Gesigte het verander. Die roeping nie.

Wilmi Wheeler

Op ’n Sondagoggend in Julie trek motors een ná die ander by die kerkterrein van NG Kerk Bellville-Noord in.

Mense klim uit. Jonges. Ouer mense. Gesinne. Mense in baadjies en dasse, ander in tekkies. Hier en daar word iemand gegroet wat lanklaas gesien is. Binne skuif mense langs mekaar in die kerkbanke in.

Dit is ’n gewone kerktoneel. Tog het ek gewonder hoe anders dieselfde toneel meer as ’n eeu gelede sou gelyk het.

Bellville, roeping

Toe die eerste gereelde eredienste in Bellville in April 1900 begin het, was Bellville nog ’n heel ander plek. Die gemeente wat ons vandag as Bellville-Moedergemeente ken, sou eers in 1934 amptelik van Durbanville afstig. Voor dit was die gelowiges hier deel van Durbanville se gemeente en is dienste plaaslik vir hulle gehou.

In daardie jare sou mense op heel ander maniere hier aangekom het. Party te voet, ander per trein of met die vervoer van die tyd soos perdekarre. Die Bellville-stasie was reeds daar; Voortrekkerweg se voorganger het die verkeer tussen die Kaap en Stellenbosch deur dié wêreld gedra.

Ek probeer my die kerkbanke van toe voorstel.

Mense met ander klere. Ander haarstyle. Ander maniere van praat en doen. Heel waarskynlik ’n veel meer eenvormige groep mense as die verskeidenheid gesigte wat nou voor my sit.

Meer as ’n eeu later het Bellville sigbaar verander. En die kerkbanke het saam verander.

Dit is dalk juis wat my die meeste opgeval het tydens die diens waar Bellville-Moedergemeente, Bellville-Noord en La Belle hulle eenwording amptelik bevestig het.

Die ouderdomme. Die gesigte. Die verskillende mense wat saam in dieselfde ruimte sit.

Want eintlik het dié drie gemeentes lank voor die dokumente geteken is, begin leer hoe om saam gemeente te wees. Hulle funksioneer reeds vir ‘n geruime tyd al as een. Die amptelike proses het uiteindelik net ingehaal by iets wat reeds in praktyk gebeur.

Maar op daardie Sondag het dit gevoel asof daar nóg ’n storie saam met die eenwording vertel word. ’n Storie oor ’n kerk wat al lank in Bellville staan, terwyl Bellville rondom haar aanhou verander.

Bellville-Moedergemeente is in 1934 gestig. Bellville-Noord het in 1954 uit die moedergemeente ontstaan. Dit is ’n geskiedenis wat oor geslagte heen strek.

Mens kan maklik nostalgies raak oor sulke geskiedenis. Spesifiek as jy jou gedagtes laat gaan oor hoe dinge was.

Hoe vol die kerk eens was. Hoe mense aangetrek het. Hoe ’n Sondag gelyk het. Hoe gemeentes gegroei en nuwe gemeentes afgestig het omdat daar eenvoudig te veel mense was vir een.

Maar nostalgie kan ’n gevaarlike plek vir ’n kerk wees.

Want ’n gemeente bestaan nie om ’n vorige weergawe van sy gemeenskap aan die lewe te hou nie. ‘n Gemeente bestaan om getrou te wees in die gemeenskap wat nou om haar leef.

En Bellville van 2026 is nie Bellville van 1934 nie.

Die mense lyk anders. Hulle praat anders. Hulle behoeftes is anders. Die stad het digter, groter en ingewikkelder geword. Mense beweeg deur Bellville wat die eerste lidmate van die moedergemeente hulle waarskynlik kwalik sou kon voorstel.

Die vraag is dus nie of die kerk dieselfde kan bly nie. Die vraag is of die hart daarvan herkenbaar kan bly.

En miskien is dit waarom die verhouding tussen die Bellville-gemeentes en MES so ’n belangrike deel van hierdie verhaal is.

MES en hierdie gemeentes stap al lank saam.

Die ou Bellville-Moedergemeente se kerkgebou word vandag deur MES vir hulle bedrywighede gebruik. Die pastorie dien reeds jare as ’n halfweghuis.

Dink ’n oomblik daaroor.

’n Gebou wat deur ’n vorige geslag opgerig is vir die bediening van ’n bepaalde gemeenskap, dien steeds die gemeenskap rondom hom. Net anders.

Die mense wat vandag daar instap, is nie noodwendig die mense vir wie die oorspronklike bouers gedink het hulle die plek oprig nie. Maar dalk is dit presies hoe ’n lewende erfenis behoort te werk.

Nie deur alles presies te bewaar soos dit was nie, maar deur die oorspronklike roeping telkens nuut te vertaal.

Tydens die diens het Ilse Maartens van MES juis gepraat oor hoe belangrik dit is dat gemeentes by hulle gemeenskappe betrokke is.

Dis ’n frase wat maklik abstrak kan klink. Tot mense uit daardie gemeenskap self opstaan.

’n Groep mense wat deur die Bellville-gemeentes se hulp ondersteun is, was dié Sondag by die diens. Hulle het ’n geskenk kom oorhandig. En toe singe en dans hulle om dankie te sê vir die gemeente.

Dit was vir my een van daardie klein oomblikke wat ’n veel groter storie vertel. Nie omdat ’n gemeente applous nodig het of selfs verdien nie. Maar omdat die applous gekom het van mense wat kon sê: Dankie vir die rol wat julle in ons lewens gespeel het. Julle teenwoordigheid het ons op een of ander manier geraak.

Daar is baie maniere waarop ’n mens kan bepaal of ’n gemeente steeds “relevant” is.

Getalle is een.

Finansies is een.

Hoeveel mense op ’n Sondag in die banke sit, is seker ook een.

Maar miskien is daar ’n eenvoudiger maatstaf: Sou die gemeenskap agterkom as julle môre nie meer hier was nie?

Op dié Sondag in Bellville het dit gevoel of daar mense is wat wel sou.

MES het ook ’n olyfboom as geskenk gebring. Die Bybelse simboliek daarvan is ryk. Dit sê iets oor standvastigheid en om te groei in moeilike omstandighede. Maar ek dink die boom sê ook iets oor hierdie gemeentes se geskiedenis.

’n Boom bly nie dieselfde deur sy leeftyd nie.

Die dun takke waarmee hy begin, word later dik. Ou takke word afgesnoei. Nuwe blare groei. Seisoene kom en gaan. Van ’n afstand lyk die boom oor dekades heen dalk selfs heeltemal anders.

Maar onder die grond lê die wortels.

Bellville se kerkverhaal lyk vandag anders as in 1900.

Die mense wat Sondagoggend aankom, trek nie aan soos daardie eerste kerkgangers nie. Hulle reis nie op dieselfde manier nie. Hulle leef nie in dieselfde Bellville nie.

Selfs die drie gemeentename wat vir dekades hulle eie geskiedenisse gedra het, word nou deel van een verhaal.

Maar miskien hoef getrouheid nooit te beteken dat alles dieselfde moet lyk nie.

Dalk is die belangriker vraag of dieselfde hart nog klop:

’n Gemeente wat aanbid.

’n Gemeente wat mense raaksien.

’n Gemeente wat sy deure en sy ruimtes oopmaak.

’n Gemeente wat verstaan dat hy nie net in Bellville staan nie, maar vir Bellville hier is.

Meer as 125 jaar nadat die eerste gereelde eredienste in hierdie omgewing begin het, lyk die gesigte in die kerkbanke anders.

Gelukkig maar, want Bellville lyk ook anders.

Die vraag vir die volgende honderd jaar is nie of die kerk kan bly lyk soos die kerk van die vorige honderd nie. Die vraag is of mense steeds sal kan sê: Hierdie gemeente ken die plek waar hy geplant is.

En dien die mense wat nou hier woon, as een.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: