CareWise: Kwesbares moet waardig versorg word
Mariëtte Odendaal
“Die goeie nuus is dat, na twee jaar se voorbereiding, geakkrediteerde tuisversorgingsprogramme vanaf November 2026 beskikbaar is!”
– Kobus Visagie, Hoof: CareWise College

“Die behoefte aan persoonlike tuisversorging van bejaardes het kritieke vlakke in Suid-Afrika bereik,” vertel Kobus Visagie, hoof van CareWise College in Plumstead. “Tuisgebaseerde sorg bied ‘n antwoord op die duur en oorvol versorgingsfasiliteite wat weens die groeiende aantal ouer persone in ons samelewing onder toenemende druk verkeer.
“Die situasie word vererger deur ’n tekort aan opgeleide versorgers, die beperkte kapasiteit van familielede wat versorging kan bied, wydverspreide armoede wat toegang tot sorg vir ouer persone belemmer, die toenemende behoefte aan langtermynsorg en palliatiewe ondersteuning, die gebrek aan kennis oor voeding, medikasiebestuur, higiëne en ondersteuning met daaglikse lewensaktiwiteite en die beperkte staatsbefondsing vir oueresorg.
“Die fisiese behoeftes van bejaardes bied ook ’n groot uitdaging. Die behoefte aan persoonlike hiegiëne, gereelde medikasie en ander persoonlike versorging neem toe soos mobiliteit, fisiese – en verstandelike vermoëns begin afneem,” verduidelike Kobus.
Die ontstaan van CareWise
Nadat ds Francois Human, afgetrede predikant wat tans as leraar van die NG Kerk Plumstead instaan, die behoefte aan geakkrediteerde opleiding vir tuisversorging aan bejaardes geïdentifiseer het, is CareWise College in die lewe geroep.
Dit het hy gedoen met behulp van sy kollegas, dr Allie van der Westhuysen en sy vrou, Justine, asook Theuns Botha en Paul Scholtz. Kobus Visagie is danksy sy kundigheid ten opsigte van geïntegreerde gemeenskapsontwikkelings-inisiatiewe, versoek om die operasionele bestuur van die inisiatief waar te neem en die direksie by te staan met die strategiese en operasionele ontwikkeling van CareWise College. Sy ervaring voor aftrede in dié veld is in hierdie opsig van onskatbare waarde.
Alhoewel CareWise College Plumstead-gemeente as tuisbasis gebruik, funksioneer dit as ’n onafhanklike entiteit en regspersoon (NPO) met sy eie direksie en beheerstrukture, dus heeltemal onafhanklik van die gemeente. “Dit was egter van meet af aan duidelik dat dit ’n globale behoefte is en nie net dié van ’n lokale gemeente nie,” verduidelik Kobus.
Jy kan al inskryf!
Die goeie nuus is dat, na twee jaar se voorbereiding, die volgende programme, geakkrediteerd deur QCTO (Kwaliteitsraad vir Ambagte en Beroepe) en SAQA (Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid), vanaf November 2026 aan alle belangstellendes, ook buite die amptelike strukture van die kerk, beskikbaar is:
• Sertifikaat in Tuisgebaseerde Sorg (QCTO-geakkrediteerd)
• Sertifikaat in Tuisgebaseerde Sorgbystand (QCTO-geakkrediteerd)
• Kortkursusse ter ondersteuning van tuisgebaseerde sorg vir ouer persone: vrywillige gemeenskapsfasiliteerders en -leiers sowel as eggenote en familielede van sorgbehoewendes.
• Opknappingskursusse (op aanvraag beskikbaar)
Kobus verduidelik: “CareWise College is ’n geloofsgebaseerde organisasie wat daarop gemik is om vrywilligers en tuisversorgingspraktisyns toe te rus, te bemagtig, en op te lei om te verseker dat kwesbare lede in ons gemeentes en gemeenskappe ’n waardige, gesonde en vervulde lewe in hul latere jare kan ervaar. Dit verhoed ook dat bejaardes sosiaal vereensaam.”
CareWise se droom vir die toekoms
CareWise College streef daarna om ‘n menswaardige lewe vir alle ouer persone met maklike toegang tot professionele, deernisvolle ondersteuning te bied. Hulle poog ook om bekostigbare en toeganklike fisiese en emosionele sorg vir elke ouer persoon in Suid-Afrika beskikbaar te stel.
Daarbenewens wil hulle kultuursensitiewe, bekostigbare en hoëgehalte-opleiding aan versorgers verskaf en hulle, sowel as vrywilligers, ondersteun wat na geliefdes tuis of in die gemeenskap omsien.
Dit poog ook om die lewensgehalte van Suid-Afrika se groeiende bevolking van ouer persone te verbeter deur eerstens die beskikbare programme in die Wes – en Noord-Kaap te implementeer, tweedens dit later nasionaal uit te brei, derdens ’n gestruktureerde inisiatief te vestig wat dienste van gekwalifiseerde tuisversorgers deur ’n eenvoudige en toeganklike proses aan alle sorgbehoewendes beskikbaar te maak en laastens gespesialiseerde opleiding aan tuisversorgers in spesialis-areas, soos byvoorbeeld die tuisversorging van kanker-pasiënte, dimensie-pasiënte, ensovoorts te bied.
Hoe individue of gemeentes kan ondersteun
CareWise werk graag saam met gemeentes se alreedsbestaande of beplande inisiatiewe.
Kobus verduidelik: “Gemeentes kan ons gerus nader om hulle by te staan met ’n strategiese plan, asook die voorbereiding, opleiding en monitering van so ’n bediening. Ons kan ook help met die aanstelling, opleiding en akkreditering van versorgers.
“Ons is ook beskikbaar om die beplande bediening in ’n gemeente tydens ’n gemeente-byeenkoms toe te lig en sodoende vrywilligers of studente te inspireer ten opsigte van die gemeente se beplande inisiatief.”
Vir meer inligting kan Kobus Visagie gerus by kobusvisagie@iafrica.com gekontak word.
Lees ook meer oor CareWise College HIER.


