Epifanie: Drie geskenke, een openbaring
👤 Wilmi Wheeler
Ons almal het al “aha”-oomblikke gehad. Soos wanneer jy uiteindelik snap hoe om daardie irriterende Excel-formule te gebruik. Of wanneer jy die regte lirieke van ’n liedjie hoor en besef jy sing dit al jare verkeerd (nie “Sweet dreams are made of cheese?” nie? Oeps…). Epifanie is daardie oomblik van lig – letterlik en figuurlik – wanneer dinge skielik sin maak.
Maar in die Christelike kalender het dit ’n nog dieper betekenis. Dit verwys na die oomblik toe ’n ster en drie geskenke die waarheid van Jesus onthul het.
Wat beteken “epifanie” nou eintlik?
Die woord “epifanie” kom van die Griekse woord epiphaneia, wat beteken “om geopenbaar te word” of “verskyning.” Dit is soos wanneer jy iemand se masker aftrek en die ware gesig sien.
Op 6 Januarie, twaalf dae ná Kersfees, begin ons met die viering van Epifanie. (Ja, dit beteken jou Kersboom moet teen hierdie tyd al af wees). Dié tyd in die kerkjaar is meer as net ’n voetnota aan die Kersseisoen. Dit is die oomblik in die storie van Jesus wat lig werp op wie Hy werklik is.
Tydens Epifanie herdenk ons hoe Jesus se identiteit as die Messias bekend gemaak is. Ons dink spesifiek terug aan die wyse manne wat deur ’n ster gelei is na die stal in Bethlehem waar Jesus gebore is. Dit is toe, by hul ontmoeting met die Kind, dat die betekenis van die ster vir hulle skielik duidelik word: Dit is nie net ’n baba nie. Dit is God self.
Drie geskenke, drie openbarings
Die wyse manne het nie sommer net gewone ooievaarstee geskenkies gebring nie. Enige ma sal vir jou kan sê dat goud, wierook en mirre nie goed is wat jy in enige pasgebore baba se kamer sal sien nie.
Hierdie geskenke was deurdag en ryk aan betekenis. Dit wat die wyse manne gegee het, het nie net hulle eerbied en erkenning vir Jesus gewys nie, maar het ook belangrike waarhede oor Jesus se identiteit geopenbaar.
- Goud: Goud was nog altyd geassosieer met konings en heerskappy. Om goud aan Jesus te gee, het sy koninklike status bevestig – Hy is nie net ’n plaaslike koning nie, maar die Koning van alle konings. So het hulle gedui op sy soewereiniteit oor die hele wêreld.
- Wierook: Wierook, gebruik in aanbidding, het Jesus se goddelikheid beklemtoon. Dit was ’n teken van eer aan Hom as die Seun van God, waardig van lof en aanbidding. So het hulle gesê dat Jesus nie net ’n besonderse mens is nie, maar volledig God.
- Mirre: Mirre, hoewel waardevol, het ’n donkerder betekenis. Dit was bekend as ’n middel om liggame na die dood te balsem – ’n simbool van voorbereiding vir begrafnis. Hierdie geskenk was vooruitwysend na die kruis, waar Jesus sou sterf vir die sonde van die wêreld. Al was Hy nog ’n baba, was die doel van sy koms klaar vasgestel: om te sterf sodat ons kan lewe.
Elke geskenk was ’n openbaring van wie Jesus is: Koning, God en Verlosser.
Waarom Epifanie belangrik bly
Epifanie is meer as net ’n historiese herdenking. Dit is ’n herinnering aan hoe God Homself aan ons openbaar, maar ook ’n oproep om in die hede te lewe as mense wat daardie openbaring verstaan en dit in ons eie lewens erken.
Jesus openbaar Homself steeds aan ons. Vir die wyse manne was dit deur ’n ster, maar vandag gebeur dit op soveel maniere. Hy wys Homself deur die Bybel, waar ’n vers wat jy al honderd keer gelees het, skielik met jou siel praat. Hy verskyn in die stem van ’n vriend of selfs in die woorde van ’n vreemdeling wat jou pad kruis. Hy roep jou in die skoonheid van die natuur en dan is daar daardie oomblikke van stilte, waar jy skielik besef: Hy is hier, reg langs my.
Hy vra van ons om, soos die wyse manne, op die pad te bly, al weet ons nie presies waar dit eindig nie. Dit daag ons uit om ons eie geskenke na Jesus te bring – nie goud, wierook of mirre nie, maar ons tyd, ons liefde, ons bereidwilligheid om te dien.
Die vraag is: Sien ons Hom vir wie Hy regtig is – ons God, Koning en Verlosser? En as ons Hom regtig sien, hoe antwoord ons op hierdie openbaring?