Danicke se lewe is veel meer as haar diagnose

👤 Wilmi Wheeler

In Sonstraal-gemeente is Danicke Jantzen nie net ‘n naam nie; sy is ‘n bron van vreugde, deursettingsvermoë en ‘n herinnering aan die onwrikbare krag van ‘n familie se liefde vir hulle kind. Hierdie 13-jarige se glimlag is aansteeklik, haar gees is sterk en haar storie is een wat almal wat haar leer ken, diep raak.

Danicke leef met CACNA1A, ‘n seldsame genetiese toestand wat neurologiese uitdagings veroorsaak. Dit beïnvloed spiertonus en ontwikkeling, maar dit definieer nie wie sy is nie. Haar ouers, Yolanda en Hanno, vertel met ‘n mengsel van erns en humor hoe hulle lewens daardeur gevorm is. “Sy is ons kind, sy gee ons vreugde. Maar soos enige tiener, gee sy ons ook grys hare,” lag Hanno. Dit is duidelik: Danicke se lewe is veel meer as haar diagnose.

Danicke
Danicke

Hierdie gesin se pad was alles behalwe maklik. “Wie sou kon dink dat ons lewe op 17 Februarie 2011 so anders sou wees as wat ons ooit gedroom het?” sê Yolanda as sy terugdink aan Danicke se geboorte. “Haar swangerskap was niks ongewoons nie en die dag toe sy gebore is, was gevul met vreugde en verwagting. Sy was perfek – ‘n gesonde baba met tien vingers, tien tone en ‘n glimlag wat die hele wêreld beter laat lyk het.”

Maar toe Danicke drie maande oud was, het Yolanda en Hanno besef dat sy nie dieselfde mylpale bereik as ander baba’s haar ouderdom nie. Op nege maande het Danicke toe haar eerste episode gehad.

“Jy dink jy verloor haar,” vertel Yolanda sag. “Maar as sy terugkom met daardie glimlag van haar, onthou jy weer hoe ongelooflik sterk sy is.”

Jare se hospitaalbesoeke, ondersoeke, terapieë en dokters het gevolg. Elke diagnose wat hulle gehoor het, was óf verkeerd óf onvolledig. Dit het nege jaar geneem voordat hulle uiteindelik in 2021 ‘n definitiewe diagnose gekry het.

Yolanda kyk af na haar hande voor sy weer praat. “Daar was tye wat ons vrae gevra het: Hoekom ons? Hoekom Danicke?” Maar sy vertel dat hulle mettertyd besef het dat antwoorde nie noodwendig genesing bring nie. “Dit help nie om vrae te vrae waar die antwoord nie ‘n verskil sal maak nie. Ons is dankbaar dat sy ons kind is.”

Danicke saam haar ouers, Yolanda en Hanno en suster, Ziané

“Danicke herinner ons hoe nodig ons vir God het.”

Yolanda sê hierdie woorde met die nederigheid van iemand wat weet hoe broos die lewe kan wees. “Dis belangrik dat jy onthou waar jy jou kos kan gaan haal. Want soms vergeet ‘n mens. En jy het nodig om jou voete op die grond te hê, want jy het ‘n konstante nodig. En dis God. Hy is altyd die anker tussen al die inconsistencies in ons lewe. En Hy is altyd daar, reg om jou terug te verwelkom as jy Hom vir so rukkie gelos het, wat partykeer maar gebeur.”

“Ons lewe met dankbaarheid,” voeg Hanno by. Deur die jare het hierdie gesin die waarde van dankbaarheid herontdek – dankbaarheid vir die klein oorwinnings, vir hulle sterk ondersteuningsnetwerk en veral vir die goedheid van mense wat hulle so gereeld teëkom. “Ons vra nie maklik nie,” erken Hanno, “maar daar word voorsien op maniere wat ons nooit verwag nie. Jy kan nie anders as om dankie te sê nie!”

Die deure wat oopgaan – anonieme skenkings, hulp van vreemdelinge en die regte mense presies op die regte tyd – wys hoe God werk deur die mense om hulle. Maar dit is nie net ‘n eenrigtingverhouding nie. Yolanda en Hanno deel nou hul reis met ander ouers wat dieselfde uitdagings in die gesig staar. Hulle is deel van ondersteuningsgroepe waar hulle raad gee én ontvang, want die spesifieke antwoorde waarna mense soek, is nie sommer iets wat jy op Google kan kry nie.

En wanneer Danicke toerusting ontgroei – soos haar rolstoel of spesifieke hulpmiddels – skenk hulle dit aan ander gesinne wat dit nodig het. “Ons is geseënd met soveel ondersteuning,” sê Hanno, “hoe kan ons nie dit wat ons het, aan ander teruggee nie?” Hulle versprei ook hoop en inspirasie deur Danicke se Facebook-blad, Danicke’s Story of Faith and Thankfulness, waar hulle stories deel van haar lewenspad en die wonderwerke wat hulle beleef. Hierdie blad is nie net ‘n platform om te getuig van hul eie verhaal nie, maar ook ‘n bron van bemoediging vir almal wat dit volg.

‘n Geloofsgemeenskap wat ook help dra: ThinkDanicke

In hierdie uitdagende pad het Sonstraal-gemeente ‘n belangrike rol gespeel. Vir die agt jaar wat die gesin al in die Kaap is, is die gemeente meer as net ‘n geloofsgemeenskap; dit is hulle veilige hawe. Van hul eerste dae in die moederskamer tot nou, waar hulle saam as gesin in die kerkbanke sit. Kerk is vir Danicke ‘n lekker plek. “Sy sing saam, sy dans as die liedjies haar opgewonde maak en een van die woorde wat sy kan sê, is ‘halleluja,’” vertel Hanno laggend.

Die gemeente het nie net ‘n ruimte geskep waar die gesin hul geloof kan uitleef nie, maar staan hulle ook prakties by. Op die oomblik deur middel van hulle fondsinsameling projek: ThinkDanicke.

Danicke is ‘n avontuurlustige tiener wat daarvan hou om die buitelewe saam met haar gesin te geniet – haar ouers maak ‘n punt daarvan om haar wêreld so groot as moontlik te hou. “Sy is ons kind. Ons neem haar saam, waar ons ook al gaan,” benadruk Yolanda. Maar om haar die vryheid te gee om saam te kamp, te stap en te verken, het hulle ‘n spesifieke rolstoel nodig. En haar huidige rolstoel is besig om te klein te raak vir haar.

Sonstraal-gemeente het besluit om met passie en kreatiwiteit aan hierdie uitdaging te werk. Hul fondsinsamelingsprojek, ThinkDanicke, mik om R130 000 in te samel vir ‘n aangepaste rolstoel. Om hierdie teiken te bereik, gaan twee van die gemeente se dominees, Carika du Plessis en Eugene Malan, die 2025 Kaapstad-fietswedren ry – ‘n volle 109 km elk!

“Ons nooi 60 mense uit om R10 per kilometer vir elke dominee te skenk,” verduidelik Carika. “Saam trap ons 218 km en kan ons die volle bedrag insamel.” Sy lag: “Nie net laat jy jou dominees oefening kry en trap nie, maar jy help ook om ‘n verskil te maak in Danicke se lewe.”

Vir Yolanda en Hanno is die ondersteuning wat hulle ontvang, onskatbaar. “Dit gaan nie oor die geld nie,” sê Yolanda. “Dit gaan oor hoe mense saamstaan en wys dat ons nie alleen is nie.” Hierdie rolstoel beteken nie net mobiliteit vir Danicke nie, dit beteken vryheid en deelname aan die wêreld.

Behalwe vir gebed en finansies, wat kan jy doen om te help?

Bewustheid is vir die gesin baie belangrik. So, Yolanda moedig mense aan om vrae te vra en die wêreld van gestremdes beter te verstaan. “As jy ons in die mall sien, kom sê hallo! Mense staar dikwels of ouers keer hulle nuuskierige kinders om iets te kom sê omdat hul bang is dat hulle gaan pla,” verduidelik sy. “Maar ek wens hulle wil eerder vra: Wat gaan aan? Hoe lyk haar wêreld?” Sy is passievol oor die belangrikheid daarvan om met gestremdes te praat en hulle te erken. “Moenie bo-oor haar kyk nie. Praat met haar. Sy is net soos enige ander mens.”

Haar boodskap is duidelik: Gestremdes is deel van die samelewing en verdien dieselfde respek en vriendelikheid as enige ander mens. “Mense is geneig om net met die persoon wat die rolstoel stoot, te praat. Maar hulle vergeet van die persoon in die rolstoel. Sien hulle raak. Praat met hulle. Wees nuuskierig – dit is hoe ons almal leer en groei.”

Danicke se storie is immers nie net haar eie nie – dit is ‘n getuienis van hoe mense die lig van God in die wêreld is. In die gewone dae van buitengewone uitdagings, leef Danicke en haar gesin ‘n waarheid wat met ons almal behoort te resoneer: dat hoop nie altyd gevind word in volmaakte antwoorde nie, maar in die klein oorwinnings en die vermoë om steeds lief te hê, dankbaar te wees en te glo, selfs in onseker tye. Hulle wys dat geloof nie net iets is wat in woorde bestaan nie, maar ‘n daad van volharding en vertroue is in die aangesig van hierdie onsekerheid.

Wat as ons almal kies om die lig te dra, selfs al verstaan ons nie altyd die pad vorentoe nie?

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Neurowetenskap van vergifnis: Wat gebeur in jou brein?

  • “Boys will be boys?” – Nee. Seuns, wees soos Jesus!

  • “Andrew gee nuwe blik op geskiedenis van die kerk.”