Drie-Eenheidsondag: Een plus Een plus Een is… Een?

👤 Wilmi Wheeler

As jy, soos ek, in die kerk grootgeword het, het jy waarskynlik jou eerste les oor die Drie-Eenheid in Sondagskool gekry. Dis waarskynlik ook waar jy die eier-voorbeeld vir die eerste keer gehoor het.

“God is soos ’n eier,” het die tannie langs die witbord gesê terwyl sy geteken het. “Die dop, die wit en die geel. Drie dele, maar een eier!”

As 8-jariges het ons het ernstig geknik en daaraan gedink elke keer as ons ’n eier oopgebreek het vir ontbyt of ‘n broodjie.

Toe raak ons ouer en die voorbeeld verander toe na water. “Water kan vastestof, vloeistof of gas wees. Ys, water, stoom. Drie vorms, een stof.” Wéér knik ons (hierdie keer as 12-jariges) plegtig, al het ons nog nie regtig die wetenskap van water mooi verstaan nie.

Toe ons op hoërskool kom, het ons Sondagskoolonderwysers vir ons verduidelik dat God soos sonlig is: die son self, die strale en die hitte wat jy voel. Drie, maar een. Klink slim, nè?

Tot jy ouer word. ‘n Volwassene. En jy begin wonder: “Maar… is God dan net ’n wetenskaplike metafoor? Werk Hy soos H2O?” En dan begin die hele konsep van die Triniteit effens kraak soos daardie eierdop. Want skielik is jy nie meer in Sondagskool nie. Jy’s ’n volwassene met vrae, twyfel en ’n gevoel dat jou kindertydse voorbeelde nie heeltemal genoeg is om die gewig van die realiteit te dra nie.

Die Drie-Eenheid: Van illustrasie tot verwondering

Dis op daardie punt wat baie van ons óf moed opgee óf begin dink die Drie-Eenheid is iets vir die slim teoloë. Spesifiek vir daardie mense wat antieke Griekse woorde soos homoousios, perichoresis, hypostasis uitdeel soos muntstukke.

Maar dan kom Drie-Eenheidsondag net na Pinkster. En jy sit in die kerk en jy hoor weer hierdie verduideliking:

Een God, drie Persone. Nie drie gode nie. Nie een persoon met drie kostuums aan nie. Een Wese. Drie Persone. Vader. Seun. Gees.

En jy sluk hard, want dit breek jou brein. Hoe werk die Drie-Eenheid dan nou eintlik?

Die antwoord? Wel… dit werk. Maar dit werk nie soos ’n vergelyking wat jy oplos nie. Dis eerder soos asemhaal. Jy doen dit al jou hele lewe lank sonder om al die biologie daaragter te verstaan. En niemand sê: “Ek sal eers asemhaal as ek die respiratoriese stelsel ten volle begryp nie.”

Net so hoef jy nie te wag totdat jy die Drie-Eenheid volledig verstaan voordat jy kan aanbid nie. Jy leef daarin. Jy rus daarin. En jy mag in verwondering wees daaroor.

Die Drie-Eenheid is nie ’n probleem om op te los nie, maar ’n misterie om in te leef

Augustinus het ’n waarskuwing gehad: “As jy dink jy het God ten volle verstaan, dan is dit nie God wat jy verstaan nie.” En dis só bevrydend.

Want die Drie-Eenheid is nie ’n toetsvraag met net een regte antwoord nie. Dis nie ’n Rubik’s Cube vir gevorderde gelowiges nie. Dit is eerder ’n uitnodiging. Drie-in-een, ja en jy is deel daarvan.

Elke Persoon van die Drie-Eenheid is uniek. Die Vader skep en stuur (roep jou). Die Seun word mens, sterf en staan op (red jou). Die Gees woon binne jou (vorm jou). Hulle is nie kopieë van mekaar nie, maar tog nie van mekaar geskei nie. Dis nie uniformiteit nie, dis eenheid in verskeidenheid. En in ’n wêreld wat óf alles dieselfde wil maak óf alles wil laat verbrokkel in individuele eilande, is dit ’n radikale visie.

Jy is dus nie net ’n gelowige wat ver weg van ’n goddelike geheimenis staan nie. Jy’s deel van die dans. (Dit is C.S. Lewis wat die Drie-Eenheid beskryf het as: “God is a kind of dance.”)

So wat doen jy op Drie-Eenheidsondag?

Moet nie moedeloos voel as jy nie die Drie-Eenheid in twee of minder sinne kan opsom nie. Moet ook nie jou hare uit jou kop trek omdat jy nie die perfekte metafoor het nie. Sit eerder stil. Asem in. Asem uit. Laat jou lei deur verwondering, nie apatie nie.

Sê: “Dankie, Vader, vir u liefde. Dankie, Jesus, vir u genade. Dankie, Heilige Gees, vir u teenwoordigheid.”

En weet: Jy hoef nie alles van om 100% verstaan om waarlik vir God te aanbid nie.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: