Baie keer hoor ons hoe mense terughou om stories van barmhartigheid te deel, uit vrees dat dit mag lyk asof hulle spog. Dit is ’n geldige bekommernis, aangesien die Bybel ons leer om nie ons goeie werke te doen om gesien te word nie. Maar dit beteken nie dat sulke stories nooit vertel moet word nie. Wanneer stories en getuienisse van barmhartigheid en liefde gedeel word met die doel om God te verheerlik, het dit die krag om ander te inspireer en bemoedig, en om ons na Sy groter liefde te wys.

Baie verwys na die teks van Matteus 6:3-4:

“Maar wanneer jy ‘n liefdesgawe gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdesgawe in die geheim kan wees. Jou Vader wat in die geheim sien, sal jou beloon.”

Die punt van hierdie teks is om te beklemtoon dat ons goed moet doen sonder om aandag op onsself te vestig – dit gaan nie oor ons eer en ego’s nie, maar oor God se heerlikheid. Ons moet in die geheim en met ’n suiwer hart gee, sonder die begeerte om gesien te word deur mense of om erkenning by mense te geniet.

Tog, in dieselfde gedeelte van die Bergrede, vind ons ook ’n ander belangrike teks wat sê:

“Niemand steek ’n lamp op en sit dit onder ’n maatemmer nie, maar op ’n staander; en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so skyn voor die mense, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” – Matteus 5:15-16

Nou hoe nou?

Die spanning tussen hierdie twee teksverse is interessant: aan die een kant sê Jesus ons moet in die geheim gee, en aan die ander kant sê Hy dat ons lig so helder moet skyn dat mense ons goeie dade sien en God verheerlik. Die sleutel tot hierdie spanning lê in die motief agter ons dade – doen ons dit om onsself te verheerlik of om God te verheerlik?

Ikonografie as metafoor

Die Christelike tradisie van ikonografie kan ons op ‘n manier help om hierdie spanning te verstaan. In die Oosterse Christendom speel ikone ’n belangrike rol in aanbidding. ’n Ikoon is nie net ’n skildery nie, dit is bedoel om ’n venster na God te wees. Wanneer iemand na ’n ikoon kyk, is die doel nie om net die ikoon self te bewonder nie, maar om deur die ikoon na God te kyk. Dit wys verby die voor die hand liggende en verheerlik God. ’n Ikoon is nie ’n afgod nie, maar ’n instrument wat ons aandag van die materiële na die geestelike verskuif.

Dit is ’n nuttige beeld vir ons diensbaarheid en goeie dade. Ons goeie werke behoort soos ’n ikoon te wees – mense mag dit wel sien, maar hulle moet verby ons en die goeie dade kyk en vir God daarin raaksien. Ons dade moet ’n vertoonvenster word waarin ander God se liefde en goedheid kan sien.

Verbeel jou ’n man wat sy hond neem vir ’n lekker stap in die park. Skielik wys hy na die lug waar ’n pragtige voël verbyvlieg. Die hond, egter, staar net na sy oubaas se vinger en verstaan nie dat daar iets groter en mooier is om na te kyk nie. Die hond kyk vir die vinger, en nie waarna die vinger wys nie. Die gevaar is dat ons ons eie “vinger” kan wees. Ons wys op onsself, eerder as op God. Wanneer ons iemand op iets wil wys, kyk ons na die bestemming. Maar as die hond net na die vinger staar en nie waarheen dit wys nie, mis hy die punt. Net so is dit met ons goeie werke – dit gaan nie oor die “vinger” nie, maar oor waarheen ons dade wys.

Deel jou verhaal as dit God verheerlik

Daar is tye wanneer dit gepas is om jou goeie dade met ander te deel. Maar die motief agter die deel is die sleutel. In 2 Korintiërs 10:17 sê Paulus: “Laat hom wat roem, roem in die Here.” As ons ’n storie vertel van hoe ons iemand gehelp het, moet dit nie gaan oor hoe wonderlik ons is nie, maar oor hoe wonderlik God is.

Ons lees in die Bybel hoe Jesus mense genees het, hoe Hy die armes bedien het, hoe Hy siekes gesond gemaak het – hierdie stories is nie vertel om Jesus se ego te streel nie, maar om God se liefde en mag aan ons te openbaar. Jesus se goeie werke was nie bedoel om Sy eie naam groot te maak nie, maar om mense na God te wys. Net so behoort ons stories oor diensbaarheid God se naam groot te maak, nie ons eie nie.

Om jou lig te laat skyn is nie dieselfde as om te spog nie. Wanneer ons ons stories deel, kan dit ander mense inspireer om ook diensbaar te wees, mits dit gedoen word om God te verheerlik. Hebreërs 10:24 sê: “En laat ons mekaar aanmoedig tot liefde en goeie werke.” Ons deel ons om mekaar aan te moedig en te inspireer tot diensbaarheid. Ons laat ons lig skyn, nie om self sigbaar te wees nie, maar om God se lig in die wêreld te weerspieël.

Die teks in Matteus 6 wat sê jou linkerhand moet nie weet wat jou regterhand doen nie, herinner ons aan nederigheid. Dit waarsku ons teen die gevaar van geestelike trots. Ons moet altyd bewus wees van die feit dat ons dade uit liefde en gehoorsaamheid aan God kom, nie om mense te beïndruk nie.

Praktiese wenke vir opregte diensbaarheid

Hoe kan ons hierdie balans in ons eie lewe toepas?

1. Bid vir ’n suiwer hart: Vra God om jou hart te suiwer en jou te wys wat jou motief is wanneer jy goeie werke doen.

2. Gee in die geheim: As jy in die geheim kan gee, doen dit. Dit bou jou afhanklikheid van God en help jou om jou eie ego in toom te hou.

3. Deel jou stories met wysheid: Wanneer jy jou stories van diensbaarheid deel, vra jouself af: “Wie word deur hierdie storie verheerlik?” As die antwoord nie God is nie, dink twee keer.

4. Wees ’n ikoon: Laat jou lewe soos ’n ikoon wees – deur jou goeie dade moet mense God raaksien.

5. Moedig ander aan: Gebruik jou dade as ’n manier om ander aan te moedig om diensbaar te wees. Skep ’n kultuur van liefde en goeie werke.

Die Christelike lewe is een van balans – tussen nederigheid en sigbaarheid, geheimhouding en openbaring. Die sleutel is om ons harte en ons motiewe voortdurend aan God te gee en te vra dat Hy deur ons dade verheerlik sal word. Wanneer ons goeie dade ’n venster na God se liefde word, dan het ons ons doel bereik. Soos Paulus in Kolossense 3:17 sê: “En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”

Dit is die uitnodiging – laat ons ons lig skyn, nie vir ons eie eer nie, maar sodat die wêreld kan sien hoe groot God is.