Danie du Toit vertel oor sy soeke na geluk

👤 Wilmi Wheeler

Geluk is ’n lastige ding. Jy soek dit, jaag dit, lees boeke daaroor, kyk Instagram-reels vol mense wat dit blykbaar beet het. En net wanneer jy dink jy’s naby, glip dit deur jou vingers soos fyn sand. Dalk lê dit in rykdom? Of roem? Of in ’n minimalistiese woonstel met ’n duur koffiemasjien?

Of dalk, as jy vir Danie du Toit (ja, die een van Spoegwolf) vra, lê dit in ’n Jetta wat êrens tussen die Vrystaat en Pretoria onklaar raak, terwyl jy met ’n gesteelde baadjie in die agterste sitplek lê en wonder of jy genoeg petrol het om tot by jou volgende gig te kom.

Danie is genooi om tydens Universiteit Stellenbosch se jaarlikse Teologiedag saam te praat oor die tema Just Flourishing. Sy tema? To seek and write happiness.

“Ek is nie ’n akademikus nie,” sê hy toe hy agter die podium staan, sy glimlag ondeund, asof hy in die verkeerde lokaal is. “En ek het nie juis ’n gesag oor geluk nie. Inteendeel, ek het my hele lewe lank geld gemaak uit hartseer.”

En tog, hier staan die melancholiese liedjieskrywer. By ’n teologiekonferensie. En praat oor geluk voor ’n klomp proffies, dominees en teologiese studente.

Die wysheid van ’n ma

As daar nou een plek is waar Danie gaan antwoorde soek, is dit by sy ma. “Wanneer ek op my laagste is, op my heel hartseerste, is daar net een bron van kennis waarop ek weet ek kan staatmaak. En dit is my ma.”

Sy ma is, volgens hom, ’n anomalie. “In my hele lewe het ek haar nog nooit kwaad gesien nie.” Dit sê baie as jy in ag neem dat sy in ’n huis vol wacky mans grootgeword het.

Hy vertel hoe hy op 19, vasgevang in ’n BA-graad sonder planne of geld, sy ma gebel het en gekla het oor hoe ongelukkig hy is. Haar antwoord? “Danie, die ergste lê nog voor.”

En dit klink dalk eers soos ’n grappie, maar eintlik was dit ’n troos. Dit was ’n manier om te sê: Moenie paniekerig raak as jy vandag nog nie uitgevind het hoe om gelukkig te wees nie. Jy’s nie klaar nie. Jou storie is nie verby nie. Toe skryf hy die liedjie, Syn.

“Hey staan stil vir een sekonde

Mamma kyk na my wonde

Dis nie wonde nie my kind

Jy mag dalk net so dink maar

Baie meer het al baie meer verloor…”

Die waarheid is ‘n legkaart

Danie sê geluk is nie ’n massiewe openbaring wat jou soos ’n bliksemstraal tref nie. Wat hy wel glo, is dat dit iets is wat jy stadig bymekaarskraap – deur mense, oomblikke, liedjies, jou geloof. Elke mens dra ’n klein stukkie van die waarheid. “Dis soos ’n legkaartstuk,” sê hy. “En saam bou ons dan aan iets groter.”

Hiermee sê hy dat geluk nie ’n massiewe openbaring is wat jou soos ’n bliksemstraal tref nie. Dalk is dit iets wat jy stadig bymekaarskraap – deur mense, deur oomblikke, deur liedjies.

Hy vertel van sy 26-jarige self – nog arm, nog verlore, maar al minder bekommerd daaroor. Hy het in ’n Jetta gewoon, van dorp tot dorp getoer, musiek gemaak. En op een of ander manier, al was niks regtig perfek nie, het hy tog daardie flitse van suiwer vreugde ervaar.

Op hierdie punt, sing hy sy lied, Storm.

Toe ek jou ontmoet

Het die vloer gestyg

Na ses en twintig jaar

En ‘it storm in jou kop vanaand

As jy so kyk

Weet ek daar is iets

Rein in my.”

Wat sê Oupa oor geluk?

Die aand voor sy praatjie bel Danie sy oupa – ’n legendariese teoloog met dieselfde naam – en vra vir raad. Oupa sê: “Paulus gebruik die woord ‘blydskap’ of ‘wees bly’ 16 keer in vier bladsye in Filippense.” Dit klink belowend.

Danie vra toe verder: “Maar hoe?” Hoe moet mens eintlik bly wees? Hoe soek ’n mens na geluk?

Oupa se antwoord? “Ag, jy moet my later terugbel. Ek kyk nou eers die heruitsending van Dricus du Plessis en Shaun Strickland.”

Danie lag. Die gehoor lag. En tog, daar lê iets diep hierin: Selfs die slim mense, die ouer mense, die mense wat ons as wys beskou, is nog besig om dit uit te figure. Die soeke self is die antwoord.

Dalk is die geheim van geluk juis dat daar nie ’n stap-vir-stap handleiding is nie. Dalk is dit nie ’n vaste punt wat jy bereik en afmerk soos ’n te-doen-lys nie.

En dalk – net dalk – is dit reg so.

Maar dalk, soos Danie sê, is dit iets wat jy juis per ongeluk vind – tussen mense, tussen musiek, tussen goeie stories. En wanneer jy dit wel raakloop, moet jy dit deel. Want soos Danie op die ou end sê: “Ek hoop net dat, wanneer ek wel op ’n dag daardie vrede en blydskap vind, ek dit kan deel met die mense om my.”

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: