie veelstemmige biblioteek oor en oor dieselfde groot beweging leer herken: God wat skep, mense wat breek, God wat roep, bevry, oordeel, vergewe, herstel en uiteindelik in Christus self ons verhaal binnestap.

Dalk is dit waarom ek van daardie beeld met sy 63 779 boë hou. Nie omdat dit bewys dat die Bybel waar is nie. Geloof werk nie soos ’n wiskundesom waarvan 63 779 die finale antwoord is nie.

Maar dit wys iets wat ons maklik vergeet wanneer die Bybel so rustig en netjies op die bedkassie lê. Hierdie Boek was nooit bedoel om eenvoudig te wees nie.

En miskien is dít ’n goeie gedagte vir Bybelsondag. Ons hoef nie die Bybel indrukwekkender te probeer maak as wat dit reeds is nie. Daar is duisende lyne wat teks aan teks verbind en deur dit alles die geloofwaarding dat God steeds deur hierdie mensewoorde met ons praat.

Dalk is dit wat die Emmausgangers daardie dag ontdek het. Dat die Skrif oopgaan wanneer die lyne tussen hulle sigbaar word. “Vanaf Moses en die Profete” het Jesus die groter verhaal vir hulle uitgelê. En iewers langs die pad het hulle harte begin brand. (Lukas 24:27, 32)

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: