God se kerk het nie mure (of ‘n dak) nie
👤 Wilmi Wheeler
As jy al ooit in die Karoo onder ’n helder naghemel gestaan het (of die bloedmaan van nou die aand aanskou het), sal jy weet: jy voel skielik klein. Dis daai soort klein wat nie minderwaardig is nie, maar eerbiedig. Jy dink jy kyk op, maar eintlik kyk jy in.
Ek is die ander aand hieraan herinner toe ek en ’n kollega by die Welgemoed Kunstefees beland het. Ons het 88 gaan kyk. Dit is die vertoning van Coenie de Villiers en Rocco de Villiers. Twee pianiste, twee meesters van klank en natuurlik twee storiesvertellers van formaat (hulle laat jou lag én dink). So tussen die grappies deur het Coenie egter ’n oomblik lank stilgeword. Hy kyk effens bewoë op na bo, asof hy skielik onthou dat hy nie net in ’n teater staan nie, maar binne-in ’n kerk. En toe sê hy:
“Mense weet nie van kerke bou nie. As die Skepper ’n kerk sou bou, sou die dak die helder sterrehemel van die Karoo wees en die vloer die Vrystaatvlaktes.”
Nou toe nou. Daardie beeld sit nog steeds by my. Want ja, ons mense bou pragtige kerke. Sommige is eenvoudige saaltjies, ander is groot katedrale wat jou asem wegslaan. Maar God se bouwerk steek ons s’n mos behoorlik in die skande.

In sy lied Katedraal sing Coenie dit só raak:
“In my kerk is daar geen dak nie … want my koepel is die hemel, hoog genoeg vir al die sterre, breed genoeg vir die planete … Hier sal jy stilte, hier sal jy vrede, hier sal jy rus by My.”
Dit laat my dink aan Psalm 19: “Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.” Dis amper asof die Bybel self ons al lankal probeer oortuig het, maar ons mis dit keer op keer: jy’t nie vier mure nodig om God se teenwoordigheid te ervaar nie.
Ek dink ons raak soms bietjie vasgevang in die idee dat “kerk” net die gebou is. Jy weet mos: die bekende banke, die orrel (of band) se bekende akkoorde en natuurlik die koffie na die diens waar daar nie ’n tekort aan geselsies is nie. Alles mooi en kosbaar en deel van ons tradisie. Maar die gevaar is dat ons kan begin dink dat dít is waar God woon.
Die waarheid is: die gebou is maar net ’n afspringplek. Die regte katedraal lê daar buite, waar jy nie hoef te wag tot op ’n Sondag om toegang te verkry nie, waar niemand vir jou kollekte vra nie en waar die nagmaalbrood die geur van vars veld is.
Ek het in die Vrystaat grootgeword. My ma’le het altyd gespot en gesê ons is tussen nowhere en nêrens (al was Bloemfontein maar net ’n uur se ry weg…). So, ek is goed vertroud met die vlaktes. Jy kyk horison toe en dink dit hou nooit op nie. Nou wonder ek: miskien is dit die vloer waarvan Coenie praat. ’n Vloer wat nie beperk nie, maar oopmaak.
Jesus self het dit mos geweet. Hy het nie klipgeboue gesoek om in te preek nie. Hy het die berge gekies, die see se oewer, selfs die oop pad.
Beteken dit ons moet nou ophou kerk toe gaan? Glad nie. Ek dink eerder dit beteken ons moet weer leer kyk: die gebou is nie die einddoel nie, dit is die herinnering. ’n Herinnering dat daar ’n groter katedraal wag.
En dalk is dit die uitnodiging wat ek die sterkste gehoor het in Coenie se woorde en musiek: Hier sal jy stilte, hier sal jy vrede, hier sal jy rus by My. Wanneer laas het jy dit ervaar? Nie net as jy by ’n erediens was nie, maar toe jy die son sien sak of die wind deur die bome hoor trek?
Mense mag dalk dink hulle weet baie van kerke oprig. Maar God? Hy’s ’n meesterbouer. En sy katedraal staan wyd oop. Jy kan sommer nou instap.


