Groei is vrede en vrede is groei
👤 Barnard Steyn
Ek onthou nog die dag in Pearston. ‘n Ou boer met hande vol stories en oë wat al baie goed en sleg gesien het, staan by sy deur en wag vir my. Ek was skaars binne toe hy sê dat hy vandag vir my iets wil leer. “Daar is drie goed wat ‘n mens nodig het vir ‘n gelukkige lewe.” En toe vertel hy:
Iets om te doen. Iemand om lief te hê. Iets om na uit te sien.
Dit het so eenvoudig geklink, maar ek kon dit nie vergeet nie. Jare later lees ek êrens dis eintlik Immanuel Kant se woorde, maar daardie dag op die stoep het dit vir my geklink soos iets wat reguit uit die Psalms moes kom.
En dit doen! Veral as jy weer Psalm 128 lees. Dis nie een van daardie Psalms wat groot vrae vra nie – dis net ‘n prentjie van ‘n lewe waar daar werk is, waar daar mense is om van te hou, waar daar kinders grootword en waar jy nog kan uitsien na môre. “Mag jy die voorspoed van Jerusalem aanskou,” staan daar. Uitsien. Hoop. Verwagting.
Maar hoe praat ‘n mens vandag nog daaroor? Hoe sien jy uit na iets beters as jy kyk na wat rondom jou aangaan?
Ons weet mos hoe dinge lyk. Ons hoor dit elke dag – die rusie en die twis, die verdeeldheid en die geweld, die onreg wat net bly voortgaan. Rassisme. Xenofobie. Vroue en kinders wat nie veilig is nie. Armoede wat té diep sny. Ek was self verbaas hoe maklik al hierdie woorde by my kom aanmeld het toe ek begin dink het.
En tog. Ons hou aan probeer. Ons steek ‘n vredeskers aan en gee dit vir mekaar aan. Ons bid steeds om vrede, ons praat daaroor, ons probeer dit in ons klein hoekies van die wêreld uitleef. Dona nobis pacem – Here, gee ons vrede. Nie omdat dit maklik is nie, maar omdat ons glo in die Een wat vrede bring.
Ek het in 1994 vir die Vredesekretariaat gewerk. Jy onthou dalk die blou-en-wit duiwe wat oral was. Ons het soveel gepraat oor wat vrede eintlik beteken. Ek was toe nog jonk en vol slim teologie, en het gedink: vrede met God, vrede met mekaar, die afwesigheid van al die slegte goed waarvan die wêreld vol is – dít is vrede.
Maar iemand het toe iets gesê wat by my vasgesteek het: groei is vrede (en vrede is groei). Dis nie dat jy altyd aan die gang moet wees nie. Jy word moeg, jy het rus nodig, jy moet soms net stilsit en asemhaal. Maar as dit te lank aanhou, merk jy mos iets is nie reg nie. Jy voel verveeld. Afgestomp. Iets in jou raak droog en dood. Dis hoekom ‘n mens iets nodig het om te doen. Nie net besig wees nie, maar iets wat jou laat groei. Nuwe uitdagings. Nuwe betekenis in jou werk. Beweging.
En dit geld ook vir daardie tweede ding i iemand om lief te hê. Liefde is nie net ‘n gevoel wat jou oorval en dan bly dit so nie. Dis werk. Die huwelik is werk. Kinders grootmaak is werk. Vriendskap is werk. Selfs daardie vyandsliefde waarvan Jesus praat, bly werk. En dit vra ook groei – om jouself beter te leer ken, om te vergewe, om weer kwesbaar te wees al het jy soveel maal seergekry.
En dan die derde een: iets om na uit te sien. Waarvoor staan jy soggens op? Waarop hoop jy vir jouself, vir jou kinders, vir hierdie land waarin ons soms so moeg voel? Om te hoop, om te droom, om steeds te glo dinge kan beter word – dis so diep deel van ons as mense. Daar móét iets wees. Al is dit net een gesprek wat jy verwag, een klein ding wat jy wil reggekry, een tree vorentoe.
Psalm 128 sê dit vir my weer: groei is vrede.
Maar ons weet mos, groei is nie ‘n reguit lyn nie. Daar’s tye wanneer jy vassteek. Wanneer dit voel of jy teruggaan. Wanneer alles net dood voel. Wat maak jy dan?
Die hart van die Christelike boodskap sê vir my: daar is lewe anderkant doodsheid. Daar kom weer beweging. Daar kom weer asem. Weer iets om te doen. Weer iemand om lief te hê. Weer iets om na uit te sien. Selfs as dit nou vir ‘n ruk lyk of niks beweeg nie. Miskien is vrede nie altyd net die afwesigheid van konflik nie. Miskien is vrede soms net die moed om weer te begin groei.
Here, skenk ons vrede. Dona nobis pacem. Amen.


