Die strandbal op DinkJeug se kategesetafel
Wilmi Wheeler
Daar lê ’n strandbal op die tafel. Langs hom: boublokkies, klei, ’n dobbelsteen, houtmannetjies en ’n klomp emoji-plakkers. As jy nie geweet het waarvoor al hierdie dinge saam bedoel is nie, sou jy vergewe kon word as jy dink iemand maak gereed vir ’n kunsklas of dalk ’n interessante kinderpartytjie.


Toe begin DinkJeug se demonstrasie.
Anriëtte tel die strandbal op en gooi dit oor die tafel. Iemand vang dit, lag effens en kyk na die vraag wat saam met die bal kom. Daar word geantwoord, die bal vlieg verder en kort daarna rol ’n dobbelsteen tussen die boublokkies deur oor die tafel. Die klei word nadergetrek en hande begin vorm terwyl mense praat.
En skielik is niks hiervan speelgoed nie. Die goed op die tafel word deel van die gesprek. Dit raak ’n manier om ’n storie los te maak, ’n vraag oop te maak of iemand te help sê waarvoor hulle dalk nie sommer uit hul eie die woorde sou kry nie.



Ek het onlangs een van DinkJeug se toerustingsgeleenthede vir kategete bygewoon waar hulle hul 2026-“skatkis” gedemonstreer het. Die inhoud daarvan is doelbewus eenvoudige goed wat ’n kategeet kan optel, rondgee, bou, rol of vorm om kinders en jongmense aan die praat en dink te kry.
Maar terwyl ek daar sit en kyk hoe die items van hand tot hand beweeg en die gesprek saam met hulle van rigting verander, dink ek: Dalk is die interessantste ding op hierdie tafel glad nie die strandbal of die boublokkies nie. Dalk is dit die einste rol wat die grootmens in die vertrek begin speel.
Want baie van ons ken ’n bepaalde prentjie van kategese.
’n Grootmens het ’n les voorberei en ’n groep kinders sit om ’n tafel. ’n Vraag oor die Bybel word gevra, daar sak vir ’n oomblik daardie bekende awkward silence oor die vertrek en almal weet min of meer dat daar iewers ’n antwoord is waarna gesoek word.
En wanneer iemand uiteindelik “Jesus” sê, kan almal weer asemhaal.
Dit is natuurlik ’n effense karikatuur. Daar gebeur baie goeie, kreatiewe kategese in gemeentes. Maar die versoeking bly groot om geloofsvorming te behandel asof die belangrikste taak is om die regte inhoud van die een kop na die ander te skuif.
Wat voor my om die tafel gebeur, vertel ’n ander storie.
Hier is die kategeet nie net die persoon wat die antwoord ken nie. Die kategeet maak ruimte, vra vrae, luister, wag wanneer die antwoord nie dadelik kom nie en gee dan letterlik én figuurlik die bal aan.
DinkJeug beskryf die beweging van kategese deur vier kernwoorde: omgee, gesels, doen en bid.
Hoe langer ek daar sit, hoe minder klink dit soos ’n metode en meer soos ’n beskrywing van hoe geloof oor tyd tussen mense begin groei.
Nie net deur wat ’n kind hoor nie, maar deur wat ’n kind beleef. Veral deur die klein oomblikke waarin geloof nie verduidelik word nie, maar tasbaar word.
’n Kategeet wat onthou dat jou ouma siek was en die volgende week weer vra hoe dit gaan. Omgee.
’n Groep waar jy kan sê: “Ek verstaan nie hoekom God dit toegelaat het nie,” sonder dat iemand jou vraag vinnig met ’n maklike antwoord probeer stilmaak. Gesels.
’n Bybelverhaal wat nie eindig by “wat leer ons hieruit?” nie, maar jou hande en voete begin pla. Doen.
’n Gebed wat nie net iets is wat ’n volwassene aan die einde van die uur namens almal doen nie, maar iets waarin ’n kind self kan ontdek: Ek mag ook praat. Ek mag stil wees. Ek mag wonder. Ek mag vir God vertel wat hier binne aangaan. Bid.

Dit klink eenvoudig, maar miskien is eenvoudig juis die punt. Want kinders het nie noodwendig nog ’n indrukwekkende program nodig vir Sondagskool om sinvol vir hulle te wees nie. Hulle het volwassenes nodig wat teenwoordig is. Mense wat hulle name ken, onthou wat verlede week in hulle lewe gebeur het, nie paniekerig raak wanneer hulle ’n moeilike vraag vra nie en soms bereid genoeg is om saam met hulle in die onsekerheid te bly en te sê: “Ek weet nie. Kom ons dink saam.”

En dit is dalk waar die strandbal onverwags belangrik word. Nie omdat ’n strandbal geloof vorm nie, maar omdat dit iets aan die magsverhouding rondom die tafel verander en sê: Die gesprek behoort nie meer net aan die kategeet nie.
Die bal beweeg van hand tot hand en die vraag beweeg saam. Ander stemme begin die vertrek vul. Die kind wat gewoonlik stilbly, kry ook ’n beurt; die jongmens wat nie ’n netjiese teologiese antwoord kan formuleer nie, kan dalk met ’n stuk klei wys wat hy bedoel, terwyl iemand anders met boublokkies besig bly totdat ’n moeilike gedagte stadig genoeg vorm kry om uitgespreek te word.
Vir ’n oomblik word kategese minder ’n plek waar kinders moet bewys wat hulle weet en meer ’n plek waar hulle kan ontdek wat hulle glo. En, ewe belangrik, waarmee hulle sukkel om te glo.
Dit is ’n belangrike verskil, want ons kan kinders baie dinge leer. Ons kan seker maak hulle ken die name en volgorde van die Bybelboeke. Ons kan stories vertel, teksverse memoriseer en aktiwiteite beplan. Maar ons kan nie geloof in hulle inprop nie.
Ons kan net ruimtes help skep waarin geloof kan wortelskiet.



Ruimtes waarin ’n kind met die verloop van tyd begin beleef: Hier word ek gesien en hier mag ek vra. Ek hoef nie voor te gee dat ek alles verstaan nie. Die Bybel het iets met my lewe te doen en Jesus is nie bloot die korrekte antwoord wat ek op ’n werkkaart moet invul nie.
Toe DinkJeug se demonstrasie klaar is, raak die gesprekke stadig stil en staan mense van die tafels af op. Die hulpmiddels wat ’n paar minute tevore deur soveel hande beweeg het, lê weer waar hulle begin het.
Daar is weer die boublokkies. Die klei. Die dobbelsteentjies. En daar, tussen alles, die strandbal. Presies dieselfde strandbal wat daar gelê het toe ek ingestap het, maar vir my lyk hy nou anders.
Want die eintlike skatkis is seker nooit die houer vol hulpmiddels nie. Dit is die oomblikke wat daarmee oopgemaak kan word.
Ons praat graag oor hoe ons die volgende generasie se geloof kan behou. Dalk begin dit op ’n eenvoudiger plek. Nie by hoe goed ons aan kinders kan verduidelik wat hulle behoort te glo nie, maar by die soort ruimtes wat ons saam met hulle skep. Ruimtes waarin hulle ontdek dat hulle nie bloot ontvangers van die geloofsgesprek is nie, maar deelnemers daaraan; dat hulle self mag vra, bid, dien, wonder en ontdek.
Ek kyk weer na die strandbal op die tafel. Niks besonders nie. Net ’n ligte stuk plastiek wat jy by enige Crazy Store sou kon koop. Maar ’n paar minute vroeër het iemand hom gevang, ’n vraag gehoor en begin praat.
En miskien is dit soms juis waar geloofsvorming begin. Wanneer ’n grootmens bereid is om die bal uit sy eie hande te laat gaan.


