“Getuig, eerder as verklaar,” sê Marinus Theron
👤 Wilmi Wheeler
Geloof en getuienis behoort onafskeidbaar met mekaar verweef te wees in die lewe van elke gelowige. As ons glo in die goeie nuus van Jesus Christus, wat verlossing en hoop bring, is daar geen rede om hierdie wonderlike boodskap vir onsself te hou nie. Om te getuig is die natuurlike uitvloeisel van ons geloof – ‘n manier om die impak van ons ontmoeting met Jesus met ander te deel. Dit is nie net ‘n plig nie, maar ‘n vreugdevolle antwoord op die genade wat ons ontvang het.
Marinus Theron, voorsitter van die moderamen, herinner ons aan die krag wat die Heilige Gees ons gee om as getuies van Jesus Christus op te tree.
In Lukas se vertelling van die verhaal van die vroeë kerk, begin hy met die belofte woorde van Jesus in Handelinge 1:8. “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
“Krag” om wat mee te maak?
Die Heilige Gees gee vir ons krag om te getuig
Krag wat die Heilige Gees aan hulle skenk om die goeie nuus van Jesus Christus met die wêreld te deel en om te vertel van Hom wat verlossing bring. Hierdie Jesus wat God se koninkryk kom bekendmaak het en wat vir mense kom wys dat God begaan is oor die lewe. Elke keer wanneer Jesus Homself bekendmaak, staan die “goeie nuus” (volgens die Johannes-evangelie) in die teken van lewe: “brood, lig, die ingang, Goeie Herder, weg-waarheid-lewe, die wingerdstok.”
Geen wonder dat die gelowiges al in die Ou Testament die raad kry, soos byvoorbeeld in Spreuke 14 om te waak oor hulle optrede en veral ook in wat hulle sê. Ook Spreuke 15 se bekende woorde:
“’n Sagte antwoord keer woede weg, maar ‘n krenkende woord laat toorn opvlam. (vers 1)
Kalmte van die tong is ‘n boom van lewe, maar verdorwenheid daarvan breek die gees.” (vers 4)
En wanneer gelowiges iets beleef van die andersheid van hierdie evangelie, te midde van ‘n wêreld waar hierdie andersheid nie as heersende kultuur aanvaar word nie, dan bly die goeie nuus steeds relevant. getuig
Jesus se bergpreek en sy klem op die liefdesgebod is steeds vir ons praktiese raad vir ons daaglikse lewe voor God. Jesus se gebed in Johannes 17 hou ons bewus daarvan dat Hy inderdaad weet dat ons in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld is nie.
Ook Paulus wat dikwels teenstand beleef het en meermale vanuit die gevangenis skryf, praat in sy brief aan die Filippense oor die roeping van gelowiges. Sy raad aan mede-gelowiges is gewoon om op Jesus se spoor te leef. In Filippense 2 skryf hy soos volg:
“Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was. Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” (verse 5-7)
Paulus gebruik twee baie belangrike woorde hier naamlik ‘fronesis’ wat beteken “om soos Jesus te dink” en ‘kenosis’ wat beteken om jouself leeg te maak of uit te giet”, soos Jesus!
Later in Filippense 2 beskryf Paulus hoe hierdie gelowiges “te midde van `n ontaarde wêreld” “soos sterre sal skyn.“ Hy herinner hulle dat hulle geloof `n offer in diens van God is.
Om verklarings uit te reik beperk ons bloot tot wat ons alles glo. Om te getuig vanuit `n eerstehandse, persoonlike verhouding met Jesus bied aan ons die geleentheid om te vertel waarom ons glo!
Laat ons die lig wat vir ons die lewe gebring het weerkaats. Laat ons steeds die goeie nuus van Jesus se koms deel met ander, maar in die styl van Jesus.
Kom ons leef ons dankbaar, nederig en afhanklik in die voetspore van Jesus.
Getuig eerder as verklaar!