Grant se storie: “God had other plans for me!”
👤 Wilmi Wheeler
Wanneer jy Bellville se strate instap, sien jy gou die twee werklikhede wat langs mekaar bestaan. Daar’s die gejaagde pendelaars, die koffiewinkels wat soggens die reuk van vars boeretroos die lug instuur, die taxi’s wat toet-toet en haastig mense oplaai. Maar dan is daar ook die ander kant: die man wat sy karretjie vol herwinbare blikkies stoot, die vroue wat op die hoek staan en verleë na elke motor kyk wat verbyry, die kind buite die winkel wat bedel vir kleingeld. Dit is in hierdie “ander” werklikheid dat MES (Mould Empower Serve) sedert 1986 sy plek inneem.

MES se droom is eenvoudig: om die hart van die stad te verander. Nie net deur kos uit te deel nie, nie net deur skuiling te bied nie, maar ook deur waardigheid terug te gee. Om mense wat afgeskryf word deur die samelewing, te help skryf aan hulle storie van hoop.
Ons het dit onlangs weer beleef by die Street Store wat by Bellville-Wes in Junie gehou is. Dis ’n eenvoudige idee, maar kragtig: ’n pop-up klerewinkel vir mense wat andersins nooit die ervaring van self inkopies doen sou hê nie. Hier betaal jy niks nie, maar jy kies self jou klere. Dit bring respek, menswaardigheid en die gevoel dat jy nie net ’n nommer is wat klere “ontvang” nie, maar iemand met smaak, voorkeur en ’n stem.
Een van die “shoppers” wat op daardie dag vir ons uitgestaan het, was Grant.

Grant se storie begin, soos soveel ander, by verlies. ’n Verlies van werk. ’n Verlies van ‘n huis. ’n Verlies van ’n gevoel van sekerheid. Maar gelukkig het dit nie daar vir hom geëindig nie. Hy het vir ons vertel:
“God had other plans for me… He took that abandonment – losing my job, losing my home, to really find my home. It was a spiritual experience. I found a foundation for myself, and it has really been a place that is true to its name: Mould, empower, serve. I look forward to my journey, the next step, and I also learned to be self-aware – living my purpose and living my truth.”
Wat ons tref van Grant se woorde, is dat hy nie net praat van brood of ’n bed nie. Hy praat van ’n nuwe identiteit. MES het vir hom meer as net fisiese hulp gebring, MES het vir hom ’n fondasie gegee. ’n Geleentheid om homself weer te vind, sy stem terug te kry en te ontdek dat God se plan groter is as sy pyn.
Wat maak MES anders?
MES se bediening is holisties. Ja, hulle gee kos en skuiling, maar dit gaan veel verder. Hulle fokus op ontwikkeling en bemagtiging. Dit beteken:
- Noodhulp: kos, skuiling, basiese mediese sorg.
- Werkskepping en opleiding: mense kry die kans om vaardighede te leer, opleiding te ontvang en weer werk te vind.
- Kind- en jeugprogramme: voorkoming begin by die jonger geslag. Hier kry kinders sorg, onderrig en mentorskap.
- Geestelike en emosionele begeleiding: daar word ook gekyk na die mense se spirituele en emosionele behoeftes.
Die resultaat? Mense soos Grant wat kan sê: “Nou leef ek my doel en ek leef my waarheid.”

Waar kom gemeentes in?
Wanneer mens dink aan MES, kom die beeld van die vroeë kerk in Handelinge 2 na vore: “Hulle het alles met mekaar gedeel… daar was nie ’n behoeftige onder hulle nie.” MES leef presies hierdie roeping uit in ons moderne konteks.
Maar hulle kan dit nie alleen doen nie. Hulle is ’n organisasie sonder winsbejag wat afhanklik is van vennootskappe en dis juis hier waar gemeentes ’n sleutelrol speel.
Gemeentes kan:
- Finansieel bydra – deur ’n maandelikse skenking of fondsinsameling kan jy help om MES se waardevolle programme aan die gang te hou.
- Vrywilligers stuur – gemeentelede kan betrokke raak, hetsy deur kos te bedien, mentorskap te bied of eenvoudig daar te wees vir geselskap.
- Bewustheid kweek – praat in eredienste, by kleingroepe en by gemeentegeleenthede oor die werk wat MES doen.
- Praktiese hulp bied – skenkings van klere, komberse, kos of selfs professionele vaardighede soos onderrig, mediese hulp of regshulp sal nooit van die hand gewys word nie!
Gemeentes vra geduring: Hoe kan ons werklik ’n verskil maak in ons dorp/stad? MES is reeds daar, op die grond, waar die nood die hoogste is. Deur jou gemeente se hande en harte te verbind met hulle, bou ons saam aan ’n stad waar almal gesien en gehoor word.
’n Uitnodiging: Elke Grant het ‘n naam
Wanneer jy Grant hoor praat, besef jy gou: niemand het ooit te ver afgedwaal om nie weer huis toe te kom nie. Soms neem dit net ’n plek soos MES om daardie deur oop te maak.
Wat as ons gemeentes hierdie visie begin sien as deel van ons roeping? Wat as ons nie net die evangelie verkondig nie, maar dit ook beliggaam deur ons dade?
Grant het ons herinner dat die evangelie altyd sigbaar en tasbaar was. Jesus self het brood gebreek, mense aangeraak en uitgereik na die randfigure. MES doen dieselfde en hulle nooi gemeentes om saam met hulle te stap.
Mag ons die hart van ons stad laat klop met hoop, met genade en met die wete dat elke Grant ’n naam het, ’n storie het en ’n toekoms het.


