George Bergsig vertel: God se tyd is volmaak
👤 George-Bergsig Gemeente
NG Kerk George-Bergsig het die besondere voorreg gehad om, vir die eerste keer in ses jaar, weer uit te reik na Ebusi, ’n gemeenskap in Msinga. Na ons laaste uitreik in 2019 is die jaarlikse bediening tydens Covid, onluste en verskeie ander uitdagings gekeer. Maar hierdie jaar kan ons met sekerheid sê: God se tyd is volmaak.
Van die eerste oomblik af het ons Sy hand gesien. Waar ons in Januarie met geen fondse of spanlede begin het nie, het die Here deure oopgemaak en oorvloedig voorsien. Uiteindelik kon ons met ’n span van 35 lede, onder leiding van ds. Nati Stander & Marené Pretorius, gesteun deur ’n gemeente wat met gebed en finansiële bydraes agter ons gestaan het, van 27 Junie tot 7 Julie na Ebusi vertrek.
Die vreugde om weer te sien hoe die gemeente daar floreer en brand vir Jesus, was onbeskryflik. Tydens ons verblyf was daar selfs Veritas-groepe wat hulle kursusse voltooi het – ’n duidelike teken dat God onophoudelik bou aan die gemeenskap.

George Bergsig se ryk program is geseën deur God
Ons program het bestaan uit:
- Kinderevangelisasie
- Huisbesoeke en evangelisasi
- Bouprojekte soos die herstel van die kerk se dak en heining
- Die opknapping van ’n kleuterskoolklaskamer
Ons span, waarvan die jongste net 9 jaar oud en die oudste 72 was, het eerstehands beleef hoe die Here gebede beantwoord en tot in die fynste detail voorsien.
Elke dag het 50–70 kinders deelgeneem aan ons kinderbediening, waar hulle op ’n kreatiewe manier deur die Bybel gereis het – van die skepping tot by Jesus se opstanding. Hulle harte was oop en honger na God se Woord. Dit was kosbaar om te sien hoe hulle met lofliedere Jesus aanbid.
Die bouprojekte was net so ’n wonderwerk. God het voorsien deur Build It George en Ladysmith, waar ons boumateriaal gratis of teen groot afslag kon kry. Dit het ons in staat gestel om die stormbeskadigde kerk se dak weer waterdig te maak, te verf, die heining te herstel en nodige herstelwerk aan toilette, deure en steunpale te doen. Selfs die klimraam het nuwe lewe gekry met vars verf en nuwe swaaie. Die kleuterskoolklaskamer, geleë op die kerk se perseel, is verfraai en ingerig.
Een van ons spanlede het tyd saam met die plaaslike onderwyseres spandeer om haar te ondersteun. Haar woorde, met trane van dankbaarheid: Nou kan ek uiteindelik werk, is ’n getuienis van hoe God voorsien, selfs in die kleinste behoeftes.


Die oomblikke wat uitgestaan het
Elke dag het ons twee evangelisasiespanne van vyf spanlede en twee tolke uitgestuur. Hulle het hulpmiddels soos die Evangecube, woordlose boekie en evangelisasiebandjies gebruik om Jesus se liefde te deel.
Ons kon 120 Zulu-Bybels, 70 Engelse Bybels en meer as 30 Gideons-Bybeltjie uitdeel. Elkeen is met vreugde en diepe dankbaarheid ontvang.
Maar dit was nie net die Bybels nie – dit was die lewensveranderende oomblikke wat ons nooit sal vergeet nie:
’n Gebed wat God onmiddellik beantwoord: Een span het vier huise besoek waar niemand ontvanklik was nie. Hulle het in stilte gebid: “Here, stuur asseblief die mense na ons toe.” ’n Paar honderd meter verder het hulle geleentheid gekry om eers vir ’n vrou en haar kinders, toe vir ses tienerseuns, en kort daarna vir drie kleintjies langs die pad te bid. By die volgende huis het ’n ouer dame, aanvanklik terughoudend, haar hart oopgemaak en gesê: “Ja, ek wil Jesus aanneem.” Haar vreugde was onbeskryflik.
Gogo, die Sangoma se huis: Verskeie spanne het onwetend dieselfde huis besoek – dié van ’n sangoma. God het deur ons tolk, haar eie dogter, gewerk en die deur oopgemaak om die evangelie met haar te deel. Op die derde besoek het sy ons genooi vir middagete. Daar, in daardie heilige oomblik, het sy die vraag: “Wil jy Jesus se hand vat?” geantwoord. Met trane van dankbaarheid het sy haar lewe aan Christus oorgegee.
God se getrouheid oor tyd: ’n Dame het getuig dat die span in 2019 vir haar gebid het vir werk – en ’n uur later het sy werk gekry. Ses jaar later kon sy ons verwelkom en God se voorsiening bevestig.
God genees: Deur die gebed van een van ons spanlede, ‘n 11 jarige dogtertjie, het God ‘n vrou genees. Voorheen kon sy nie loop nie agv pyn, en na daardie gebed, stap & huppel sy, sonder pyn.
Daar is soveel meer verhale – stories van genesing, van harte wat sag geword het, van roepings wat op mense se lewens gelê is.

God in…
God in die Groot én Klein Dinge
Ons het die Here se hand in alles gesien – van die kleinste reëlings wat perfek in plek geval het, tot groot oomblikke waar mense hulle lewens aan Hom oorgegee het. Dit was wonderlik om in Zulu saam God te loof en te prys en Sy liefde te sien floreer oor kultuur-, taal- en rasgrense heen.
’n God van Voorsiening en Volmaakte Tyd
Hierdie hele uitreik is ’n lewende getuienis van wie God is. Wanneer iets in Sy wil en plan is, sal niks dit kan keer nie. Hy het 35 eenvoudige “ja’s” geneem en dit gebruik om honderde lewens aan te raak.
Ons staan in verwondering oor Sy grootheid en Sy heerlikheid. En ons sien met opgewondenheid uit na die rimpel-effekte – nie net in die gemeenskap van Ebusi nie, maar ook in ons eie gemeente.
“Aan Hom wat oneindig veel meer kan doen as wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk – aan Hom kom al die eer toe…” (Efesiërs 3:20-21)



