Christus bly die NG Kerk se lewende hoop!

👤 Wilmi Wheeler

Ons hoor dikwels die vraag: “Waarmee is die kerk nou eintlik besig?” Na afloop van die moderamenvergadering, waar dominees en ouerlinge vanuit die ringe in die Wes-Kaap bymekaargekom het, is een ding baie duidelik: Die Here roep die NG Kerk en ons moet gehoorsaam agter Hom aanleef. Hierdie vergadering het ‘n diep insig gegee in die verskeidenheid van bedieninge, projekte en inisiatiewe waarmee die kerk tans besig is – ‘n daadwerklike antwoord op die vraag van baie.

Die moderamenvergadering is ‘n kritiese ruimte waar terugvoer aan die ringsverteenwoordigers gegee word oor die werksaamhede van die kerk. Dit bied ‘n geleentheid om eerlik te wees oor uitdagings, maar ook om die suksesverhale en geleenthede te deel wat voortvloei uit gehoorsaamheid aan die Here se roeping. Dit is hier waar die groter prentjie van die kerk se roeping in die wêreld helder sigbaar word.

Die bewussyn van roeping onder dominees en gemeenteleiers was tasbaar tydens die vergadering. Dit is duidelik dat hierdie leierskap besef hoe belangrik dit is om hul roeping nie net as ‘n plig nie, maar as ‘n voorreg te sien. Hulle verstaan dat hulle geroep is om ligdraers te wees in ‘n gebroke wêreld en dat hierdie roeping vereis dat hulle met passie en integriteit dien.

Ons het na die moderamenvergadering met ons moderator Marinus Theron gesels oor sy ervaring van dié twee dae se saamwees. Marinus deel sy perspektief op wat die vergadering vir hom beteken het, en wat hom opgewonde maak oor die toekoms van die kerk.

“Ons is dankbaar vir ’n klomp geleenthede, waaroor ons kan terugvoer gee. En dit maak mens opgewonde! Opgewonde dat ons erns maak met die wêreld waarin ons leef. Erns maak met die stukkendheid aan die een kant, maar ook ernstig is oor die wonderlike geleenthede wat juis in hierdie tyd saam met ander kerke tot ons beskikking is. Die Here gee vir ons bekwame mense. Hy gee vir ons hulpbronne. Hy roep ons en ons moet gehoorsaam agter Hom aanleef. Om hopeloos te raak, is nie ’n opsie nie. Christus is ons lewende hoop!”

Die vergadering het dit duidelik gemaak dat die kerk die vraag waarmee die kerk besig is, is nie een wat met onverskilligheid beantwoord kan word nie. Hierdie moderamenvergadering het gewys dat die NG Kerk nie net toeskouers is van die wêreld se gebeure nie, maar aktiewe deelnemers in God se groot plan vir herstel en vernuwing. Hierdie klomp leiers is geroep deur God, gehoorsaam aan sy stem en gefokus op die bediening van liefde en hoop in ‘n wêreld wat dit bitter nodig het.

Die moderamenvergadering het op ‘n diep, betekenisvolle noot geëindig toe almal saam stil geraak het vir drie afsluitingsgebede.

Gebed vir die wêreld

Ons dink aan die wêreld

en ons bid vandag saam met mense wat vasgevang is in omstandighede.
Vir hulle bid ons vir uitkoms.
Saam met mense wat se basiese behoeftes – kos, klere en onderdak nie voorsien word nie,
bid ons vir rigting.

Saam met mense wie se emosionele behoeftes nie voorsien word nie,
bid ons vir mense wat sal omgee.

Saam siekes, bid ons vir genesing en innerlike vrede.
Saam bedroefdes en treurendes, bid ons vir troos en lig.
Saam met hulle wat soek, maar nie vind nie, bid ons dat U hulle sal aanraak.

Ons bid: Here, hoor
Here, vergewe
Here, luister
Here, gryp in

Amen.

Gebed vir ons land

Ons is moeg, Here.
Uitgeput.
Verslaan.
Vir soveel geweld en moeilike omstandighede in ons land.

Dis is vir ons maklik om te kla.
Om bitter te raak.

Ons kry onsself ongelooflik jammer.
Ons word baie keer hard van al die pyn.

Nog ’n sterfte, laat ons koud.
’n Weduwee se trane val onopgemerk.
Ons kinders erf hulle ouers se bitterheid.
Gedagtes van geweld, ontplof in dade van geweld.

Here, hoor ons bid vandag: Wees ons genadig.
Lei ons tot inkeer,
sodat ons kan vergewe,
maar ook dat ons vergewe sal word.

Ons bid vir vrede.
Ons bid vir hoop.
Ons bid vir eensgesindheid.
Vir u liefde wat alles kom verander.

Amen.

Gebed vir ons in die Wes-Kaap

Here,
ons is bang om ons toegeknypte hande oop te maak.
Want wie sal ons wees as ons niks meer het om aan vas te klou nie?
Wie sal ons wees as ons voor U staan met leë hande.

Help ons om ons hande oop te maak

en te ontdek dat ons is nie wat ons het of besit nie.

Ons is wat U vir ons wil gee.
En wat U vir ons wil gee, is liefde.
Onvoorwaarlike, ewigdurende liefde.
U stuur ons die wêreld in hiermee.

Amen

Foto’s

NG Kerk Moderamen

Lede van die moderatuur (van links na regs) : Charl Stander, Heerden van Niekerk, Hendri Niehaus, Christo Benade, Riana Furniss, Marius Nel, Elmarie Dercksen, Marinus Theron, Lenois Stander, Annelet Slazus, Dawfre Theron en Jana van den Munckhof.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: